Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Dispuut verklaar oor lone van klerewerkers

Die klerewerkersvakbond Sactwu het ’n nasionale loondispuut verklaar nadat ’n skikking met werkgewers nie bereik kon word nie.

Sactwu
André Kriel, hoofsekretaris van die klerewerkersvakbond Sactwu. Foto: Argief

Die dispuut is verklaar teen die vyf werkgewersverenigings wat klerefabrieke in die verskillende streke verteenwoordig. Hulle het sowat 60 000 werkers in hul diens.

André Kriel, hoofsekretaris van Sactwu, sê drie rondes van formele loononderhandelinge is gehou onder die vaandel van die nasionale bedingingsraad vir die klerevervaardigingsbedryf.

Dit is die eerste keer in die dekade oue verhouding van kollektiewe bedinging virtueel gehou.

Sactwu het verlede week Donderdag die dispuut by die bedingingsraad verklaar.

Die bedingingsraad moet nou die loongeskil ingevolge sy grondwet behartig, wat ’n verpligte versoeningsproses behels.

Johann Baard, uitvoerende direkteur van die South African Apparel Association (SAAA), het by navraag gesê weens die impak wat die Covid-19-pandemie op die bedryf en die ekonomie in die breë gehad het, is ondernemings nie in die posisie om enige verhoging aan te bied nie.

In normale omstandighede tree die jaarlikse loonverhogings

begin September in werking.

Klerewerkers in een van Kaapstad se klerefabrieke. Foto: Nellie Brand-Jonker

Volgens hom is voorgestel dat onderhandelinge vir ses maande uitgestel word. Teen daardie tyd sal die bedryf in ’n beter posisie wees om te weet wat die vooruitsigte op die kort tot mediumtermyn vir die bedryf en die ekonomie is en wat met Kerstydverkope gebeur het.

Baard sê die bedryf kan nie in dié stadium enige beloftes maak oor wat dan aangebied gaan word nie.

Die vakbond was bereid om met sy lede te praat oor die voorstel van uitstel van ses maande, maar wou hê die werkgewers moet hulle verbind tot wat die verhoging in die nuwe jaar sal wees.

Die vakbond wou ook hê werkgewers moet hulle verbind tot ’n bykomende jaareindbonus vir werkers wat vir ses maande nie ’n verhoging kry nie.

“Baie van ons lede het gesê hulle weet nie eens of hul kontantvloei sodanig sal wees om die betaalde verlof van die einde van die jaar te betaal nie, wat nog te sê van die jaareindbonus.

“Die meerderheid se kontantvloei is nou al vir maande benard. Hul opsies by hul banke is uitgeput; geen lenings gaan meer toegestaan word nie.

“Die feit dat ons nie ’n bloedbad gesien het met fabrieke wat toemaak nie, is ’n wonderwerk.”

In KwaZulu-Natal het 3 000 werkers hul werk verloor weens die impak van die inperking.

Baie maatskappye in Suid-Afrika het reeds werkers afgedank of salarisse gesny.

Klerewerkers word nog hul volle salaris betaal, volgens Baard.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.