Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Dís wat ekonome al 3 jaar lank by Cyril wil hoor

Wat gaan by staatsondernemings gebeur? Dit bly maar die grootste vraagstuk wat ekonome wil hê pres. Cyril Ramaphosa moet Donderdag in sy staatsrede takel. Hier is nog probleme waaroor die president helderheid moet gee.

Pres. Cyril Ramaphosa lewer sy staatsrede Donderdagaand.

Netwerk24 het ekonome gevra wat hulle graag in die staatsrede wil hoor en wat hulle dink hulle nié gaan hoor nie.

Dit is egter opmerklik dat daar ’n paar kwessies is wat ekonome jaar ná jaar op hul wenslysie plaas. 

Staatsondernemings en wat met hulle gedoen gaan word, is een daarvan.

4 WELBEKENDE PROBLEME

1. Staatsondernemings

Ekonome wil spesifiek hoor dat die staat van die staatsondernemings óf gaan privatiseer óf gaan sluit en definitief nie meer geld aan hulle gaan leen nie.

Of hulle vanjaar gaan hoor wat hulle al die afgelope drie jaar wou hoor, sal gesien moet word. Dit kom immers terwyl Eskom en die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) bakhand staan vir reddingsboeie en waarborge.

Dawie Roodt, hoofekonoom by die Efficient Group, sê teen dié tyd reguit hoewel hy graag wil hoor dat die staat die SAL gaan privatiseer of selfs toemaak, is hy doodseker hy gaan dit – net soos vorige jare – nie hoor nie.

LEES OOK: SAL-vlieëniers dreig om te staak oor nuwe baas

Emile du Plessis, ekonoom van Finometrica, sê wat hy graag vanjaar sal wil hoor is hoe die staat beplan om staatsinstellings se geldelike verknorsing vinnig te takel.     

2. Grondregte

  

Staatsrede
Ramaphosa lewer sy staatsrede om 19:00 op Donderdag 20 Junie. Volg die nuus en ontledings regstreeks op Netwerk24.

Ekonome wil sedert Februarie 2018, kort nadat die ANC bekend gemaak het dat hy ten gunste van die onteiening van grond sonder vergoeding is, hoor presies wat beplan word en hoe dit deurgevoer gaan word.

Dawie Klopper, beleggingsekonoom van PSG Wealth, sê hy wil spesifiek hoor dat eiendomsreg in Suid-Afrika gewaarborg gaan word.

  

3. Korrupsie, oor- en wanbesteding

  

Prof. Jannie Rossouw, hoof van die skool vir ekonomiese en sakewetenskappe aan die Universiteit van die Witwatersrand, het al in 2018 gesê hy sou graag meer wou hoor wat die volle waarheid agter die skenking van Bosasa aan Ramaphosa se verkiesingsfonds of aan sy seun is.

Chris Harmse, ekonoom van Rebalance Fund Managers, sê vanjaar wil hy graag hoor dat die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping se aanbevelings toegepas gaan word. Hy sê hy twyfel egter of Ramaphosa oor korrupsie-aanklagte standpunt gaan inneem.

4. Nasionale Ontwikkelingsplan

  

Ekonome het reeds in 2016 gesê hulle sal tasbaarder stappe wil sien oor hoe dié plan geïmplementeer gaan word.

Ramaphosa het die week ná die verkiesing op 8 Mei op Goldman Sachs se beleggingskonferensie gesê dat die staat nou daarop gaan fokus om dié plan uit te voer.

Fanie Brink, ’n onafhanklike ekonoom, sê hy sou wou hoor dat Ramaphosa juis die plan ter syde gestel het, maar hy weet hy gaan dit nie hoor nie.

4 NUWE PROBLEME

  

Benewens hierdie kwessies waarop ekonome lank reeds fokus, is daar nou ’n paar nuwes op die lys:

  

1. Reserwebank

  

Rossouw sê hy wil graag duidelikheid oor die regering se standpunt oor die Reserwebank se monetêre beleidsraamwerk hê. Hy sê Ramaphosa kan selfs as deel van sy staatsrede aankondig dat hy Lesetja Kganyago weer as president en Daniel Mminele as adjunkpresident van die bank aangestel het.

Harmse sê hy twyfel of Ramaphosa wel enige uitspraak oor die kwessie gaan lewer.

  

2. Grondwet

  

Wat grondhervorming én die mandaat van die Reserwebank betref, bestaan die vraag of die staat beplan om wel veranderinge aan die Grondwet te maak.

Koos Coetzee, ekonoom by die Melkprodusenteorganisasie, sê hy sou bitter graag vanjaar wil hoor dat die regering geen planne het om veranderinge aan die Grondwet te maak nie.

3. Kredietgradering

  

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient-groep.

Wat gaan die land doen om sy kredietgradering te verbeter? Verskeie ekonome het sedert 2016 ’n groot fokus hierop geplaas. Toe het al drie die groot kredietgraderingsagentskappe nog die land se staatskuld op beleggingsvlak gegradeer.

Nou is dit net Moody’s Investor Service wat nog dié status vir Suid-Afrika se skuld handhaaf terwyl Fitch Ratings en Standard & Poor’s Global Ratings (S&P) die land se kredietgradering lank reeds tot onder beleggingsvlak, oftewel rommelstatus, afgegradeer het.

Moody’s het in Junie gewaarsku dat die kwartaallikse daling van 3,2% in Suid-Afrika se bruto binnelandse produk “kredietnegatief” is.

S&P het weer gewaarsku dat sou die onafhanklikheid van die Reserwebank in gedrang kom, kan die land moontlik dieper in rommelstatus afgegradeer word.

4. Pensioenfondsgeld

  

Verskeie ontleders vrees dat Ramaphosa die ANC-verkiesingsmanifes gaan herhaal, naamlik dat daar aan pensioenfondse voorgeskryf gaan word om in infrastruktuurprojekte te belê.

  • Mike Schüssler, ekonoom van Economists.co.za, het volgens Rapport gesê dis ’n onweerstaanbare bron van finansiering, soos dit ook vir die apartheidsregering in die 1980’s was.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.