Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Dobbelpolisie ‘het te veel mag’

Die Wes-Kaapse en Gautengse verenigings van beroepswedders steun nie die skep van ’n nasionale dobbelreguleerder nie omdat dit volgens hulle mag in die bedryf sal sentraliseer.

Sun Slots is gekant daarteen dat wetgewing operateurs van beperkte-uitbetalingsmasjiene wil dwing om ’n nasionale sentrale elektroniese moniteringstelsel op te rig. Foto: Unsplash

Dit was deel van die kritiek teen die nasionale Dobbelwysigingswetsontwerp waaroor die parlement se portefeuljekomitee oor handel en nywerheid Vrydag ’n openbare sitting gehou het.

Die wetsontwerp doen weg met die Nasionale Dobbelraad en vervang dit met ’n nasionale dobbelreguleerder.

Alicia Gibson, vennoot van ’n konsultasiefirma wat die voorlegging namens die twee verenigings gedoen het, sê met dié stap word kollektiewe besluitnemingsmagte opgeoffer. ’n Nasionale dobbelraad moet verkieslik behou word om voorspelbaarheid, konsekwentheid en kontinuïteit in besluitneming te verseker.

Volgens haar het Suid-Afrika ’n internasionaal erkende program teen probleem-dobbelary en die wye uitbreiding van die verantwoordelikhede van die beoogde nasionale dobbelreguleerder sal dié program verwater en iets probeer regmaak wat nie stukkend is nie.

Die Nasionale Dobbelbeleidraad behoort wel ontbind te word. In die vier jaar van die beleidraad se bestaan moes agt vergaderings gehou word, maar daar was net by drie vergaderings ’n kworum, so dit kon nooit regtig effektief besluite neem nie. Dit was veronderstel om ’n raadgewende forum te wees, maar het oor die jare heen nooit enige konkrete resultate opgelewer nie.

Die voorstel in die wetgewing dat enige besluitnemingspunte op ’n vergadering sonder ’n kworum net uitgestel word na ’n volgende vergadering, is volgens haar nie goeie korporatiewe bestuur nie en sy beveel aan die beleidraad moet ontbind word.

Ithuba vies vir wedders

Charmaine Mabuza, uitvoerende hoof van Ithuba, wat die lisensie het om die Nasionale Lotery te bedryf, steun die voorstel in die wetgewing dat die regulering van die Nasionale Lotery en die dobbelbedryf saamgevoeg word.

Mabuza sê Ithuba het beroepswedders hof toe gevat omdat hulle Ithuba se intellektuele eiendom “onwettig” gebruik.

Ithuba het R100 miljoen bestee om lotery-uitslae daagliks op televisie uit te saai, maar beroepswedders oortree Ithuba se intellektuele eiendomsregte deur bloot dié inligting oor te neem en weddenskappe daarop te neem, sê Mabuza. Sy meen wetgewing kan verskerp word om onwettige operateurs hok te slaan.

Welsyn

Volgens Mabuza het Ithuba die afgelope jaar R4 miljard aan liefdadigheidsorganisasies gegee.

Elsa Ntlangwini, EFF-lid van die komitee, het gevra hoeveel die beroepswedders aan verdienstelike organisasies geskenk het.

Volgens Gibson lewer die beroepsweddersbedryf wel bydraes tot die program vir verantwoordelike dobbelary. Dit beloop sowat 1% van hul bruto dobbelinkomste.

Alex Abercrombie, voorsitter van Sun Slots, sê die bedryf vir beperkte-uitbetalingsdobbelmasjiene skep werk vir meer as 4 000 mense. Sun Slots het ’n markaandeel van sowat 30% in dié bedryf.

Hy is gekant daarteen dat die wetgewing operateurs van beperkte-uitbetalingsmasjiene wil dwing om ’n nasionale sentrale elektroniese moniteringstelsel op te rig. Abercrombie meen dit sal die bedryf se werking belemmer omdat die staat se tegnologie verouderd is, terwyl tegnologie gedurig verander.

Oorsee gebruik operateurs hul eie elektroniese moniteringstelsels. Hy meen die regering kan toegang tot dié stelsels gegee word, pleks dat ’n nasionale stelsel op alle operateurs afgedwing word.

Sun Slots meen die bedryf kan stelsels baie goedkoper regstreeks van verskaffers aankoop as wat die staat dit probeer doen.

Bhekizizwe Radebe, ANC-lid van die komitee, het gesê die dobbelbedryf is die groot wenner in die bedryf, nie die mense wat dobbel nie. Hulle verloor net.

Meer oor:  Ithuba  |  Lotto  |  Dobbelbedryf  |  Dobbel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.