Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Dawie Roodt: Wat gedoen kan word aan ongelykheid
Dawie Roodt

Volgens ’n onlangse verslag van die Wêreldbank is Suid-Afrika se inkomsteverdeling die ongelykste in die wêreld. Dit beteken dat daar min mense is wat baie verdien en dat daar baie mense is wat min of niks verdien nie.

Hoewel ras steeds die belangrikste bepaler is van iemand se inkomste, speel sy werkstatus ’n al hoe groter rol. Met “werkstatus” word twee dinge bedoel: of jy werk het, en die soort werk wat jy doen.

Veral sedert 1995 het die gaping in inkomste tussen mense met werk skerp toegeneem, hoofsaaklik weens die verskil in vaardighede.

Mense met vaardighede se inkomste styg teen ’n baie vinniger tempo as dié van diegene wat wel werk het, maar nie gesogte vaardighede nie.

Daar is ’n klompie redes daarvoor, soos dat ons nie almal uit huise kom waar vaardigheidsontwikkeling aangemoedig word nie, of ons het nie almal toegang tot dieselfde hulpbronne en sosiale strukture nie, asook historiese redes en dies meer.

Maar daar is ’n belangriker rede vir ons toenemende vlakke van ongelykheid: onderwys – die gehalte van ons onderwys, veral op primêre vlak. In talle studies is al uitgewys dat die standaard van ons primêre onderwys van die swakste (soms die swakste) wêreldwyd is. En dit is ten spyte daarvan dat ons baie meer aan onderwys bestee as die meeste ander lande.

Maar ’n ander verskynsel raak al hoe prominenter. Veral onder die swart gemeenskap, waar die meeste armoede en werkloosheid steeds voorkom, neem die inkomsteverskille baie skerp toe. Dit is deels as gevolg van die groeiende suksesvolle swart middelklas én die staatsdiens waar amptenare baie meer as hul eweknieë in die private sektor verdien.

Politici is natuurlik baie bewus van die toename in ongelykheid en die gevolglike toename in “sosiale spanning”. Terloops, ek is nie oortuig nie; solank die armes (goeie) vordering maak, dink ek nie ongelykheid is ’n probleem nie.

Ons moet begin waar dit werklik saak maak: om die gehalte van ons onderwysstelsel dramaties te verbeter.
Dawie Roodt

Nietemin, die eerste ding wat politici doen, is om van die “rykes” te vat (belas) en aan die armes te gee ten einde ongelykheid aan te pak. Maar al is Suid-Afrika se fiskus die mees herverdelende een in die wêreld, het ongelykheid sedert 1995 toegeneem!

Nou word selfs meer radikale voorstelle gemaak soos om uiteindelik ook ’n rykdombelasting in Suid-Afrika in te stel – maar weer eens sal dit onsuksesvol wees.

En daar is voorstelle dat die staat (ryk) mense se bates moet steel sonder vergoeding.

Sulke voorstelle het nie in die verlede gewerk nie en sal ook nie in die toekoms werk nie.

Ons moet ophou om suksesvolle entrepreneurs te ondermyn deur hulle te veel te belas. Belangriker, ons moet begin waar dit werklik saak maak: om die gehalte van ons onderwysstelsel dramaties te verbeter.

Sorg dat mense die geleentheid kry om hul vaardighede te verbeter met behulp van ’n wêreldklas-onderwysstelsel.

Nie net is vaardighede die sleutel tot ’n werk nie, vaardighede is ook die sleutel tot ’n goeie werk.

Dit sal ongelykheid verminder!

  • Dawie Roodt is die hoofekonoom van die Efficient-Groep. dawieroodt@efgroup.co.za
Meer oor:  Dawie Roodt  |  Werkloosheid  |  Ongelykheid  |  Wêreldbank  |  Belasting  |  Armoede  |  Onderwys  |  Minimum Loon  |  Werkskepping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.