Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Dawie Roodt: Waarom jy (nie) vir die DA moet stem

Die verkiesing is om die draai en in die vorige Libertyn het ek die ANC bespreek. Vandag is dit die DA en die EFF, en van die kleiner partye sal later volg.

Dawie Roodt

Ek ontleed ’n party aan die hand van sy prestasielys, die gehalte van sy leierskap en sy beleid, soos vervat in die party se manifes.

Die DA – die enigste party buiten die ANC wat ’n noemenswaardige prestasielys het – troon uit bo die ANC wat betref dienslewering en skoon en doeltreffende administrasie – sowel provinsiaal as plaaslik.

Daar is goggas, maar die DA vertoon oor die algemeen goed wanneer dit by sy prestasiegeskiedenis kom.

Die DA-leiers lyk goed vergeleke met dié van die ANC, maar enigiets vertoon goed teen die ANC!

As ek egter die DA-leierskorps op sigself beoordeel, is ek bevrees ek is nie baie beïndruk nie.

Interne struwelinge en die onbeholpenheid waarmee dit gewoonlik hanteer word, dui op swak dissipline en leiding. Die nuwe DA het die ANC se geskiedenis as sy eie begin toeëien. Voormalige ANC-leiers en -helde word deur die DA geëer, terwyl die werklike helde en waardes uit die DA se geskiedenis maklik vergeet word.

Mmusi Maimane, leier van die DA, is te lig in die broek, reken Dawie Roodt.

Nog ’n klad op die DA-leierskorps is die party se beheptheid met ras en die hantering van rassevoorvalle. Hy is so ywerig om sy nierassigheid te bewys dat hy dikwels en veels te gou tot verkeerde gevolgtrekkings kom.

Mmusi Maimane is te lig in die broek om leier van die amptelike opposisie te wees. Sy liberale waardes is onder verdenking. En, soos dikwels gebeur met leiers wat nog nie hul eie waardes behoorlik ontwikkel het nie, raak hy gereeld populistiese twak kwyt.

Hy is ’n aangename mens, maar Maimane as president van die land?

Die DA-beleid klink na ’n lys beloftes. Gwen Ngwenya het as beleidshoof bedank omdat “beleid” nie ontwikkel word nie. (Terloops, ek hou Ngwenya dop as ’n toekomstige politieke leier!)

Nietemin, die DA se (ekonomiese) beleid bevat die gewone retoriek oor werkskepping, korrupsie, ongelykheid, steun vir kleinsake, groei-“stimulering” en dies meer, maar daar is min wat werklik oorspronklik is. Ek hou wel van die standpunt oor die beskerming van private eiendomsreg.

Die teenstand teen die nasionalisering van die Reserwebank, weerstand teen staatsbanke, beskerming van buitelandse beleggings, skrapping van die Mynbouhandves, visum- en sekere arbeidsvoorstelle verdien vermelding.

Die DA bly ook maar skrikkerig om georganiseerde arbeid in die staatsdiens te takel. Verder beplan hy om te veel te doen terwyl die antwoord vir Suid-Afrika minder regering is.

Maar die DA bly ook maar skrikkerig om georganiseerde arbeid in die staatsdiens te takel. Verder beplan hy om te veel te doen terwyl die antwoord vir Suid-Afrika minder regering is.

Dis die halsstarrige verstoktheid oor ras en rassekwotas van die DA wat my die meeste teen die bors stuit.

Julius Malema
“Die EFF belowe ’n soort sosialistiese Nirvana, natuurlik onder die wyse leierskap van Juju.”

EFF, die ANC se weeskind

Die EFF, weeskind van die ANC wat nou groot is, het nie ’n prestasiegeskiedenis nie, maar waar hulle wel deel van koalisies was, was hulle meestal afwesig.

Wat populistiese politieke leierskap betref – veral sy “opperbevelhebber” – het die EFF geen gelyke nie.

Geen ander party kry soveel aandag op homself gevestig nie. Hul rooi oorpakke, ontwrigtings van elke denkbare platform, haatspraak en beledigings kan niemand hulle nadoen nie.

Miskien kan ons sommer na die EFF as Chaveztas verwys, genoem na Hugo Chavez van Venezuela. En ons weet waar Venezuela vandag is...

Die werklike ideologiese onderbou van die EFF is egter onduidelik; dalk is hulle maar net populiste. Maar kommuniste, fasciste, rassiste is alles beskrywings wat by die EFF pas. Of miskien kan ons sommer na die EFF as Chaveztas verwys, genoem na Hugo Chavez van Venezuela. En ons weet waar Venezuela vandag is...

Kortliks kom die EFF se beleid daarop neer dat hy die hele ANC in die tronk gaan gooi, dat die party alles gaan vat by dié wat hom nie steun nie en gaan gee aan dié wat hom wel steun. Die EFF belowe dus ’n soort sosialistiese Nirvana, natuurlik onder die wyse leierskap van Juju.

Oulik in die EFF-manifes is dat die slaagsyfer vir leerlinge opwaarts aangepas gaan word tot 50%.

Die EFF is ’n spul gevaarlike harlekyne. Bly weg!

  • Dawie Roodt is hoofekonoom van die Efficient Group.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.