Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Debat kan voortgaan, maar NGV móét kom, sê Zweli

Almal moet besef Suid-Afrika is “agter die tyd” wat Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) betref.

“Ander lande wonder hoekom Suid-Afrika dit nog nie ingestel het nie,” het Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Vrydag gesê.

Van links op die ANC se PBF-ontbytbespreking oor die staatsrede was Paul Mashatile, ANC-sekretaris-generaal, Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Enoch Godongwana, hoof van ekonomiese transformasie by die ANC, en Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme.Foto: Francois Williams

In die openbare sittings oor die NGV het die meeste mense dit oorweldigend gesteun, het hy op ’n ontbytgeleentheid gesê van die ANC se Progressive Business Forum (PBF) om pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede te bespreek.

Mkhize gee toe mense is baie bang oor die moontlikheid van korrupsie met die NGV.

“Hulle vrees korrupsie by die NGV nie omdat dit al gebeur het nie, maar omdat hulle dit by Eskom gesien het.”

Provinsiale LUR’e van gesondheid is op besoek geneem na lande waar ’n stelsel van nasionale gesondheidsversekering reeds ingestel is, soos Brittanje, Turkye en Thailand.

Die debat kan voortgaan, maar die NGV móét ingestel word, sê Mkhize.

Tot 43 miljoen mense is al geregistreer op die regering se gesondheidsdatabasis. Daar is nog net sowat 18 miljoen mense wat geregistreer moet word.

Die NGV gaan mense laat voel hulle is gelyk, terwyl die huidige stelsel hulle ongelyk laat voel, want dis net die minderheid mense, dié met mediese fondse, wat goeie gesondheidsorg kan bekostig, sê hy.

Die regering sal met private hospitale moet onderhandel om pryse te verlaag.

“Pryse is tans te hoog, maar ons kan vir hulle volumes bring sodat pryse kan verlaag.”

Enoch Godongwana, hoof van die ANC se beleidskomitee oor ekonomiese transformasie, het op die ontbyt gesê Ramaphosa het die ekonomiese uitdagings van die land goed in sy staatsrede opgesom.

Die kragkrisis op sy eie dra baie by tot die uitdagings in die ekonomie, sê hy. Dis hoekom Ramaphosa Eskom se uitdagings aanpak.

Volgens Godongwana is daar ook goeie, konkrete voorstelle gedoen om werkloosheid onder die jeug te verminder en met die Afrika-vryhandelsooreenkoms.

Die vraag is wat sakeondernemings kan doen om die geleenthede hierin aan te gryp.

Nog ’n belangrike aankondiging is volgens hom die stigting van ’n spesiale eenheid om die boubedryf te laat herleef, veral wat misdaad betref.

Oor waar die geld vir al dié planne vandaan gaan kom, dink Godongwana die fokus is om besteding te herprioritiseer.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme, stem saam en sê die nuwe mediumtermyn-bestedingsraamwerk van vyf jaar wat in die nuwe boekjaar begin, fokus juis daarop om die klem van besteding na onder meer die jeug te skuif.

Oor ’n nuwe toerismefonds wat Ramaphosa aangekondig het, sê Kubayi-Ngubane daar was klagtes oor die bestaande fonds waaruit toerismeondernemings geld kon kry om uit te brei. Tans het steun vir uitbreiding bestaan uit ’n bedrag waarvan 60% ’n lening was en 40% ’n toekenning van die regering. Die probleem was egter dat dit net vir uitbreiding was en nie vir mense wat van nuuts af ’n onderneming wil begin nie. Mense sal nou vir ’n lening kan aansoek doen by die Nywerheidsontwikkelingskorporasie en die regering sal dan ’n deel van die bedrag toestaan om die entrepreneur se skuldlas ligter te maak.

Kubayi-Ngubane sê daar is nog te min vroue en te min transformasie in eienaarskap en besluitneming in die toerismebedryf.

Paul Mashatile, sekretaris-generaal van die ANC en leier van die PBF, ontken dat daar onenigheid in die ANC is.

“Daar is nie ’n probleem nie, ons trek saam.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.