Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Dié hulp vir ekonomie sal belasting-betaler niks kos’

Daar is baie dinge wat die regering kan doen om die ekonomie te ondersteun wat die belastingbetaler nie ’n sent gaan kos nie.

Banke trek swaar omdat meer mense agterstallig raak met skuld en transaksievolumes daal. Foto: Reuters

Om mee te begin, kan planne wat nou al stof vergader, soos die opveil van breëbandspektrum en die verslapping van visumregulasies – albei dinge wat al jare gelede aangekondig is – deurgevoer word.

Tito Mboweni, minister van finansies, kan egter doen met ekstra hulp van sy kollegas in die kabinet ten einde die hervormings deur te voer wat ekonomiese groei sal laat herleef.

Dis die siening van James Formby, uitvoerende hoof van Rand Merchant Bank (RMB), ’n filiaal van FirstRand, wat ook FNB en WesBank besit.

“So polities moeilik as wat dit is, moet die breër administrasie die minister van finansies meer steun gee. Wanneer enigeen van ons se inkomste verminder, moet ons ons uitgawes verminder. Suid-Afrika moet sy gordel stywer trek.”

Mboweni het in Julie gewaarsku dat die land op ’n skuldkrisis afstuur tensy hy ophou geld leen te midde van die langste afwaartse siklus sedert die Tweede Wêreldoorlog en die Covid-19-krisis, wat albei belastinginkomste onder druk plaas. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens maak Donderdag syfers oor die lopende belastingjaar bekend, maar in Julie het Mboweni voorspel R300 miljard minder belasting gaan vanjaar ingevorder word as wat in Februarie begroot is.

Van die hervormings wat Mboweni al voorgestel het, word deur faksies in die regerende party en sy alliansievennote – veral vakbonde – teengestaan. Dit sluit in die plan om die stygings in die staat se salarisrekening te verlaag.

Formby sê die regering kan begin met maatreëls wat reeds voorgestel is, maar nog nie in werking gestel is nie. “Vir die afgelope jaar is die voorstel op die tafel dat mynbou toegelaat word om hul eie krag op skaal op te wek, maar dit word nog nie toegelaat nie.”

Ander dinge wat sake- en verbruikersvertroue volgens Formby kan laat styg, is die verkoop van breëbandspektrum om datakoste te verlaag en die vereenvoudiging van visumregulasies vir toeriste.

Daar word nou al jare lank gesloer met die verkoop van breëbandspektrum, hoewel spektrum wel tydelik verkoop is te midde van die Covid-19-krisis wat mense wat van die huis af werk, se vraag na data laat styg het.

Die staat van inperking het die toerismebedryf lamgelê.

Formby pleit ook dat die struikelblokke vir die invoer van buitelandse vaardighede opgehef word omdat dit kan bydra tot werkskepping.

Banke is onder enorme druk en het ’n gesonder ekonomie nodig sodat mense kan bekostig om hul skuld terug te betaal, meer mense lenings kan uitneem en transaksievolumes kan styg.

Standard Bank het Donderdag gesê die staat van inperking het die aantal transaksies waaruit hy geld verdien, veral onder die strenger vlakke van die staat van inperking, erg geknou. Selfs nadat regulasies verslap is, het transaksievolumes steeds nie herstel tot vlakke soos voor die pandemie nie.

Volgens BankservAfrica, een van die grootste maatskappye wat betalings verwerk, het die aantal transaksies met debiet- en kredietkaarte in die drie maande tot einde Junie met byna 30% gedaal. Die waarde van kredietkaarttransaksies het met 12,3% gedaal, hoewel die waarde van transaksies met debietkaarte met 15% gestyg het.

Absa het onlangs aangekondig slegte skuld by dié bank was reeds in die eerste vier maande van die jaar dubbeld wat dit in dieselfde tydperk in 2018 was. Mense sukkel veral om hul persoonlike lenings en kredietkaartskuld te betaal.

Banke het betaalvakansies op lenings aan duisende individue en ondernemings toegestaan as hul inkomste deur die Covid-19-krisis verminder is en hulle tot voor die inperking goeie betalers was.

By RMB, ’n beleggings- en korporatiewe bank, het aktiwiteit skerp toegeneem soos maatskappye aansoek gedoen het om noodgeriewe om hul kontantvloei te verseker, sê Formby.

Ondernemings oorweeg die herstrukturering van hul skuld en kyk na geleenthede om te konsolideer. Oorsese beleggings of diversifikasie gaan nou beperk wees.

“Daar is beslis geleenthede wat ons kliënte in verskeie bedrywe raaksien. Ons spanne sit nie rond en wag vir die foon om te lui nie.”

Meer oor:  Rmb  |  Firstrand  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Skuld  |  Banke  |  Vlak 3  |  Bankbedryf  |  Inperking  |  Lenings  |  Staat Van Inperking  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.