Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Dawie Roodt: Waarom ons nie die IMF nodig het

Sedert die skrywer R.W. Johnson ’n tyd gelede voorspel het dat Suid-Afrika weldra geen keuse sal hê as om by die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) vir ’n lening aan te klop nie, het heelwat ander ontleders dit ook begin voorspel.

Dawie Roodt

Ek stem nie saam nie.

Die IMF het in 1945 tot stand gekom. Sy primêre funksie was aanvanklik om lande te help met die bestuur van die wisselkoers van hul geldeenhede. Van 1945 tot 1971 het die wêreld grootliks ’n stelsel gevolg waar geldeenhede se wisselkoers teen sekere vlakke konstant gehou is.

Maar ná 1971, toe Amerika se pres. Richard Nixon van die goudstandaard “afgestap” het, was die wisselkoers van geldeenhede meestal swewend. Sedertdien het die primêre funksie van die IMF verander. Vandag verskaf hy meestal lenings aan lande wat betalingsbalansprobleme ondervind.

’n Betalingsbalans-“probleem” ontstaan tipies wanneer ’n land lenings wat in buitelandse valuta gedenomineer is, moet terugbetaal, of waar ’n land vir invoergoedere moet betaal en nie genoeg buitelandse valuta daarvoor het nie. Die IMF sal onder sulke omstandighede en onder streng voorwaardes lenings in buitelandse valuta aan ’n land beskikbaar stel.

’n IMF-lening kan nie gebruik kan word om byvoorbeeld staatsamptenare se salarisse te betaal nie. Afgesien daarvan dat die IMF dit nie sal toelaat nie, leen die IMF tipies Amerikaanse dollar aan ’n land. IMF-lenings kan dus slegs vir transaksies gebruik word wat met die buiteland verband hou, soos die afbetaal van bestaande buitelandse lenings en vir invoergoedere.

Terloops, die laaste keer dat Suid-Afrika van ’n IMF-lening gebruik gemaak het, was toe dr. Chris Stals nog president van die Reserwebank was. Daardie lening is aangegaan om mielies in te voer en Suid-Afrika se totale reserwes was toe ’n fraksie van wat dit vandag is.

Ons is wel baie diep in die moeilikheid en die wanbestuur van die regering het ons nou uiteindelik ingehaal.

Ons is wel baie diep in die moeilikheid en die wanbestuur van die regering het ons nou uiteindelik ingehaal, maar die staat se skuld is meestal in rand gedenomineer en nie in buitelandse valuta nie.

Die staat se totale uitstaande skuld staan vandag op rekordvlakke en elke week word die berg uitstaande skuld hoër. As persentasie van die bruto binnelandse produk is die staat se uitstaande skuld nou gelyk aan sowat 58%, en dit sluit nie eens die skuld van parasiet-instellings soos Eskom in nie!

Tensy ’n klein wonderwerkie gebeur, is dit bykans onmoontlik vir die staat om uit hierdie skuldspiraal te ontsnap. Die enigste realistiese oplossing is dat die staat sy uitgawes dramaties inkort deur werkers af te lê of salarisse te bevries, maar ons weet reeds hoe Cosatu gaan reageer indien ’n spul onproduktiewe staatsamptenare ontslaan word.

Maar daar is wel ’n klein ligpuntjie, soort van. Die totale uitstaande bruto skuld van die staat (uitgesluit Eskom en die ander bankrottes) is sowat R2 800 miljard. Hiervan is R290 miljard, of net meer as 10% van die totaal, lenings wat in buitelandse valuta aangegaan is – meestal in Amerikaanse dollar.

Hierdie verskillende staatslenings in buitelandse valuta moet oor die volgende 20 jaar afbetaal word, waarvan redelike groot bedrae – $2 miljard (tans gelyk aan R30 miljard) eers in 2025-’26 en 2028-’29 terugbetaal moet word. Oor die volgende klompie jare moet relatief klein bedrae terugbetaal word.

Ons kan belastingverhogings, voorgeskrewe bates vir onder meer pensioenfondse en verdere druk op die Reserwebank om geld te ‘druk’, verwag.

Intussen hou die Reserwebank sowat R700 miljard in buitelandse reserwes (waarvan R80 miljard in goud). Kragtens ooreenkomste tussen die Reserwebank en die tesourie kan hierdie reserwes gewoonlik slegs aangewend word om die buitelandse lenings van die staat terug te betaal wanneer dit verval.

Dus, daar is meer as genoeg reserwes by die Reserwebank om al die staat se buitelandse lenings dadelik af te betaal – wat natuurlik nie dadelik nodig is nie.

Maar dit is nie al nie. Banke is self baie aktief betrokke in die neem (deposito’s) en uitleen van buitelands-gedenomineerde geld. In totaal het Suid-Afrikaanse banke sowat R200 miljard meer buitelands-gedenomineerde bates (lenings) as buitelands-gedenomineerde deposito’s.

In totaal het die Reserwebank en die banke dus toegang tot ongeveer R1 000 miljard in die vorm van buitelandse valuta.

Dit beteken natuurlik nie dat Suid-Afrika eenvoudig en maklik alle moontlike kapitaaluitvloei uit die land kan finansier nie. Buitelanders besit baie rand-gedenomineerde likiede bates soos staatseffekte en aandele in Suid-Afrika. Verder het Suid-Afrika gewoonlik ’n tekort op sy lopende rekening, wat beteken die land “verloor” voortdurend buitelandse valuta.

Indien ’n groot aantal buitelanders sou besluit om hul likiede bates in Suid-Afrika te verkoop, sal dit ongetwyfeld baie probleme veroorsaak. Omdat die Reserwebank ’n beleid volg wat buitelanders toelaat om redelik vry kapitaal in en uit die land te neem, sal die rand-wisselkoers skerp verswak indien buitelanders byvoorbeeld op groot skaal sou besluit om rand-gedenomineerde staatseffekte te verkoop – presies wat onlangs gebeur het.

Tensy die Reserwebank sou besluit om aktief die rand te beskerm deur buitelandse reserwes te verkoop en rand te koop – wat nie die geval is nie – sal ’n verswakkende rand-wisselkoers dien as ’n skokbreker ten tyde van groot kapitaaluitvloei.

Ons is wel baie diep in ’n skuldmoeras, maar dit is meestal skuld in rand. Daarom kan ons belastingverhogings, voorgeskrewe bates vir onder meer pensioenfondse en verdere druk op die Reserwebank om geld te “druk”, verwag.

’n IMF-lening kan wel gebruik word as ’n verskoning om sekere strukturele veranderings deur te druk. Maar in soverre dit gaan oor die terugbetaal van geskeduleerde buitelandse lenings, het Suid-Afrika meer as genoeg buitelandse reserwes en sal ’n IMF-lening nie nodig wees nie.

  • Dawie Roodt is die hoofekonoom van Efficient Group en ’n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-wedstryd.
Meer oor:  Imf  |  Dawie Roodt  |  Ekonomie  |  Rand  |  Staatskuld  |  Dollar  |  Sakesiening  |  Staatseffekte  |  Voorgeskrewe Bates  |  Wisselkoers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.