Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Die uur het geslaan vir die SA ekonomie’

Die uur het geslaan vir die Suid-Afrikaanse ekonomie, sê Johann Els, hoofekonoom van die Old Mutual Investment Group (OMIG).

Suid-Afrika se ekonomie en die staat se geldsake is ewe diep in die verknorsing. Foto: Bloomberg

Vir twee jaar al predik die minister van finansies en die sakeleiers dat die ekonomie dringend hervorm moet word, maar daarvan het min gekom.

Nou sit die land met ’n begrotingstekort van 15% en staatskuld hoër as 80% van die bruto binnelandse produk, en dis steeds nie duidelik óf en wanneer die dringende strukturele veranderinge deurgevoer sal word nie. Dit sluit in die ontbondeling van Eskom, die beskikbaarstelling van breëbandspektrum, die deregulering van die arbeidsmark en maatreëls wat dit goedkoper en makliker sal maak om hier sake te doen.

Els het vandeesweek in ’n aanbieding deur OMIG gesê die feit dat ’n lening met bestraffende voorwaardes by die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) dreig as Suid-Afrika nie sy staatskuld in bedwang kan bring nie, kan die regering noop om hervormings deur te voer.

“Die planne vir konsolidering van staatskuld is feitlik onmoontlik haalbaar sonder aansienlike ekonomiese groei en dít kan net met hervormings kom.”

Die voetslepery met hervormings het te doen met politiek, meen Els. Pres. Cyril Ramaphosa is ’n leier wat konsensus soek en dit verg baie tyd. Ramaphosa het Donderdagaand aan Suid-Afrikaners gesê almal moet saamwerk aan ’n maatskaplike verdrag vir ekonomiese herstel, groei en transformasie.

Hy sê die Suid-Afrikaanse Reserwebankkan ook ’n rol speel deur kwantitatiewe verruiming, maar net as die regte beleidsveranderinge geïmplementeer word.

Die Reserwebank het vandeesweek gesê die ekonomie kan vanjaar met 7,3% inkrimp (in Mei was dié syfer 7%).

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het Donderdag met die aankondiging van nog ’n rentekoersverlaging van 25 basispunte weer benadruk monetêre beleid op sy eie kan nie die groeipotensiaal van die ekonomie ontsluit of die fiskale risiko verminder nie.

Daarvoor moet weloorwoë makro-ekonomiese beleid en strukturele hervorming geïmplementeer word wat koste in die algemeen verlaag, en beleggingsmoontlikhede, groei en werk­skepping ’n hupstoot gee, het hy gesê.

Annabel Bishop, ’n ekonoom van Investec, het verlede week gesê verskeie strukturele uitdagings in die ekonomie kan keer dat Suid-Afrika teen dieselfde tempo as die res van die wêreld herstel. Die onvermoë om in die elektrisiteitsbehoeftes te voorsien van ’n ekonomie wat teen meer as 1% op ’n jaargrondslag groei, kan die pas van ekonomiese herstel in die tweede helfte van 2020 en in 2021 kniehalter.

Sy sê die swak groei van 1,4% in 2018 en 0,2% in 2019, kan nog jare herhaal word tensy regulatoriese hervorming dit makliker maak om sake in Suid-Afrika te doen. Dit volg te midde van droewige syfers deur Statistieke Suid-Afrika (SSA) die afgelope week dat kleinhandelvolumes in Mei 12% laer was op ’n jaargrondslag, en die totale inkomste uit toeristeverblyf in Mei 98% laer omdat dié instellings weens inperkingsmaatreëls nie kon sake doen nie.

Die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BEO) het ook die afgelope week gesê sakevertroue onder ondernemings soos restaurante, hotelle, die eiendomsbedryf en sakedienste is die laagste in 15 jaar.

Uit ’n aanlyn BEO-opname tussen 13 Mei en 1 Junie onder die vlak 4-inperking blyk aktiwiteit in die sakedienstesektor (soos rekenaar-, regs- en rekenkundige dienste, raadgewende ingenieurs, skoonmaakdienste en werwing van werknemers) was in die tweede kwartaal aansienlik laer as die vorige kwartaal, sê die BEO.

Talle kapitaalprojekte is gekanselleer, met negatiewe implikasies vir raadgewende ingenieurs, argitekte, bourekenaars en binneversierders. Regsdienste wat afhanklik is van die eiendomsektor, ouditeurs en rekenmeesters wat op kliënte se persele moet werk, bestuurskonsultante en opleiers is ook swaar getref.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.