Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Die vele probleme van mans

Een ding wat ekonomiese geskiedenis mens leer, is dat baie van die groot veranderinge in die geskiedenis, goed wat ons tipies toeskryf aan sosiale, politieke of kulturele faktore, eintlik maar ekonomiese oorsake het.

Die Groot Trek? Miskien wou ’n paar opportunistiese grensboere (of hul leiers) maar net wegkom van hul swaar skuldlas in die Kaap. Of miskien het hulle die geleentheid gesien om grond goedkoop te bekom wat hulle dan aan die volgende groep trekkers kon verkoop, en só ’n goeie opbrengs maak.

Hulle was bitter oor die Britte, ja, maar dit was nie die enigste rede (of selfs dalk belangrikste rede) hoekom hulle getrek het nie.

Afrika-kolonialisme? Was dit werklik net Europese patriargie en rassisme, soos baie van my studente nou dink, of was dit, soos ’n nuwe artikel wys, eerder gunstige handelsverdragte?

Hoe ons ook al baie van hierdie gebeurtenisse wil inkleur – nasionalisme, rassisme, seksisme – skuil die ware rede gewoonlik in ekonomiese motiewe.

Dit is steeds waar vandag. Ons leef tans deur verskeie grootskaalse en wêreldwye veranderinge.

Die opkoms van populisme, byvoorbeeld, is dalk verrassend vir baie. Maar, so wys nuwe navorsing, dit het óók ’n ekonomiese oorsprong. Populisme vind inslag waar mense voel hulle is ekonomies ontmagtig. En dit is beslis wat middelklas-inwoners in ryk lande oor die afgelope drie dekades ervaar het.

Hoe ons ook al baie van hierdie gebeurtenisse wil inkleur – nasionalisme, rassisme, seksisme – skuil die ware rede gewoonlik in ekonomiese motiewe.

Baie probeer hierdie ontmagtiging toeskryf aan globalisering, die opkoms van Asië en immigrasie (Trump hou nogal daarvan om só daaroor te dink), maar verreweg die grootste sondaar is tegnologie wat blouboordjiewerke verplaas. (Natuurlik skep tegnologie baie werk ook, veral vir die mees geskoolde mense, maar, interessant genoeg, ook vir ongeskoolde beroepe soos versorging waar menslike wisselwerking nie deur robotte vervang kan word nie.)

Die nuutste uitgawe van die gesaghebbende Journal of Economic Perspectives wys dis veral mans wat aan die kortste ent trek. Weens die kwyning in landbou en vervaardiging (waar mans se liggaamskrag belangrik is) en die opkoms van die dienstesektor (waar vroue meer geneig is om te gedy), raak die verskille tussen mans met universiteitsopleiding en dié daarsonder groter.

Die gevolge hiervan is egter baie groter as net ’n laer inkomste. Dit vind neerslag in maatskaplike kwessies, soos misdaad en gesondheid.

Dieselfde is ook in Suid-Afrika aan die gebeur. ’n Man wat in 2018 gebore is, gaan gemiddeld ses jaar korter leef as ’n vrou. Mans in Suid-Afrika is vier keer meer geneig om aan selfdood te sterf as vroue. Vir elke een vrou in ’n Suid-Afrikaanse tronk, is daar 36 mans.

Maar dis nie net mans se liggaamlike en geestelike welstand wat reeds sleg teen vroue s’n afsteek nie. Vroue vaar byvoorbeeld ook beduidend beter as mans in die onderwysstelsel. Ek haal ’n onlangse studie aan: “Ons vind onweerlegbare bewyse van ’n groot voordeel ten gunste van vroue wat groter word by elke hekkie van die onderwyssektor. Om meer spesifiek te wees, ons vind – in vergelyking met hul manlike eweknieë – 27% meer vroue kwalifiseer om universiteit toe te gaan, 24% meer vroue skryf in by ’n universiteit, 56% meer vroue voltooi ’n kwalifikasie, en 66% meer voltooi ’n voorgraadse graad.”

Kortliks: Mans sukkel om akademies by vroue kers vas te hou.

Hierdie verandering gaan noodwendig gevolge hê in die arbeidsmark. Terwyl die werkloosheidskoers onder vroue steeds hoër is as dié van mans – vir persone tussen 15 en 24 jaar is die koers vir vroue 35,1% teenoor 31,4% vir mans – is dít ook besig om te verander. Verlede jaar dieselfde tyd was die koers 35,3% vir vroue en 29,6% vir mans.

Dit is nodig dat vroue op baie gebiede die agterstande van die verlede uitwis. En dit is reg dat geslagsdiskriminasie ontbloot word; dit is immers die doel van Vrouemaand in Augustus. Die goeie nuus is dat, vanweë die veranderende struktuur van die ekonomie, hierdie agterstande baie vinniger uitgewis sal word as wat ons verwag.

Soos hoër onderwys ’n groter rol begin speel in welvaartskepping, gaan mans se voorheen mededingende voordeel – liggaamlike krag wat hulle in staat gestel het om ploeë en ander swaar werktuie te hanteer – al hoe minder waardevol wees.

Genderaktiviste sal die veranderinge toeskryf aan sosiale norme wat verander, maar is dié norme nie maar ’n gevolg van die diepliggende ekonomiese veranderinge wat reeds in die laaste paar dekades plaasvind nie?

Dit laat mens egter ook wonder: Watter nuwe agterstande skep hierdie veranderinge vir mans, en wat gaan die sosiale, politieke en kulturele gevolge daarvan wees?

  • Prof. Johan Fourie is verbonde aan die departement van ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Johan Fourie  |  Beroepe  |  Opvoeding  |  Gender  |  Loopbane  |  Ekonomie  |  Geslagsgelykheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.