Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Dít hou toeriste weg uit SA
Hotel en gastehuisverblyf het in die afgelope jaar aansienlik afgeneem. Foto: Verskaf

Hotelle en gastehuise trek swaar.

Luidens die jongste toerisme-verblyfsyfers wat Statistieke Suid-Afrika (SSA) die afgelope week bekend gemaak het, was die besettingskoers van hotelle in Oktober 2019 2,6% laer as in Oktober 2018 (53,1% teenoor 56,1%) en vir gastehuise en -plase 29,5% laer (33,5% teenoor 42,5%) as in Oktober 2018.

Ook die inkomste van hotelle en gastehuise het skerp afgeneem, nie net weens leë beddens nie, maar ook weens nagtariewe wat afwaarts aangepas is in ’n hoogs mededingende mark.

Die inkomste van gastehuise het van R137,8 miljoen in Oktober 2018 tot R76,1 miljoen in Oktober 2019 geval. Die inkomste uit hotelverblyf was in Oktober 2019 byna R10 miljoen minder as in Oktober 2018.

In die drie maande van Augustus tot Oktober 2019 was inkomste wat uit hotelverblyf verdien is egter 2% hoër as in dieselfde drie maande in 2018.

Inkomste uit gastehuisverblyf vir die drie maande van Augustus tot Oktober 2019 was egter 16,7% minder as in dieselfde drie maande in Oktober 2018.

Christelle Grohmann, direkteur by BDO South Africa, wat spesialiseer in onder meer toerisme-statistieke, het aan Rapport gesê die gemiddelde kamertariewe van hotelle en gastehuise het afgeneem weens die swak ekonomie.

“Hotelle en gastehuise probeer tans hul besettings so hoog moontlik hou en bring dan die prys van die kamer af.

“Dit is gewoonlik finansieel verstandiger om besetting in te boet eerder as om die prys van die kamer te verlaag,” sê sy.

Rapport het vroeër berig dat buitelandse toeristesyfers ook aansienlik afgeneem het – uit die toptien-lande waaruit inwoners Suid-Afrika besoek, het sewe gedaal vir die tydperk van Augustus 2018 tot Augustus 2019. Die jongste besoekersyfers is nog nie bekend gemaak nie.

Grohmann sê die onsekerheid wat die sakeredding van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) meebring, kan toerismesyfers ’n verdere knou toedien.

“As die SAL ophou om bepaalde roetes te vlieg omdat dit onwinsgewend is, kan dit vir sommige oorsese toeriste moeilik wees om na Suid-Afrika te reis.

“In baie gevalle bestaan daar bilaterale ooreenkomste wat beteken ’n ander lugdiens kan die toeriste na Suid-Afrika bring. Maar as dit nie ’n winsgewende roete vir die SAL is nie, is dit dalk ook nie vir ’n ander lugdiens nie, wat beteken daardie toeriste gaan sukkel om Suid-Afrika te besoek,” verduidelik Grohmann.

Kaapstad is Suid-Afrika se gewildste toeristebestemming.

Die internasionale bestemmings waarheen slegs die SAL tans regstreeks uit Suid-Afrika vlieg, sluit in Washington D.C., Perth, Lagos, Dakar, Abidjan en Accra.

Dié en honderde ander bestemmings is wel steeds met Suid-Afrika verbind danksy lugdienste soos Emirates, Qatar Airways, Etihad, Ethiopian Air­lines en Turkish Airlines, wat uitgebreide internasionale netwerke in stand hou en ook daagliks na Suid-Afrika vlieg.

Grohmann sê hoewel beurtkrag nog nie ’n waarneembare invloed gehad het op toerisme-syfers nie, hang baie af van hoe dit na buite gekommunikeer word.

“Dag zero en die waterkrisis in Kaapstad het deurgesyfer na buitelandse toeriste wat tot ’n afname in besoekersgetalle gelei het – lank voordat die toerismebedryf dit behoorlik gekommunikeer het. Dit het toeriste laat afsien van hul planne om die land te besoek.”

’n Veel groter afskrikmiddel vir buitelandse toeriste is misdaad.

Die minister van toerisme, Mmamoloko Kubayi-Ngubane, het onlangs op ’n mediakonferensie erken dat ’n gebrek aan veiligheid toerisme na Suid-Afrika negatief beïnvloed.

“Dit het daartoe gelei dat internasionale aankomste in Suid-Afrika afgeneem het.”

In reaksie hierop het die departement in samewerking met die Suid-Afrikaanse polisie en die toerismesektor ’n veiligheidsplan opgestel wat proaktiewe voorsorgmaatreëls instel vir moontlike voorvalle van misdaad, wat riglyne bied om daadwerklik op te tree in die geval van ’n misdaad, asook vir die ondersteuning van misdaadslagoffers.

Private veiligheidsbeamptes sal aan die polisie rapporteer en toerisme-monitors sal by verskeie verblyfplekke ontplooi word om te help met vroeë waarskuwing, die vroegtydige eiening van risiko’s en die rapportering van misdaadvoorvalle.

Meer oor:  Ekonomie  |  Toerisme  |  Visums  |  Visumregulasies  |  Toeriste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.