Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Die einde van banke?
Werklike weergawes van die virtuele geldeenheid bitcoin wat in Utah in Amerika gemunt is. Foto: BLOOMBERG

Die opskrif klink miskien dramaties, maar is glad nie vergesog nie. Selfs sentrale banke bespreek dit – en dit is alles te dankie aan virtuele geld.

Die bekendste kripto-geldeenheid of virtuele geld is bitcoin. Bitcoin is ’n private geldeenheid wat tot stand gekom het danksy ’n tegnologie wat as die blokketting (blockchain) bekend staan. Dit is ’n openbare lêer waar alle inligting oor die geldeenheid openbaar gemaak word. Almal wat deel is van die “klub” het toegang tot hierdie inligting.

Eintlik gaan dit nog verder, almal wat deelneem hou die stelsel deur hul rekenaars in stand, wat beteken die stelsel stabiliseer homself en dra by tot die betroubaarheid daarvan.

Dit klink miskien Grieks, maar dit kom daarop neer dat ’n kripto-geldeenheid ’n privaat uitgereikte geldeenheid is wat tot dusver redelik veilig blyk te wees. Verder het dit ook die kenmerk dat hoewel al die inligting openbaar is, niemand weet wie transaksies doen nie. Met ander woorde, almal weet van ’n transaksie, maar nie wie betrokke is daarby nie.

Anonimiteit is dus een van die kenmerke – en ook een van die grootste besware – van virtuele geld.

Dit is ook omtrent onmoontlik om virtuele geld te stop. ’n Paar sentrale banke het virtuele geld verbied, maar in die virtuele wêreld is dit amper onmoontlik. Die enigste manier om werklik virtuele geld te verbied, is om die internet “af te sit”.

Sentrale banke raak daaraan gewoond dat die toekoms van geld nie deur hulle bepaal gaan word nie. Hulle het een van twee keuses: Probeer dit stop, wat nie werk nie, of wees deel van die nuwe tegnologie.

Die enigste manier om werklik virtuele geld te verbied, is om die internet 'af te sit'.
Dawie Roodt, ekonoom

Dit lyk my sentrale banke besef nou die enigste manier hoe hulle relevant kan bly is om te aanvaar virtuele geld is die toekoms. ’n Paar sentrale banke oorweeg dit al om hul eie virtuele geldeenhede uit te reik.

Die oudste sentrale bank in die wêreld, die Sweedse Rijks-bank, was die eerste sentrale bank wat geldnote uitgereik het. Dit lyk of hy dalk die eerste sentrale bank kan wees wat sy eie virtuele geld uitreik. Die Britse sentrale bank, die Bank van Engeland, ondersoek ook die moontlikheid van ’n virtuele geldeenheid.

Een van die opsies wat hy oorweeg is ’n scenario waar banke glad nie meer bestaan nie en waar almal rekeninge in virtuele geld by die Bank van Engeland self sal hou. Nodeloos om te sê banke is nie te ingenome met dié plan nie!

Maar die groot probleem met virtuele geld is beheer en anonimiteit. Tans het sentrale banke geen beheer oor private virtuele geld nie. Dit beteken monetêre beleid en ander optredes van sentrale banke het absoluut geen invloed op private virtuele geld nie. Met die uitreik van “amptelike” virtuele geld deur sentrale banke kan hulle sorg vir ’n mate van beheer oor hul eie virtuele geldeenhede.

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group.

Maar dit los net ’n deel van sentrale banke se probleme op. Een van die groot gevare en aantrekkingskragte van virtuele geldeenhede is reeds anonimiteit. Die waarborg van anonimiteit laat die verbruikers van virtuele geldeenhede toe om onwettige transaksies soos die koop van dwelms anoniem en redelik veilig te kan doen.

Maar daar is ook meer edele voordele aan anonimiteit soos om geld internasionaal rond te skuif sonder die beslommernis en nuuskierige oë van die “owerhede”. Verder is virtuele geldeenhede baie nuttig wanneer dit kom by die “bestuur” van ’n oordadige belastinglas.

Hoe die toekoms met virtuele geld daar gaan uitsien is nie heeltemal duidelik nie, maar ’n paar dinge lyk seker. Die bankwese sal verander en daar is geen waarborg dat banke deel daarvan gaan wees nie.

Sentrale banke sal deel hiervan moet wees – of irrelevant word.

Hoe dit ook al sy, ek is opgewonde oor ’n toekoms waar die “owerhede” baie minder mag oor my en my finansies sal hê.

As ek wel dwelms wil koop is dit tog my saak en ek het geen burokraat nodig om my te beskerm nie, ek is verantwoordelik vir myself.

In elk geval is die vooruitsigte van minder belasting baie aantreklik.

  • Dawie Roodt is die hoofekonoom van Efficient Group en Sake se Ekonoom van die Jaar vir 2015.
Meer oor:  Dawie Roodt  |  Banke  |  Bitcoin
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.