Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Deregulasie van arbeid sal nie gebeur – minister

Die tesourie se nuwe ekonomiese plan vir die land blyk krake in die kabinet te veroorsaak.

Thulas Nxesi
Thulas Nxesi Foto: Daily Sun

Thulas Nxesi, minister van indiensneming en arbeid, het Woensdag gesê die arbeidsmark sal nié gereguleer word nie.

Onder die voorstelle in die ekonomiese beleid wat Tito Mboweni, minister van finansies, einde Augustus uitgereik het, is dat sekere klein ondernemings outomaties van bedingingsraadbesluite en die minimum loon kwytgestel moet word. Tans moet hulle aansoek doen om kwytskelding.

Nxesi sê die fokus sal eerder net sover gaan as om rompslomp te verminder ten einde bestaande werkers se regte, “waarvoor hulle oor dekades geveg het”, te beskerm.

Nxesi het by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) se derde jaarlikse konferensie met winkeleienaars en vakbonde Donderdag in Midrand gepraat.

Nxesi se departement het met pres. Cyril Ramaphosa se kabinetsverandering in Mei die nuwe titel gekry wat die klem op werkskepping plaas.

Volgens talle ontleders was dié stap eienaardig, omdat die belange van arbeid en indiensneming in ’n land met ’n werkloosheidskoers van 29% eintlik teenstrydig is.

Nxesi het gesê ondanks die uitgebreide mandaat van die departement ten opsigte van indiensneming en arbeid, sal die departement voortgaan om goeie werksomstandighede en gesonde bedryfsverhoudinge te bevorder.

Hy het die wesenlike rol wat die departement speel om ’n stabiele arbeidsmark te skep wat op sy beurt bevorderlik is vir beleggings, groei en indiensneming, beklemtoon.

“Maar ons moedig wel betrokkenheid van die sakesektor aan om te sien waar rompslomp verwyder en burokrasie uitgeskakel kan word om die koste van sake doen te verminder,” het Nxesi gesê. “Dit is in ons belang.”

Die departement is tans besig met ’n ondersoek na die uitwerking van die nasionale minimum loon op indiensneming. Die minimum loon van R20 per uur of R3 500 per maand is in Januarie in werking gestel en daar is wyd gevrees dat dit tot afleggings sou lei.

Suid-Afrika se werkloosheidskoers het wel ’n rekordhoogtepunt van 29% gehaal, maar die formele sektor het steeds werk geskep.

Nxesi sê die uitslag van die navorsing sal ’n nasionale debat oor die minimum loon hervat, maar dit sal nou op “bewyse” gegrond wees. Die departement het geen illusie dat die minimum loon van R20 per uur armoede sal beëindig nie.

“Maar ek glo dat dit belangrik is om die beginsel van minimum standaarde vas te stel as deel van ons stryd om ordentlike werk te bevorder,” sê hy.

Meer oor:  Thulas Nxesi  |  Indiensneming  |  Minimum Loon  |  Werkskepping  |  Arbeidswette
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.