Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Departement van water: ‘Dinge stort hier in duie’
Themba Godi, voorsitter van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge.

Die departement van water en sanitasie is so “wanfunksioneel” en “onverantwoordbaar” dat parlementslede die afgelope week gesê het dié departement het in duie gestort.

“Ek dink nie ons het meer ’n departement nie,” het Themba Godi, voorsitter van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor), gesê. “Die departement is vir alle praktiese doeleindes vernietig.”

Die waarnemende direkteur-generaal van die departement, Sifiso Mkhize, en ander amptenare moes Dinsdag vrae van komiteelede beantwoord oor geld wat deur die departement verkwis is.

Die departement het luidens sy jaarverslag in die 2016-’17-boekjaar betalings van altesame R715 miljoen gemaak wat nie voldoen aan die Wet op Openbare Finansiële Bestuur nie.

Komiteelede het gevra vir besonderhede soos presies wie watter uitgawes afgeteken het en wat die gevolge vir hulle was, maar amptenare het net vae antwoorde gegee.

Toe komiteelede aandring op besonderhede het Mkhize gesê: “Ons het dit op kantoor. Ek sal gou my kollegas vra om dit dadelik beskikbaar te maak.”

Hierop het Godi geantwoord: “Maar wat het julle dan gedink gaan ons vandag hier doen?”

Nomvula Mokonyane, voormalige minister van water en sanitasie. Foto: Karabo Rammutla

Dit was nie die eerste keer dat die komitee die amptenare hieroor gevra het nie, maar die derde keer. Die amptenare is al ná twee vorige onproduktiewe vergaderings huis toe gestuur met die opdrag om beter antwoorde te bring.

Hierdie keer het Godi amptenare weer uit die vertrek gestuur sodat komiteelede kon bespreek wat hulle te doen staan.

“Ongelukkig moet ons hulle nou soos kleuterskoolkinders hanteer,” het Veronica Mente, ’n EFF-LP, gesê.

Die tien amptenare het die komiteekamer verlaat.

Toe hulle uit is, het Ezekiel Kekana (ANC-LP) daarop gewys dat die departement sedert 2008 sewe verskillende direkteurs-generaal gehad het en gesê daar is eintlik nie meer ’n departement nie.

“Hierdie amp­tenare is baie ge­slepe. Hulle wil nie antwoord nie, want hulle wil nie hulself betrek nie. Jy kan in hul lyftaal sien hulle steek iets weg.”

Ná ’n bespreking het die komiteelede saamgestem dat hulle waarskynlik geen inligting uit die amptenare getrek gaan kry nie en niks gaan bereik deur die vergadering te laat voortgaan of die amptenare nog ’n keer terug te roep nie.

Pleks daarvan vra Skoor saam met die portefeuljekomitee oor water vir ’n gesamentlike parlementêre ondersoek na die departement.

Godi sê indien dit in die ondersoek uitkom dat daar strafregtelike oortredings was, sal die komitee dit by die owerhede aanmeld.

Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) is ook reeds besig met ’n ondersoek en het reeds inligting aan die nasionale vervolgingsgesag (NVG) oorhandig.

Een van die aanduidings van die benarde posisie waarin die departement homself bevind, is die oortrokke gerief van R2,9 miljard wat hy by die Reserwebank moes kry.

Dít het gebeur, met die tesourie se medewete, ten spyte daarvan dat dit ingevolge die Wet op Openbare Finansiële Bestuur nie mag gebeur nie.

Volgens Leon Basson, die DA se woordvoerder oor water, moes die Reserwebank ingryp omdat die waterhandelsentiteit verlede jaar nie genoeg geld ingesamel het om die Trans-Caledon-tonnel-owerheid se skuld te betaal nie.

Die Trans-Caledon-tonnel-owerheid se skuld word deur die staat gewaarborg, en as dit nie betaal is nie, sou die waarborg in werking tree, wat die staat nie kan bekostig nie.

Verder toon die departement se jaarverslag hy het ’n netto verlies van R89 miljoen gely en sy lopende bates het sy uitgawes met R454 miljoen oorskry.

Godi het ook sy mond uitgespoel oor Nomvula Mokonyane, wat in Maandagaand se kabinet­skommeling as minister van dié departement na die pos van minister van kommunikasie verskuif is. Hy sê sy verdien nie om ’n minister te wees nie.

Rapport het in Januarie berig die departement voorsien ’n watertekort van 17% landwyd teen 2030 as daar nie dringend ingegryp word deur byvoorbeeld nuwe infrastruktuur te bou nie.

Luidens die konsep-nasionale- langtermyn-meesterplan word erken Mokonyane se plan om private belegging in waterinfrastruktuur te lok, werp nie vrugte af nie. Finansiers wil nie geld vir dié departement leen nie.

  • Gugile Nkwinti, voormalige minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, het in Maandag se kabinetskommeling die nuwe minister van water en sanitasie geword, met Mokonyane wat na die departement van kommunikasie oorgeplaas word.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.