Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Dis Trump wat jou sak gaan ruk
Pres. Donald Trump van die VSA en pres. Xi Jinping van China.

Die rand het Woensdag gesteier nadat die VSA sy vuis vir China gebal het oor invoertariewe.

Byna alle ontluikende geldeenhede het geval, maar die rand het volgens Bloomberg met die meeste geval.

Dit verhandel nou baie na aan R14 per dollar en is op vlakke wat laas in November 2017 in die senuagtige aanloop tot die ANC se leierskonferensie gesien is.

Dit is slegte nuus net ’n dag voordat Statistieke Suid-Afrika aankondig hoe die land se inflasiekoers op die oomblik daar uitsien. Die swakker rand kan inflasie oor die volgende paar maande skerp laat styg, wat slegte nuus is vir verbruikers wat reeds baie swaar trek.

Die opbrengskoers op staatseffekte het ook skerp gestyg weens die swakker rand, wat die terugbetaling van skuld vir die staat duurder gaan maak en die staat se begroting onder verdere druk plaas.

Wêreldbeleggers onttrek hulle aan ontluikende markte soos wat die moontlikheid van ’n uitgerekte handelsoorlog tussen die wêreld se grootste lande al hoe groter lyk.

Opmerkings die afgelope week deur pres. Donald Trump van Amerika was die olie op die vuur.

Trump het Robert E. Lighthizer, sy handelsverteenwoordiger, opdrag gegee om $200 miljard se Chinese goedere te identifiseer wat onderhewig gemaak kan word aan invoertariewe van 10% of meer tensy China bes gee.

Daar word verwag die Trump-regering gaan swaarder tariewe instel op slimfone, speelgoed, televisies en klere wat uit China ingevoer word.

Dit is benewens $50 miljard se tariewe wat Vrydag aangekondig is en sal geld op hoofsaaklik nywerheidsgoedere.

Die VSA het Vrydag ’n invoertarief van 25% aangekondig op sekere produkte wat nagenoeg $50 miljard se ingevoerde Chinese goedere gaan raak.

Pres. Xi Jingping van China het dadelik ’n invoertarief van 25% ingestel op goedere wat $34 miljard se Amerikaanse invoer raak, berig CNBC.

Volgens The Washington Post voer die VSA $505 miljard se goedere uit China in en China voer $130 miljard se goedere uit die VSA in.

China het intussen gedreig om terug te baklei.

As dit nie Turkye is nie, is dit Italië, en as dit nie Italië is nie, is dit die handelsoorloë.
Gordon Kerr, FirstRand

Die land se ministerie van handel het Dinsdagoggend in ’n nuusverklaring op sy webwerf gesê hy sal “teenmaatreëls” instel om sy eie belange en die voordele van vryhandel te beskerm. Die verklaring beskryf Trump se uitlatings as “afpersing”.

Die dreigende tariewe verbreek volgens China vorige ooreenkomste tussen die twee lande.

’n Handelsoorlog sal mense en maatskappye in albei lande seermaak, luidens die verklaring.

Volgens ontleders is daar nie ’n ooglopende plaaslike oorsaak vir die verswakking van die rand nie. Hoewel sakevertroue die afgelope maande weer verswak het en ekonomiese syfers – soos die bruto binnelandse produk – baie swak is, word dit nie as die rede vir die swakker rand beskou nie.

Die rand het verlede week net effens veld verloor nadat die Federale Reserweraad sy rentekoers vir die tweede keer vanjaar verhoog het.

Politieke risiko in Europa, waar sentiment teen lidmaatskap van die Europese Unie al hoe sterker word, speel ook ’n rol om ontluikende geldeenhede te laat verswak en daarby was daar krisisse met die Turkse lire en Argentynse peso.

“As dit nie Turkye is nie, is dit Italië, en as dit nie Italië is nie, is dit die handelsoorloë,” sê Gordon Kerr van FirstRand.

“Daar is op die oog af rede op rede vir die verkoop uit ontluikende markte.”

Aandelebeurse in Europa het ook Dinsdag vir die derde agtereenvolgende handelsdag verswak.

Die Stoxx Europa 600-indeks het vroegoggend met 1,2% gedaal tot die laagste vlak in byna twee maande. Veral myn- en tegnologiefirmas en motorvervaardigers het markwaarde verloor aangesien hulle waarskynlik die meeste geraak kan word deur ’n handelsoorlog.

Teen 12:00 het die JSE se indeks van alle aandele met 0,86% gedaal.

Meer oor:  Donald Trump  |  China  |  Vsa  |  Handelsoorlog  |  Dollar  |  Rand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.