Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Distell: Hoe slim is verbod wyl SA geld moet leen?
Die verkoop van drank word steeds nie toegelaat nie. Foto: Unsplash

Die vraag moet gevra word hoe slim dit is om drankverkope te verbied en die aksynsbelasting daarop te verbeur terwyl die land weens sy finansiële verknorsing geld by die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) moet leen.

Dit is die mening van Richard Rushton, uitvoerende hoof van die drankmaatskappy Distell, wat in ’n verklaring verwys na die onthulling Vrydag oor hoeveel belastinginkomste op die eerste vlak van die inperking verloor is.

Hy sê dié onthulling laat ooglopend die koste van die hervatte verbod op drankverkope uitstaan.

Edward Kieswetter, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), het Vrydag bekend gemaak dat Suid-Afrika R82 miljard op die eerste vlak van die inperking verloor het.

Die minder belasting wat ingevorder is as waarvoor begroot is, is reeds meer as wat die land noodgedwonge van die IMF en die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika moes leen om die pandemie en die ekonomiese nasleep daarvan te kan hanteer.

Kieswetter het in die parlement gesê in die eerste drie maande van die jaar is 42% minder aksynsbelasting op alkohol- en tabak- en brandstofverkope as in dieselfde tyd verlede jaar ingevorder.

Die drankbedryf se syfers toon die belastingverlies vir die staat het in die eerste ses weke van die alkoholverbod R15,4 miljard beloop.

As die huidige verbod nog nege weke lank afgedwing word, sal ’n bykomende R13 miljard verloor word.

Volgens hom is dit drie keer die jaarlikse begroting van die Nasionale Vervolgingsgesag.

“Ons moet die vraag vra of ’n algehele verbod op verkope geregverdig is wanneer die skade baie erger is as die voordele, en wanneer daar slimmer maniere is om dieselfde doelwit te bereik.”

Die drankbedryf se syfers toon die belastingverlies vir die staat het in die eerste ses weke van die alkoholverbod R15,4 miljard beloop.

Rushton het daarna verwys dat die drankbedryf reeds 118 000 poste verloor het en dat vooruitskattings toon dat ’n verbod van ’n verdere nege weke nog 84 000 poste in die slag sal laat bly en die BBP sowat R15,5 miljard kos.

“Die langtermynskade gaan ongelooflik wees. Wynboere, restaurante, vervaardigers van glashouers en eienaars van tavernes bloei reeds en baie gaan dit nie oorleef nie.”

Hy sê ’n langdurige en blywende daling in uitset kan volg in ’n bedryf wat amper 1 miljoen mense aan die lewe hou en 3% tot die land se BBP in 2019 bygedra het.

“Ek vrees die impak op die vooruitsig vir ekonomiese herstel in Suid-Afrika, en nog belangriker, op die vermoë van mense wat hul werk verloor om hul gesinne kos te gee.”

Rushton sê die drankbedryf ondersteun nagenoeg 35 000 kleinondernemings in townships. Elke eienaar van ’n sjebien gee werk aan nog byna sewe mense.

Vir die gelisensieerde taverne-eienaars beloop dit 192 000 lewens in die townships wat deur die verbod geraak word.

Volgens hom is reeds 76 000 werke by dié ondernemings verlore.

Dan is daar nog meer as 180 000 ongelisensieerde afsetplekke vir drank in townships wat ook werk verskaf en ’n inkomste vir mense beteken.

“Die ironie is dat die verbod die sjebien-eienaars straf wat lisensies het en die wetgewing nakom, terwyl die onwettige drankbedryf aan die gang bly.”

Hy sê dit maak ’n dekade lange poging om dié bedryf te formaliseer en by die wetsraamwerk in te trek, tot niet.

Nog ’n kwessie wat in gedagte gehou moet word, is dat die regering en die bedryf se pogings om drankprobleme die hoof te bied deur sjebien-eienaars sover te kry om riskante drinkgewoontes te ontmoedig, nie suksesvol kan wees as die bedryf ondergronds bedryf word nie.

Die bedryf beraam dat die land elke dag van die verbod R206 miljoen aan belasting verloor.

Volgens Rushton is dit gelykstaande aan 1 000 onderwysers se salarisse vir ’n hele jaar.

Daar is boonop 800 mikrovervaardigers van drank, insluitende van wyn en bier, wat deur bankrotskap in die gesig gestaar word.

Die vervaardigers van glashouers, wat aan 26 300 mense werk gee, verloor R8 miljoen per dag om hul oonde aan die gang te hou. Die drankbedryf maak tot 82% van hul sake uit.

“Ons verstaan die regering het ’n plig om te verseker dat daar genoeg hospitaalbeddens is om aan die verwagte behoefte te voldoen. Maar die ekonomiese gevolge van die verbod gaan waarskynlik later nog meer lyding in terme van honger en swaarkry veroorsaak.

“Daar is alternatiewe vir ’n volslae verbod wat ons met die regering wil bespreek sodat lewens gered kan word. Dit hoef nie ’n keuse tussen ’n lewe of ’n lewensbestaan te wees nie.”

Meer oor:  Distell  |  Drankverkope  |  Drank  |  Staatskuld  |  Aksyns  |  Imf  |  Belasting  |  Drankverbod
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.