Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Dié 15 sakestories maak nuus in 2020

Die sakewêreld moes in 2020 behoorlik bontstaan weens die impak van die Covid-19-pandemie. Hoewel die pandemie ongetwyfeld die nuus oorheers het, was daar ook ander groot sakestories deur die loop van die jaar. Hier is ’n terugblik op 15 van die grootste sakestories van die jaar.

    

1. Eskom

Eskom se hoofkantoor in Sunninghill, Johannesburg. Foto: Bloomberg

In 2020 het Suid-Afrikaners verskeie kere deurgeloop onder beurtkrag. Daar was veral in Maart en weer in Julie dae aaneen wat groot dele van die land sonder krag gesit het.

In Oktober het Eskom aangekondig dat hy ’n enorme verlies van R20,5 miljard gely het vir die jaar tot einde Maart. Hy waarsku ook dat dié verlies in die huidige boekjaar tot R26 miljard kan styg.

Een van die stappe wat die maatskappy gedoen het om koste onder beheer te kry, was om stelselmatig sy werkmag te verklein. Dit het in November aan die lig gekom dat die nutsmaatskappy die afgelope twee jaar, sy werkmag met 8,2% of 3 923 mense verminder het.

Eskom het in die jaar ook sentraal gestaan in ’n paar ander stories.

Nie net het hy besluit om R3,8 miljard te eis van 12 mense wat na bewering betrokke was by ongerymdhede toe die Guptas die Optimum-steenkoolmyn gekoop het nie, maar hy het ook verskeie munisipaliteite se bankrekeninge laat bevries omdat hulle hom miljoene rande skuld.

    

2. Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL)

Die SAL was bykans net so gereeld in die nuus as Eskom.

Die regering het ingestem om R10,5 miljard vir die SAL te gee om die lugdiens weer in bedryf te stel. Foto: Bloomberg

Die groot fokus vanjaar was die sakereddingsplan vir die SAL en waar die geld vandaan gaan kom om die plan tot uitvoering te bring.

Die pandemie het verdere druk op die SAL geplaas toe reis wêreldwyd ingeperk is in ’n poging om die koronavirus onder beheer te bring.

Krediteure het op 14 Julie ten gunste van die  sakereddingsplan gestem. Een van die voorwaardes is dat die staat R10,5 miljard beskikbaar moet stel vir die SAL. Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het herhaaldelik beloof dat die geld “op pad” is. Die DA het telkemale ’n beroep op die regering gedoen om nie nog ’n reddingsboei vir die SAL te gee nie.

Tito Mboweni, minister van finansies, het in Oktober aangekondig dat die staat die geld vir die SAL gaan gee. Daar was teen vroeg Desember egter steeds geen teken daarvan nie.

    

3. Rommelstatus

Moody’s Investors Service het Suid-Afrika in Maart tot rommelstatus afgegradeer en nof verder in November. Foto: Reuters

Moody’s Investors Service het Suid-Afrika in Maart, ná drie jaar van begenadiging tot rommelstatus afgegradeer.

Die afgradering  was kort voordat die land se ekonomie bykans tot stilstand gekom het weens die pandemie.

Die kredietgraderingsagentskap het ook nie op hom laat wag om Suid-Afrika in November vir ’n tweede keer  in een jaar af te gradeer tot dieper onder beleggingsgraad nie.

Fitch Ratings het die land se skuld ook in November verder afgegradeer.

    

4. Olieprys

Op 20 April was die West Texas Intermediate (WTI)-olieprys in Amerika vir die eerste keer in die geskiedenis negatief. Dit beteken dat olieprodusente kopers betaal het om dié hulpbron by hulle te koop uit vrees dat hulle nie bergingsplek daarvoor gaan hê nie.

Oliepryse het in Maart weens die Covid-19-pandemie tot geskiedkundige laagtepunte gedaal . Foto: Reuters

Die prys van Brent-ruolie het vanjaar in ’n stadium tot $22 per vat gedaal.

Die twee groot redes vir die ineenstorting was dat die vraag na olie skielik opgedroog het soos wat reise wêreldwyd verbied is weens die pandemie.

Die prysoorlog tussen Saoedi-Arabië en Rusland aan die een kant en Amerika aan die ander kant het ook bygedra tot ’n ooraanbod wat die prys selfs verder afgedruk het.

    

5. Clicks

Die kleinhandelaar Clicks het erg deurgeloop oor ’n sjampoo-advertensie. Foto: Reuters

Vroeg in September het die kleinhandelaar Clicks diep in die sop beland omdat ’n advertensie op sy webtuiste  die natuurlike hare van ’n swart vrou as “droog en beskadig” beskryf het en die hare van ’n wit vrou as “fyn en glad”.

Die herrie het tot betogings by Clicks se winkels gelei en die kleinhandelaar moes TREsemmé, die sjampoe wat geadverteer is, se produkte van sy rakke verwyder het.

Unilever, die internasionale maatskappy wat die produk besit, het later belowe om met die departement van kleinsakeontwikkeling saam te werk om onder meer swart haarstiliste te ondersteun.

    

6. Dudu Myeni

Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die SAL. Foto: Argief

Ná ’n lang hofstryd is Dudu Myeni, die voormalige voorsitter van die SAL, in Mei tot ’n misdadige direkteur  ingevolge die Maatskappywet verklaar.

Die uitspraak in die hooggeregshof in Pretoria spruit uit ’n hofaansoek wat deur die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) en die Suid-Afrikaanse Vlieëniersvereniging (Saapa) teen Myeni gebring is vir die rol wat sy in die agteruitgang van die SAL gespeel het.

Myeni het egter nie die uitspraak aanvaar nie, en het in November ’n aansoek gebring om verlof tot appèl.

    

7. Peter Moyo

Peter Moyo, voormalige uitvoerende hoof van Old Mutual.Foto:

Die hooggeregshof in Johannesburg het in Januarie beslis dat Peter Moyo, voormalige uitvoerende hoof van Old Mutual, sy werk kwyt is.

Moyo het die versekeraar hof toe gesleep toe dié hom aanvanklik in Mei 2019 geskors en daarna in Junie 2019 afgedank het.

Sy aansoek om verlof tot appèl is later deur die appèlhof met koste van die hand gewys.

    

8. Openbare Beleggingskorporasie (OBK)

Abel Sithole, uitvoerende hoof van die OBK. Foto: Verskaf

Die OBK, wat staatsamptenare se pensioenfonds (die GEPF) bestuur, het in 2020 verskeie nuwe aanstellings gedoen. Hy was lank sonder ’n uitvoerende hoof nadat dr. Daniel Matjila in November 2018 bedank het.

Abel Sithole  is in Mei as die nuwe uitvoerende hoof aangestel. In Augustus is Sholto Dolamo as waarnemende beleggingshoof aangestel, terwyl Vuyani Hako in November as bedryfshoof en August van Heerden as risikohoof aangestel is.

Die aanstellings kom nadat die Mpati-kommissie van ondersoek na gebeure by die OBK verskeie aanbevelings in sy verslag gedoen het.

Die verslag is op 13 Desember 2019 aan pres. Cyril Ramaphosa gestuur.

Die kommissie het veral vir Matjila gekap oor sy betrokkenheid in verskeie omstrede beleggings.

Matjila het in November ’n aansoek by die hooggeregshof  in Pretoria ingedien vir ’n geregtelike hersiening van die bevindinge van die verslag.

    

9. Sasol

Die petrochemiese reus Sasol het ’n onstuimige jaar gehad.

Sasol se aanleg buite Lake Charles in Amerika. Foto: Verskaf

Sy aandeelprys het in Maart getuimel soos wat die olieprys geval het. Dit het in ’n stadium tot R24,26 geval. Dit is teenoor die R487,49 per aandeel waarteen dit net minder as ’n jaar tevore, in April 2019, op die JSE verhandel het.

Die daling het groot kommer laat ontstaan oor hoe Sasol finansieel kop bo water gaan hou weens sy swaar skuldlas om sy chemiese aanleg buite Lake Charles in die Amerikaanse deelstaat Louisiana te bou.

Sasol het deur die loop van die jaar verskeie van sy niekernbelange, asook ’n belang in die Lake Charles-aanleg vir $2 miljard verkoop as deel van die proses om sy skuld onder beheer te kry.

Die aanleg, wat hom $12,8 miljard uit die sak gejaag het, is byna ’n jaar laat in November voltooi.

Daar is steeds sprake dat Sasol ’n groot regte-uitgifte vroeg in die nuwe jaar oorweeg om só sy planne vir Sasol 2.0 van die grond af te kry.

    

10. Santam

Santam se kantore in Sandton. Foto: Elvira Wood

Santam en ander versekeraars het erg onder skoot gekom toe hulle geweier het om restaurante, hotelle en ander ondernemings in die gasvryheidsbedryf se eise weens die pandemie te betaal.

Santam het aangevoer hy hoef nie die eise te betaal nie, want hoewel die koronaviruspandemie die “onmiddellike oorsaak” was waarom die ondernemings se bedrywighede tot stilstand gedwing is, was die staat van inperking die “tussenkomende oorsaak”.

’n Tussenkomende oorsaak verbreek die regstreekse verband tussen die onmiddellike oorsaak en die sluiting van ondernemings tydens die inperking.

Die hooggeregshof in Kaapstad het in November met koste in die guns van Ma-Afrika Hotels en Stellenbosch Kitchens beslis. Dit stel ’n presedent dat versekeraars soortgelyke eise moet betaal.

Santam gaan aansoek doen om verlof tot appèl  teen die uitspraak.

    

11. Christo Wiese

Christo Wiese, uittredende voorsitter van Shoprite. Foto: Bloomberg

Die sakemagnaat Christo Wiese het in November die Shoprite-groep ná 40 jaar as voorsitter stil-stil gegroet.

Hy het op 10 September sy 79ste verjaarsdag gevier.

Wiese het in ’n onderhoud met Netwerk24 gesê selfs al tree hy uit by Shoprite, is hy nog nie in “aftree-rat” nie.

Wiese het ’n groot deel van sy rykdom verloor weens die ineenstorting van Steinhoff. Hy het egter steeds baie ander belange.

  

12. Markus Jooste

Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff. Foto: Jaco Marais

Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, is in Oktober met byna R162 miljoen beboet  vir oortredings van regulasies oor binnehandel met betrekking tot Steinhoff-aandele.

Steinhoff se aandeelprys het in duie gestort nadat hy op die JSE se nuusdiens, Sens, aangekondig het sy jaarsyfers gaan nie uitgereik word nie weens die onreëlmatighede. Die maatskappy se markwaarde het binne vier dae begin Desember 2017 met nagenoeg R200 miljard geval en mettertyd is nagenoeg 99% van die maatskappy se markwaarde uitgewis.

  

13. Hamleys

Die Hamleys-speelgoedwinkel in Bedfordview, Johannesburg. Foto: Elvira Wood

In Januarie het Netwerk24 eksklusief berig dat Philip Paphitis, voormalige uitvoerende hoof van Ensolor, wat die Suid-Afrikaanse franchise vir die speelgoedgroep Hamleys besit het, homself geskiet het toe die polisie hom in hegtenis wou neem.

Paphitis is daarvan beskuldig dat hy die groep in Desember 2018 “rot en kaal besteel en die pad met sowat R20,3 miljoen gevat het”.

Vroeg in 2020 het dit gelyk of dit weer goed gaan met die groep nadat Antares die franchise gekoop het.

Die vreugde was van korte duur en die winkels moes einde Maart weens die staat van inperking sluit.

In November 2020 het Antares besluit om die franchise aan Super-Brands en Toy Kingdom te verkoop.

  

14. rooi rose

Die tydskrif rooi rose is ná 78 jaar gesluit. Foto: Skermgreep

Ná 78 jaar het die bekende vrouetydskrif rooi rose sy deure gesluit. Die tydskrif was een van vele wat aan die uitgewer Caxton behoort het en wat weens die impak van staat van inperking gesneuwel het.

Caxton het ook Garden & Home, Vrouekeur, Farmer’s Weekly, Your Family, Bona, Living and Loving, People, Country Life en Essensials gesluit.

Dit was nie net Caxton wat tydskrifte in 2020 gesluit het nie. Associated Media Publishing (AMP), uitgewer van Cosmopolitan en House & Leisure, het ook in die jaar sy deure permanent gesluit.

  

15. PSG en Capitec

PSG het sy belang in Capitec Bank ontknoop. Foto: Verskaf

Die beleggingsgroep PSG het in Mei aangekondig dat hy ’n belang van 28,1% in Capitec Bank aan sy aandeelhouers gaan ontknoop.

Volgens PSG is die beweegrede vir die ontknoping dat dit die administratiewe en regulatoriese nakomingslas gaan verlig omdat die groep ingevolge nuwe finansiëledienstewetgewing beskou sal word as ’n finansiële konglomeraat weens die belang in Capitec.

Meer oor:  Hamleys  |  Santam  |  Sasol  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Eskom  |  Markus Jooste  |  Christo Wiese  |  Jaaroorsig 2020  |  Jaaroorsig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.