Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Punt van die Saak: Die knyptang om die vrot

Vergeet eers van die openbare beskermer, die hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag of selfs die konstitusionele hof: As daar ’n enkele mens is wat staan tussen Suid-Afrika en die glibberige glybaan van ’n volslae onomkeerbare verval tot ’n mislukte staat, is dit die persoon in die pos as ouditeur-generaal.

Kimi Makwetu, die voormalige ouditeur-generaal. Foto: Argief

Kimi Makwetu, wat op 11 November aan longkanker dood is, was by uitstek daardie persoon. Met meedoënlose integriteit, nugterheid en kalmte het hy telkens die mooi blaadjie wat die ANC-regering aan die wêreld probeer wys, omgedraai om die ware stank onderkant te ontbloot.

Die staatsmasjinerie het twee doeltreffende afdelings aan weerskante van die geldvloei-ketting. Hulle is as’t ware die hekwagters aan die begin en einde van die vrot in die middel.

Aan die een kant is daar die doeltreffende en die wêreldklas- Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en nasionale tesourie met hul amptenare wat gesog en bekwaam is. So gesog dat hulle weggerokkel word na die private sektor of na ander staatsinstellings wat hul kundigheid nodig het, soos staatsondernemings of munisipaliteite wat dringend hulp nodig het met beter geldbestuur.

Die SAID het ’n uitstekende reputasie opgebou in die doeltreffendheid om belasting in te vorder – al is dit onder Tom Moyane byna afgebreek. En die nasionale tesourie kry jaarliks lof vir hoe hy die inkomste mooi netjies opdeel en uitdeel aan die verskillende staatsdepartemente. Tegnies doen hulle uitstekende werk.

Maar dan kom die groot vrot middel waar geld soos water deur ’n sif wegloop, waar dit weens blote onbekwaamheid onbenut lê, of ondoeltreffend en onnadenkend bestee word, of gewoon gesteel word.

Dan aan die ander kant, aan die einde, die ouditeur-generaal se span ouditeurs en forensiese ondersoekers en ander kundiges. Soortgelyk gesogte mense oor wie Makwetu jaarliks moes smeek by die tesourie vir volgehoue begrotingsteun sodat hy hulle kon behou.

Dis mense wat onder groot druk en dikwels onder erge intimidasie en doodsdreigemente hul werk moet doen by munisipaliteite en instellings wat landwyd versprei is. Dis hulle wat telkens weer – mosterd ná die maal – moet gaan uitvind waar alles skeefgeloop het in die vrot middel.

Wat jy kan meet, kan jy bestuur. Maar dit is tragies dat die sukses van die ouditeur-generaal om so omvattend en volledig oor talle staatsinstellings heen kan uitvind hoe geld wanbestee is, steeds niks aan die vrot middel verander nie.

Wat jy nie van weet nie, hoef jou nie te pla nie. Ons sou dalk beter gevoel het as ons nie geweet het hoe miljarde rande wanbestee word nie.

Maar nou weet ons, danksy die bekwaamheid van mense soos Makwetu en sy kollegas. Hul sukses maak die skande van die vrot middel net soveel erger en pynliker vir gewone mense wat net ’n eerlike bestaan wil voer en bereid is om hul belastingplig na te kom.

Dit was onder Makwetu se leiding dat die Wet op Openbare Oudit verskerp is, en hy het nog geleef om maar net die eerste vrugte van sy werk te sien. Suid-Afrika is dit aan hom verskuldig om vol te hou met die inwerkingstelling van die strenger gevolgbestuur en maatreëls om verantwoordbaarheid van rekenpligtige beamptes te verskerp.

Die tesourie en die OG-kantoor behoort soos ’n knyptang te werk sodat doeltreffendheid en eerbare geldbestuur in die middelste deel van die staatsmasjinerie tot stand kan kom.

  • Francois Williams is ’n senior sakeverslaggewer. Dié artikel is ’n meningstuk.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.