Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Dís die massiewe verhogings wat die staatsdiens soek

’n Verhoging van inflasie plus vier persentasiepunte, ’n toename in die behuisingstoelae van derduisende rande en selfs meer verlof is onder die 16 eise van staatsamptenare.

’n Cosatu-staking. Die vakverbond en sy vennote dreig om te staak indien hul eise vir verhogings vir staatsamptenare nie eerbiedig word nie. Foto: Getty Images

Staatsamptenare het Maandag in ’n brief aan die regering uiteindelik hul eise bekend gemaak.

Die lys van 16 eise is opgestel deur die Vereniging van Staatsamptenare (PSA), wat 235 000 staatsamptenare verteenwoordig.

Die eerste eis van die PSA is dat staatsamptenare nie meer driejaarloonooreenkomste met die regering aangaan nie, en nou elke jaar onderhandel vir salarisse en ander voordele.

Dít kom nadat die regering gekies het om nie die laaste jaar van ’n 2018-driejaarloonooreenkoms te eerbiedig nie.

Staatsamptenare is aanvanklik ’n inflasie-plus-verhoging beloof vir 2020, maar het geen verhoging gekry nie nadat die arbeidsappèlhof in Desember die kant van die regering gekies het om nie die verhogings uit te betaal nie.

Die vakverbond Cosatu, ’n alliansie-vennoot van die ANC, en die onafhanklike PSA het hulself toe tot die konstitusionele hof gewend om 'n aansoek tot appèl.

Indien hulle daar sou slaag, sal die regering ’n bykomende R37 miljard moet opdok om die agterstallige verhogings toe te pas.

Tito Mboweni, minister van finansies, het al vantevore gesê daar is doodeenvoudig nie geld vir dié verhogings nie, en die staat sal moet leen indien die hof hom dwing om die verhogings toe te pas.

Met staatskuld reeds meer as 80% van die bruto binnelandse produk (BBP) kan die land glad nie bekostig om skielik nog skuld aan te gaan buite die beplande bedrae nie.

Mboweni se hele plan vir fiskale konsolidasie hang eintlik af daarvan dat staatsdienslone in toom gehou word, het hy verlede week met die begrotingsrede toegegee.

Die staat het gehoop om vanjaar slegs ’n 2,1%-verhoging toe te staan aan staatsamptenare, luidens die begroting.

Alle hoop vir die begroting om te klop hang daarvan af dat hierdie onderhandelinge slaag.

Maar nou het die PSA uitgevaar met buitensporige eise wat die hele begroting kan kniehalter en sodoende die dreigende fiskale afgrond kan aanlok.

Die PSA eis dat staatsamptenare vanjaar ’n verhoging van sowat 7,2% kry, met inflasie tans op 3,2%.

Daarmee saam soek die vakbond nog baie meer toelaes en voordele vir die meer as een miljoen staatsamptenare in die staat se diens.

Die PSA wil wegdoen met intreevlaksalarisse en staatsamptenare almal bevorder tot vlak 4.

Die vlakke 1 tot 3 moet mee weggedoen word, reken die PSA.

Covid-19 het ook vir die PSA nog ’n geleentheid gebied om te onderhandel vir meer voordele.

Die PSA reken staatsamptenare is geregtig op ’n 12%-risiko-toelae van hul salaris vir rampe soos Covid-19.

Dit sou beteken dat staatsamptenare in effek ’n 12%-bonus moet kry in die geval van ’n ramp.

Staatsamptenare soek ook ’n toename in hul behuisingstoelae tot R2 500 per maand.

Waar amptenare tans gedwing word om self te spaar vir behuising in ’n behuisingskema, wil die PSA hê dit moet opsioneel word en dat alle spaargeld in ’n nuwe fonds by die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) belê word.

Al hierdie geld moet dan aan amptenare teruggegee word, met rente, indien hulle die staatsdiens verlaat.

Die PSA eis dat daar geen meer perke op salarisvlakke toegepas moet word nie.

Hy wil hê selfs die hoogste salarisvlakke moet onbepaald verhogings kan kry.

Boonop soek staatsamptenare bykomende verlof.

Staatsamptenare word jaarliks gedwing om hul verlof, nes in die private sektor, in te span om die sluitingsperiode oor Desember te dek.

Die PSA sê dit is onregverdig en eis nou dat spesiale verlof toegeken word vir die weke wat die staatsdiens sy deure sluit oor Desember sodat werkers hul volle verlof self kan toepas oor die res van die jaar.

Die PSA soek ook verlof vir die volgende:

  • Drie dae vir godsdienstige pligte;
  • Onbepaalde verlof vir rampe, soos vloede, pandemies en stakings wat die werkgewer moet toestaan indien daarvoor gevra word;
  • Spesiale verlof vir mense wat slagoffers is van geslagsgeweld.

Die PSA wil hê werkers moet hul opgehoopte verlof mag verkoop in enige stadium, nie net aan die einde van hul loopbaan nie.

Weens Covid-19 het baie staatsamptenare van die huis af gewerk.

Die PSA wil nou hê dit moet ’n permanente opsie word en dat alle kostebesparings oorgedra word aan amptenare in die vorm van ’n toelae vir skryfgereedskap, data, elektrisiteit, en dies meer.

Alle vastetermyn-kontrakwerkers wat al langer as vier maande vir die staat werk, moet volgens die PSA heeltydse werknemers gemaak word, met alle voordele.

Hy reken die staat se doel vir volle indiensneming moet begin met die staatsdiens, en nog meer mense moet aangestel word.

Mboweni het in sy begrotingsrede egter aangedui hy wil die staatsdiens verklein deur natuurlike personeelafname en deur nie vakante poste te vul nie.

Maar staatsamptenare wil nou hê hul kinders moet volle beurse vanaf die staat kry om verder te studeer as ’n prestasiebonus.

Hul kinders moet ’n toelae kry vir koshuisgelde sodat werknemers hulle nie hoef te bekommer oor hul kinders se reis na die skool toe nie.

Staatsdienslone is reeds die grootste punt op die begroting, sonder hierdie verhogings en voordele.

Uit elke rand wat die staat invorder, word 47c bestee net op salarisse. Uit die hele begroting, skuld inkluis, word 32% bestee aan die vergoeding van staatsamptenare.

Suid-Afrika bestee bykans 15% van BBP op staatsdienslone, wat hom op ’n gelyke vlak bring met lande soos Denemarke en Noorweë.

Mboweni beoog om tydens onderhandelinge met vakbonde slegs ’n verhoging van 2,1% vanjaar toe te staan, en slegs 1,2% per jaar vir die volgende twee jaar daarna.

Hy het weggedoen met prestasiebonusse in sy aanname en gesê hy wil wegdoen met die jaarlikse lewenskoste-aanpassing in die staatsdiens.

As dit nié materialiseer nie, sal Suid-Afrika se staatskuld nie stabiliseer onder 90% van BBP teen 2025 nie en dreig ’n volslae skuldstrik wat die land oor die fiskale afgrond kan stoot.

“ ’n Afwyking van hierdie aanname in die komende loonooreenkoms sal onbekostigbaar wees en die staat se poging om skuld te stabiliseer, in gevaar stel,” sê die tesourie.

Meer oor:  Cosatu  |  Psa  |  Loondispuut  |  Staatsdienslone  |  Staatsamptenare  |  Vakbonde  |  Staatskuld  |  Staatskas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.