Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Dís impak van 21 dae inperking op ekonomie – Resbank

Selfs as die staat van inperking net 21 dae duur, kan meer as 370 000 mense hul werk in die formele sektor verloor en kan 1 600 ondernemings bankrot speel.

Lesetja Kganyago, governor of South Africas centra
Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank. Foto: Getty Images

Daarby gaan dié drie weke -2,6% tot ekonomiese groei vir die jaar bydra.

Dis die voorlopige voorspellings van die Reserwebank, wat Maandag sy halfjaarlikse oorsig oor monetêre beleid uitgereik het.

Die formele sektor sluit nie huiswerkers en mense in die informele sektor in nie. Die Reserwebank se raming is ook aansienlik minder as die tussen een miljoen en twee miljoen poste wat die ekonoom Mike Schüssler van Economists.co.za raam verlore sal gaan.

In ’n regstreekse webuitsending het dr. Chris Loewald,, lid van die Reserwebank se monetêrebeleidskomitee, gesê Covid-19 is die grootste skok vir die wêreldekonomie sedert Lehman Brothers in 2009 bankrot gespeel het.

Dit kom op ’n tydstip dat die land reeds in ’n resessie is.

Loewald sê hul ramings word letterlik van dag tot dag aangepas weens die onsekerheid oor die impak van die skok – veral omdat dit nog onseker is of die staat van inperking verleng gaan word.

Hy sê sekere sektore van die ekonomie – soos toerisme en dienste – word baie harder getref, maar sal ook makliker terugbons. Dit maak voorspellings baie moeilik.

Loewald sê dis baie positief dat Suid-Afrika proaktief gereageer het op die krisis en ondernemings vinnig gereageer het.

Hy waarsku ook dat die geskiedenis wys dat virussiektes in golwe kom, wat beteken dis onrealisties om te dink dit gaan eenmalig oor en verby wees.

Hy sê ondernemings moet voorberei op ’n paar golwe wat hul sake kan beïnvloed.

Gegewe laer inflasie, het die Reserwebank wel ruimte vir die verdere verslapping van monetêre beleid, selfs te midde van die skerp verswakking van die rand, volgens Loewald. Die rand het Maandag by R19,43 teenoor die dollar gedraai het.

Loewald sê die Reserwebank se stappe – soos die verlaging in die rentekoers met ’n hele persentasiepunt in Maart en die aankoop van staatseffekte – kan help met ekonomiese herstel ná die inperking.

“Breër hervormings is egter noodsaaklik om die groeikoers te verbeter.”

Volgens die oorsig het die rentekoersverlaging R32,3 miljard teruggesit in die sak van gewone Suid-Afrikaners en ondernemings. Dit bedra 0,62% van die bruto binnelandse produk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.