Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Depressie dreig: Ekonomie kan 7,2% krimp

Suid-Afrika gaan een van die verloorders wees in ’n wêreldwye resessie wat Tito Mboweni, minister van finansies, sê die grootste “ineenstorting” van per capita-inkomste sedert 1870 gaan wees.

qlfs1904, werkloos, ongelykheid, armoede
’n Werklose jong man sit moedeloos op die strate van Kaapstad. Foto: William Horne

Mboweni het Woensdag in sy spesiale aanpassingsbegrotingsrede gesê Suid-Afrika se ekonomie gaan krimp met meer as wat selfs die groot internasionale instansies verwag het.

Volgens die tesourie word Suid-Afrika in 2020 deur ’n inkrimping van die reële bruto binnelandse produk (BBP) van 7,2% in die gesig gestaar.

Dit is selfs meer as die sowat 6% wat ervaar is tydens die groot resessie van 2009 toe talle ondernemings en individue bankrot gegaan het.

Vir Suid-Afrika is dit in alles behalwe in naam nou ’n depressie.

Luidens data van Bloomberg het die Suid-Afrikaanse ekonomie nog nooit met soveel gekrimp nie. In 1931, midde in die Groot Depressie, het ons BBP met 6,2% gekrimp.

Die tesourie het in Februarie nog verwag dat Suid-Afrika ’n groeikoers van 0,9% vir 2020 kan sien.

Die tesourie se nuwe raming is ook beduidend negatiewer as verskeie instansies.

Moody’s Investors Service het onlangs beraam dat Suid-Afrika se BBP in 2020 met 6,5% sal krimp.

Die konsensusraming onder ekonomie wat aan Beeld se Ekonoom van die Jaar-kompetisie deelneem, was egter 6,54% negatief.

Só lyk die vooruitskattings van ander instansies:
  • Internasionale Monetêre Fonds: -5,8%
  • Fitch: -5,5%
  • Reserwebank: -6,1%

Verskeie ekonome het ook al gewaarsku dat indien die staat van inperking nog te lank duur, kan Suid-Afrika enigiets van -10% tot -30% groei in sy BBP vir die jaar verwag.

En die staat is, ten spyte van sy ongewone negatiewe vooruitsig, geneig om homself met sy groeiverwagtinge van die BBP te misgis.

Volgens navorsing van die Centre for Development and Enterprise (CDE) is die tesourie gewoonlik op gemiddeld uit met sowat 2 tot 3 persentasiepunte – en dit is wanneer ’n ekonomiese krisis nie dreig nie.

Die tesourie bieg dat die ekonomiese vooruitsig waarskynlik verder agteruit kan boer indien die pandemie en sy rampspoedige gevolge nie gou in bedwang gebring word nie.

Volgens die begrotingsraamwerk gaan werkloosheid en investering tuimel in 2020 op die rug van die ekonomie wat in “elke bedryf” tydens die staat van inperking gekrimp het.

Die tesourie sê 9% van ondernemings het alreeds permanent gesluit.

Sonder noemenswaardige buitelandse beleggings kan die ekonomie nie herstel nie, sê Mboweni. En dit sal net gebeur indien Suid-Afrika se risikoprofiel verbeter namate sy skuldvlakke stabiliseer.

Maar volgens ’n konsepdokument wat aan Nedlac voorgelê is, verwag Mboweni dat skuldvlakke op die huidige trajek teen 2025 meer as 100% van die BBP kan bereik.

In sy noodbegroting sê Mboweni egter planne is vasgestel om teen die mediumtermynbegrotingsraamwerk in Oktober ’n strategie van stapel te stuur om te verseker dat skuldvlakke teen 2024 onder 85% van die BBP stabiliseer.

Geen besonderhede is egter verskaf oor hoe die strategie daar uitsien nie.

Dondo Mogajane, direkteur-generaal van die tesourie wat ook Dinsdagmiddag op Mboweni se paneel gedien het, het verwys na Suid-Afrika se skuldkrisis as ’n “seekoei” waarvan die bek toegemaak moet word.

Die oplossing is egter volgens hom nie om die staat se begroting te besnoei nie en ook nie om belasting te verhoog nie, sê hy. Dit is om die ekonomie te laat groei.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.