Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Dié vakante poste by Reserwebank kwel ekonome
Lesetja Kganyago

Ekonome sê hulle sal dit verwelkom as sowel Lesetja Kganyago, president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB), en Daniel Mminele, een van sy adjunkte, in hul poste heraangestel word.

Mminele, luidens die bank se webblad onder meer in beheer van finansiële markte, internasionale ekonomiese betrekkinge en beleid, se termyn eindig einde vandeesmaand, en Kganyago s’n einde November.

Daar is egter kommer omdat die pos van een van die sentrale bank se drie adjunkpresidente al sowat vyf maande vakant is in ’n tyd van politieke druk en pogings om onsekerheid oor die Reserwebank se onafhanklikheid te saai, sê kenners.

Francois Groepe het einde Januarie as een van die bank se drie adjunkpresidente bedank. Finansiële stabiliteit en risikobestuur en nakoming het onder meer onder hom geval.

Die derde adjunkpresident is Kuben Naidoo, hoof van die Omsigtigheidsowerheid.

Prof. Jannie Rossouw, hoof van Wits se skool vir ekonomiese en sakewetenskappe, sê Kganyago en Mminele kan heraangestel word en albei sal uitstekende kandidate wees om weer hul poste te vul, maar hy is besorg dat Groepe se pos nog vakant is.

Volgens prof. Raymond Parsons, ’n ekonoom van die Noordwes-Universiteit se sakeskool, kan die termyn van sleutelamptenare verleng word deur wedersydse instemming.

Hy sê die gemiddelde termyn vir SARB-presidente sedert die bank in 1921 tot stand gekom het, is sowat tien jaar, omdat die meeste heraangestel is. “Ek sal graag wil sien dat Kganyago nog ’n termyn in dié pos is in belang van kontinuïteit en die vaardighede wat hy bring.”

Die vul van die senior poste met mense wat vertroue inboesem, sal ’n sterk boodskap stuur dat Ramaphosa verbind is tot ekonomiese stabiliteit in die land en die SARB se onafhanklikheid.

Hy sê senior SARB-aanstellings moet van so ’n aard wees dat dit die integriteit en geloofwaardigheid van die instelling in stand hou – veral in die huidige omstandighede nadat Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, sowat twee weke gelede gesê het die ANC wil die SARB se mandaat verander.

“Die vul van die senior poste met mense wat vertroue inboesem, sal ’n sterk boodskap stuur dat Ramaphosa verbind is tot ekonomiese stabiliteit in die land en die SARB se onafhanklikheid.”

Parsons sê interessant genoeg het Tito Mboweni, finansminister, onlangs voorgestel dat die termyn van die SARB-president van die huidige vyf tot sewe jaar verleng word.

Mboweni, wat self van 1999 tot 2009 president van die Reserwebank was, glo dié termyn moet geskei word van die vyfjaar- politieke siklus omdat dit die outonomie van die bank sal versterk, sê Parsons.

Ramaphosa het Donderdagaand in sy staatsrede die sentrale bank se mandaat, soos beskerm in die Grondwet, herbevestig. Dié mandaat is om die waarde van die geldeenheid te beskerm in die belang van gebalanseerde en volhoubare groei.

Kragtens wetgewing stel die president van die land die president en adjunkpresidente van die Reserwebank aan ná konsultasie met die direksie en nie ín konsultasie met hulle nie. Die direksie het dus nie veto-mag nie, maar word geken in die saak, verduidelik Parsons.

Hy sê hoewel die direksie name kan voorstel, speel die minister van finansies waarskynlik die grootste rol in die keuring. Die sowat 700 private aandeelhouers van die Reserwebank speel geen rol in die aanstellings nie.

Ramaphosa het verlede week met die SARB-direksie, adjunkminister van finansies, verteenwoordigers van die nie-uitvoerende komponent van die direksie en die president van die Reserwebank vergader oor die vakante poste

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.