Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Hoekom nuwe regstel-wet ‘ongrondwetlik’ is

Nuwe voorgestelde wetgewing oor regstellende aksie is inherent ongrondwetlik en sal die situasie vir die meeste swart mense vererger eerder as verbeter, meen die Instituut vir Rasseaangeleenthede (IRR).

qlfs1904, werkloos, ongelykheid, armoede
’n Werklose jong man sit moedeloos op die strate van Kaapstad. Foto: William Horne

Dr. Anthea Jeffreys van die instituut het Dinsdag deelgeneem aan ’n openbare sitting van die parlement se portefeuljekomitee oor indiensneming aangaande die wysigingswetsontwerp oor diensbillikheid.

Jeffreys waarsku die Covid-19-inperking het reeds beduidende skade aan die ekonomie aangerig. Die wysigingswetsontwerp, met die koste en skade wat dit gaan meebring, sal dinge net vererger wanneer Suid-Afrika dit nie kan bekostig nie.

Jeffreys meen die wetsontwerp moenie op die private sektor van toepassing wees nie, terwyl die staatsektor reeds naby die teikens vir regstellende aksie is wat die nuwe wetgewing voorstel.

“Suid-Afrika moet meer beleggings lok om groei en werkskepping aan te moedig. Die ekonomie kon R1 000 miljard groter gewees het en 2,5 miljoen meer werkgeleenthede gehad het as hy teen dieselfde koers as ander opkomende markte kon groei.”

Die nuwe wetgewing sal dit net moeiliker maak, sê Jeffreys.

‘Verkeerde aannames’

Sy meen die wetgewing is gegrond op die aanname dat swart mense nie vooruit kan gaan sonder so ’n wet nie.

Sy meen die wetsontwerp kyk die versperrings mis vir opwaartse mobiliteit soos lae groei, hoë werkloosheid, swak onderwys, hoë misdaad, en gesinne wat opbreek. Twee derdes van alle swart kinders word groot sonder die steun van albei ouers.

Demografiese verteenwoordiging is ’n onmoontlike doelwit, volgens Jeffreys.

Tog mik die wetsontwerp na verteenwoordiging op grond van swart mense se aandeel in die ekonomies aktiewe bevolking (EAP). Tans is dit 79%, wat ingevolge die voorgestelde wetgewing op alle vlakke van indiensneming bereik moet word.

Maar Jeffreys wys daarop dat die werkende swart bevolking baie jonk is. Die helfte is onder 25 en outomaties het hulle te min ervaring vir bestuurs- en ander senior poste, wat net oor tyd kan ontwikkel.

Meer as 9 miljoen swart mense in die ekonomies aktiewe bevolking is werkloos en het min werkervaring.

Jeffreys meen bestuurders behoort minstens 35 jaar oud te wees.

In 2019 het die swart mense in die ouderdomme 35 tot 64 jaar net 43% van die EAP uitgemaak, wat ’n meer realistiese teiken as 79% is. Baie bestuurs- en professionele poste vereis gegradueerdes, maar net 5% van swartes bo 20 is gegradueerd, en baie is onlangse graduandi met min werkervaring.

In die staatsdiens is 77% van die topbestuurders swart, so die doelwit daar is byna bereik.

Dit is dan egter steeds nie volgens toepaslike ouderdom en opvoedingsprofiel nie, maar danksy rigiede kwotas en onbuigsame teikens. “Mense word aangestel volgens hul potensiaal om die vermoë te bereik om wel die werk te doen, poste word vakant gelaat of lojale kaders word ontplooi.”

Onbekwaamheid versprei

Sy het prof. William Gumede van die Universiteit van die Witwatersrand aangehaal wat per geleentheid gesê het senior bestuurders en direksies in die staatsektor word dikwels aangestel vir patronaatskap en vir politieke en korrupte redes, en nie op grond van hul bekwaamheid nie. Verder stel die onbekwame bestuurders dikwels familielede, vriende of ander vennote in middel- en laerbestuursposte aan, wat die onbekwaamheid-sone bloot afwaarts versprei.

Selfs voor 1999 het 90% van die 150 grootste maatskappye in die private sektor volgens Jeffreys reeds regstellende aksie vrywillig ingestel, en hulle het 10% tot 20% beter salarisse aan senior swart personeel betaal. Teen 2020 was 12% van senior bestuurders in die private sektor swart.

Volgens Jeffreys is aanvanklik aan die private sektor belowe dat die teikens vir regstellende aksie buigsaam sou wees, maar dié belofte is weggekalwe deur die bemagtigingskodes en veranderings sedert 2013, asook die streng boetes van soveel as 10% van ’n maatskappy se jaarlikse omset, wat baie maatskappye bankrot sal laat.

Onbeperkte diskresie

Sy wys op art. 15a van die wysigingswetsontwerp wat die minister van indiensneming en arbeid die onbeperkte diskresie gee om numeriese teikens vir regstellende aksie aan aangewese werkgewers in enige nasionale sektor te stel, asook verskillende teikens op verskillende vlakke, streke en subsektore.

Daar is geen duidelike riglyne nie, en dié onbelemmerde diskresie ondermyn die oppergesag van die reg en is in stryd met die Grondwet, meen Jeffreys.

Die gewysigde art. 53 in die wetgewing bepaal dat ’n onderneming nie ’n staatskontrak kan kry sonder ’n sertifikaat van voldoening aan die minister se teikens nie, plus ander verpligtinge soos die nasionale minimum loon. Jeffreys waarsku dit sal die staat se verkrygingskoste opjaag, want met veel minder ondernemings wat meeding om kontrakte, beteken dit die oorblywende tenderaars kan pryse opblaas.

Die waarnemende verkrygingshoof van die nasionale tesourie het juis as een van die eerste mense wat in 2018 voor die Zondo-kommissie getuig het, genoem dat 50% van staatsaankope nie volgens die korrekte verkrygingsreëls gedoen word nie.

Dit is die swart meerderheid wat volgens Jeffreys die meeste daaronder ly, want die geld kom nie uit waar dit moet nie.

Volgens Jeffreys bevorder rasseteikens nie gelykheid nie. Sedert 1994 tot 2020 het Suid-Afrika se Gini-koëffisiënt van 0,59 na 0,63 gestyg. Al wie bevoordeel is, is ’n klein swart elite. Ondanks strenger rasseteikens het die onderste 40% van swartes steeds dieselfde aandeel in die nasionale inkomste – dit het van 3,4% in 2006 net effens verbeter tot 3,7% in 2015.

Koepons

Die IRR stel voor dat regstellende aksie eerder vervang word met staatsgefinansierde koepons, wat ook deels deur die sakesektor gefinansier kan word, as hulp aan armes vir beter gesondheidsorg, onderwys en behuising, ongeag hul velkleur. Mense kan op grond van ’n middeletoets aansoek doen.

Tot 99% van die begunstigdes sal in elk geval swart wees, maar dit kan tot meer werkskepping en welvaart bydra.

Meer oor:  Werkloosheid  |  Parlement  |  Regstellende Aksie  |  Seb  |  Swart Ekonomiese Bemagtiging  |  Indiensneming  |  Covid-19  |  Ras
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.