Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Dink aan omgewing as julle belê, hoor pensioenfondse

Twee drukgroepe het Maandag ’n beroep op Suid-Afrika se pensioen- en voorsorgfondse gedoen om die gekombineerde R4 200 miljard wat hulle bestuur, te belê dat dit dreigende klimaatsverandering nie vererger nie.

Klimaatsverandering, met die gepaardgaande droogtes en laer reënval, kan groot druk op die prestasie van pensioenfondse plaas, en fondsbestuurders is wetlik verplig om die risiko's beter te begin bestuur.

Just Share, aktiviste vir aandeelhouers en volhoubare beleggings, en ClientEarth, ’n internasionale omgewingsregsfirma, glo pensioenfondse het ’n morele verantwoordelikheid om hul invloed vir ’n volhoubare toekoms in te span. Selfs meer as dit: Hulle reken trustees het ’n wetlike aanspreeklikheid om omgewingsvriendelike beleggings te doen.

Die drukgroepe het aan sowat 50 fondse geskryf, sowel private fondse wat deur die Pensioenfondswet gereguleer word as die staatsdienspensioenfonds (GEPF).

“Versuim om wesenlike finansiële risiko’s as gevolg van klimaatsverandering te oorweeg, is ’n oortreding van pensioenfondse se fidusiêre plig, en daar is dus die potensiaal vir regsuitdaging,” sê Tracey Davies, uitvoerende direkteur van Just Share.

“Die risiko’s sluit in dié wat verband hou met die oorgang na ’n laekoolstof-ekonomie asook dié wat verband hou met die fisieke invloed van klimaatsverandering self.”

Danielle Lawson, ’n omgewingsprokureur by Client Earth, sê die wesenlike risiko’s van klimaatsverandering is nie net belangrik as jy ’n aktivis vir die omgewing is nie – dit het beduidende regsimplikasies vir pensioenfondse wat nie hul kliënte se toekoms beskerm teen die verwoesting wat dreig nie.

Die sikloon Idai het verwoestende oorstromings tot gevolg gehad, met sekere nedersettings wat heeltemal vernietig is. Foto: Felix Dlangamandla

“Om die risiko’s van klimaatsverandering te assesseer en te bestuur, val heeltemal binne die opdrag aan pensioenfondsbestuurders om hul kliënte se spaargeld te beskerm. Pensioenfondse moet besondere aandag skenk aan die risiko’s wat verband hou met veral die steenkool-, olie- en gasbedryf en die ooreenstemmende geleenthede wat in die laekoolstof-ekonomie begin ontluik,” sê Lawson.

Van die risiko’s wat regstreeks pensioenfondse se beleggingskeuses en opbrengste kan beïnvloed, sluit in dat daar na verwagting ’n gemiddelde toename in temperatuur van 6°C in Afrika suid van die Sahara kan geskied wat droogtes tot katastrofiese vlakke kan dryf. Die streek se blootstelling aan klimaatsverandering is reeds hoog, en veral die kanse op meer natuurlike rampe is klaar besig om toe te neem, sê Just Share.

“Dié scenario is reeds merkbaar in die gebied van Mosambiek, wat onlangs deur sikloon Idai, die ergste tropiese sikloon tot nog toe in die Suidelike Halfrond, getref is,” verduidelik Just Share in sy verklaring.

Bestaande vlakke van armoede, ongelykheid en werkloosheid maak Suid-Afrika selfs vatbaarder vir die maatskaplike ontwrigting wat onbeheerde klimaatsverandering sal oplewer.
Just Share

“In Suid-Afrika sal die invloed van so ’n veranderde klimaat verhoogde natuurrampe insluit wat skade aan infrastruktuur sal veroorsaak en verskeie noodlottige maatskaplik-ekonomiese uitwerkings sal hê, met beduidende uitwerking op veral landbou en landelike lewensbestaan.

“Bestaande vlakke van armoede, ongelykheid en werkloosheid maak Suid-Afrika selfs vatbaarder vir die maatskaplike ontwrigting wat onbeheerde klimaatsverandering sal oplewer.”

Om meer bewus en bedagsaam te belê met betrekking tot die omgewing hoef ook nie opbrengsverwagtinge te verlaag nie, meen Just Share.

Hulle verwys na navorsing wat in Februarie 2019 deur BlackRock, die wêreld se grootste batebestuurder, uitgereik is wat toon dat volhoubare indekse dieselfde risiko- en opbrengskenmerke as tradisionele maatstawwe het. Die navorsing het ook bevind dat die maatskappye wat hul koolstofvoetspore elke jaar met die meeste verminder het, beter presteer as dié wat nog hoë koolstofverbruik het.

Davies sê in hul brief wys hulle pensioenfondse op die regsimplikasies en doen ook voorstelle oor dringende aksie wat pensioenfondse moet oorweeg.

“Ons hoop dat dié direksies bereid sal wees om ons te betrek sodat verandering vinnig kan geskied en dat pensioenfondsbegunstigdes nie aan die genade van klimaat-risiko oorgelaat word nie.”

Meer oor:  Pensioen  |  Klimaatsverandering  |  Gepf  |  Pensioenfondse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.