Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Rommelstatus of dieper’ vir SA by S&P
The headquarters of Standard and Poors in New York
Suid-Afrika se kredietgradering by S&P is onveranderd op sogenaamde rommelstatus gehou. Foto: Getty Images.

Die paar moontlikhede van verbetering wat in Suid-Afrika se kredietgradering by Standard & Poor’s Global Ratings (S&P) se verslag genoem word, versteek net die feit dat ons eintlik “net mooi gaan bly waar ons is”.

So som Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec, S&P se verslag oor Suid-Afrika se kanse om uit rommelstatus te kom, op.

Suid-Afrika se kredietgradering by S&P is Vrydag onveranderd op sogenaamde rommelstatus gehou, en sy vooruitsig dui op geen werklike kans vir vinnige verbetering nie.

S&P, wat Suid-Afrika se randgedenomineerde staatskuld op BB+ (of een vlak onder beleggingsgraad) en dollargedenomineerde staatskuld op BBB (of twee vlakke onder beleggingsgraad) sit, noem in sy verslag verskeie maniere waarop die regering Suid-Afrika se ekonomiese en fiskale situasie kan verbeter.

Hy spreek byvoorbeeld die hoop uit dat die land se stygende staatskuld, grootliks weens Eskom se skuldkrisis, op kort termyn ná die verkiesing aandag sal kry. Hy sê sulke pogings moet voortduur om verdere afgraderings te vermy.

Maar Bishop wys daarop dat S&P in dieselfde verslag sy vooruitsig vir staatskuld hoër aangepas het tot 56% van die bruto binnelandse produk teen 2023.

Die verslag waarsku oor talle slaggate wat voorlê indien die regering nie aandag gee aan sukkelende staatsondernemings, die kwesbare lopende rekening en kwynende verbruikersvertroue nie.

Baie van wat S&P sê die land beter kán doen, verskil van wat hy in werklikheid voorspel, en dit “dui op min kans dat ons die kredietgradering kan verbeter”, sê Bishop.

Die verslag waarsku oor talle slaggate wat voorlê indien die regering nie aandag gee aan sukkelende staatsondernemings, die kwesbare lopende rekening en kwynende verbruikersvertroue nie. Dit kan alles tot verdere afgraderings lei, waarsku S&P.

Bishop sê Suid-Afrika se kredietgradering gaan ten beste op kort tot middel termyn onveranderd – op rommelstatus – bly.

“S&P se sentrale boodskap blyk te wees dat ons hier sal sit.”

Bishop sê S&P is die vinnigste van die drie hoofkredietgradeerders om graderings aan te pas.

So het hy in 2017 net drie dae nadat oudpres. Jacob Zuma vir Pravin Gordhan as minister van finansies afgedank het, Suid-Afrika se dollargedenomineerde staatskuld tot niebeleggingsgraad afgegradeer.

Moody’s Investors Service is die enigste van die drie belangrikste kredietgradeerders wat Suid-Afrika nog op beleggingsgraad, Baa3 op sy skaal, het. Moody’s het vroeër vandeesmaand ’n skerp waarskuwing uitgereik dat Suid-Afrika ’n risiko loop om sy beleggingsgraad te verloor indien beleid nie voldoende aandag gee aan stygende soewereine skuld, fiskale oorbesteding en trae ekonomiese groei nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.