Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Denel: Guptas pantser voort
’n Badger-pantservoertuig. Foto: deaan vivier

Denel druk nie net deur met sy omstrede Gupta-vennootskap nie – dit blyk nou die Guptas het reeds ’n ander ooreenkoms vir ’n stewige wins beklink.

Netwerk24 kan vandag onthul dat Denel die kontrak vir die sny van staal vir die weermag se nuwe gevegsvoertuie aan VR Laser toegeken het.

Kamal Kant Singhala (24), Ajay Gupta se oudste seun, is ’n direkteur van VR Laser.

Die kontrak om 238 Badger-voertuie vir R10 miljard te lewer, Projek Hoefyster, is in November 2013 aan Denel toegeken.

Pam Malinda, woordvoerder van Denel, het by navraag bevestig dat Denel Voertuigstelsels (DVS) aan die Oos-Rand net die bou van die voertuie gaan behartig terwyl VR Laser die staalsnywerk gaan doen. Die maatskappy is ’n spesialis op dié gebied, sê hy.

“Al die voorgeskrewe prosesse is gevolg om die kontrakte toe te ken.”

Beswaarlik ’n maand nadat die kontrak in 2013 aan Denel toegeken is, het Salim Essa, ’n vennoot van die Guptas, ’n direkteur van VR Laser geword.

Enkele maande daarna het Essa VR Laser Asia in Hongkong geregistreer. Dit is dié maatskappy wat einde Januarie ook ’n gesamentlike onderneming met Denel Asia in Hongkong geregistreer het.

Die koue oorlog tussen Denel en Pravin Gordhan, minister van finansies, het die afgelope week voortgewoed. ’n Salvo deur Gordhan en sy bevinding dat die ooreenkoms onwettig is weens ’n gebrek aan goedkeuring van die tesourie, is stram deur Denel beantwoord.

Die koue oorlog tussen Denel en Pravin Gordhan, minister van finansies, het die afgelope week voortgewoed. ’n Salvo deur Gordhan en sy bevinding dat die ooreenkoms onwettig is weens ’n gebrek aan goedkeuring van die tesourie, is stram deur Denel beantwoord.

Vuyelwa Qinga, woordvoerder van Denel, het Gordhan se tirade as ’n “misverstand” bestempel wat binnekort uitgestryk sal wees.

Die gesamentlike onderneming met die Gupta-maatskappy gaan dus voort, aldus Denel.

Die toekenning van die Hoefyster-kontrak wat nou aan die lig kom, kwel werknemers van DVS, wat tans deur ’n herstruktureringsproses gaan omdat daar nie genoeg werk is nie.

Tog word ’n buitemaatskappy nou ingebring om die gevegsvoertuie te help vervaardig.

DVS is juis ’n warm patat omdat dit vroeër jare aan Denel behoort het, maar aan BAE Systems verkoop is. Toe BAE Systems ’n groot sukses daarvan gemaak het, het Denel dit teen ’n astronomiese bedrag teruggekoop as ’n “strategiese bate”, net om dit nou te herstruktureer tot ’n kleiner maatskappy.

Die betrokkenheid van VR Laser in Suid-Afrika laat wenkbroue lig weens die omstrede gesamentlike onderneming wat in Hongkong geregistreer is.

Sake-Rapport het die afgelope week die registrasiedokumente van dié onderneming bekom.

Die direkteure is die Gupta-kroonprins, Singhala, Denel se waarnemende uitvoerende hoof, Zwelakhe Ntshepe, DVS se uitvoerende hoof, Stephan Burger, en die uitvoerende hoof van VR Laser, Pieter van der Merwe.

Denel Asia het ’n 51%-belang in die gesamentlike onderneming en VR Laser Asia 49%. Essa is die alleen-aandeelhouer van VR Laser Asia.

Die Guptas se sakeweb is wyd. Singhala was drie jaar gelede, toe hy skaars mondig was, ’n mededirekteur van Anil Kumar Gupta in ’n onderneming in die Gupta-familie se tuisdorp in Indië, Saharanpur.

Anil Kumar Gupta is ’n provinsiale minister van Uttarakhand in Indië en dis sy dogter Vega wat in 2013 by Sun City getrou het nadat die Gupta-vliegtuig vol gaste op die Waterkloof-lugmagbasis geland het.

Shaun Liebenberg, voormalige uitvoerende hoof van Denel wat destyds aan die stuur van die regrukplan was, sê die afleiding wat hy uit die registrasiedokumente vir Denel Asia maak, is dat twee van Denel se mees senior amptenare elektronies hulself as direkteure van die vennootskap met VR Laser in Hongkong geregistreer het.

“Ek glo hulle het ’n rol gespeel in die onderhandelings oor die vennootskap. Tensy die twee dit alles op eie inisiatief gedoen het (wat ek betwyfel), glo ek iemand in Denel se direksie het die transaksie aangevoer en help bevorder,” sê Liebenberg.

“Terwyl Denel steeds die beherende belang van 51% in dié vennootskap behou, sal daar in werklikheid miljoene rande aan kommissie aan ‘bemarkers’ en ‘agente’ in Asië uitbetaal word. Dít sal die vennootskap se winste aansienlik laat krimp.

“Denel sal dus tegnies die beherende belang hê, terwyl VR Laser se agente die winste sal skep. Ek reken dit kan Denel se reële wins tot selfs net 20% laat krimp.”

  • Bykomende verslaggewing: Hindustan Times.


Meer oor:  Denel  |  Vr Laser  |  Guptas  |  Pravin ­Gordhan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.