Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Dorpe: R1 mjd. vir konsultante, oudits steeds swak

Munisipale finansies verswak steeds, waarsku Tsakani Maluleke, ouditeur-generaal (OG).

Sy het Dinsdag verslag gedoen aan die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor).

Meer as 27% van die munisipaliteite het geen versekering dat hulle as lopende saak kan voortgaan nie, blyk uit die ouditverslag oor munisipale finansies vir die 2019-’20-boekjaar wat sy met Skoor bespreek het.

LEES OOK: Wes-Kaap weer tops met oudits

Daar is ernstige swakhede in finansiële verslagdoening by munisipaliteite. Dit blyk dat munisipaliteite van jaar tot jaar swaar steun op buitekonsultante om bloot hul basiese finansiële state op te stel. Munisipaliteite het in die betrokke jaar sowat R1 miljard bestee aan sulke konsultante – en dan is daar steeds nie verbetering in die finansiële state nie.

Tsakani Maluleke, ouditeur-generaal.

Daar was tien munisipaliteite wat steeds afgewysde ouditopinies ontvang het, al het hulle konsultante gebruik vir hul state, teen ’n uitgawe van R105 miljoen aan al die konsultante.

In 68% van die gevalle was die rede vir die gebruik van konsultante dat die mense in die finansiële afdeling nie die nodige vaardighede het nie, en nié dat daar vakatures was nie. Maluleke waarsku dit werk nie om teen die jaareinde ’n kitsoplossing te soek deur konsultante in te roep om te probeer help nie.

Daar is talle munisipaliteite in die Oos-Kaap, die Vrystaat, KwaZulu-Natal oor wie daar twyfel is of hulle ’n lopende saak is.

Daar was 22 munisipaliteite wat afgewysde ouditopinies gekry het. Oor R6,49 miljard se inkomste wat hulle ontvang het, het hulle nie opgawes nie.

Die meeste van hulle is onder administrasie, en sommige is al vir vier jaar onder administrasie.

Maluleke is wel bly dat daar geen sulke munisipaliteite in Gauteng is nie. In die Wes-Kaap is daar net een: Beaufort-Wes. Die provinsie met die meeste munisipaliteite met afgewysde ouditopinies is in Noordwes, gevolg deur die Oos-Kaap, Mpumalanga en KwaZulu-Natal.

Net 24% van die munisipaliteite kon prestasieverslae indien wat betroubaar is, sê Maluleke. Dit wys die dissipline om getrou monitering te doen, is afwesig of gebrekkig.

Tot R26,09 miljard se uitgawes was onreëlmatig, maar Maluleke vermoed die werklike bedrag is meer as dít weens die swak verslagdoening.

Net 27 munisipaliteite het skoon oudits ontvang. Dit is wel beter as die vorige jaar se 20. Tot 89 oudits was ongekwalifiseerd met bevindings, en 66 was gekwalifiseerd.

Wat vir Maluleke kommer wek, is dat die 27 munisipaliteite met skoon oudits net 11% van die totale aantal munisipaliteite verteenwoordig, en 9% van die totale begroting.

Daar was 57 munisipaliteite wie se oudits teen die einde van die ouditperiode uitstaande was. Hiervan is 32 intussen voltooi en 25 is nou nog nie afgehandel nie. Dit is weens state wat nog nie ingedien is nie of wat laat ingedien is. Heelparty daarvan is van munisipaliteite in die Vrystaat.

Maluleke sê dis moeilik om munisipaliteite in Mpumalanga te oudit. Hulle bestuur hul finansies basies uit hul bankrekeninge, en dan probeer hulle aan die jaareinde rondskarrel om al die bewyse te vind om finansiële state te kan opstel.

Oor Noordwes word al lank gewaarsku.

Die Wes-Kaap behou sy prestasie dat hy die provinsie is met die meeste munisipaliteite met skoon oudits. Dit is danksy onder meer steun van die provinsiale regering.

Die Witzenberg-munisipaliteit is uitgesonder vir hul leierskap, en vir die munisipale bestuurder wat seker maak dat die interne oudit self doeltreffend is, sê Maluleke.

Meer oor:  Munisipale Skuld  |  Og  |  Munisipaliteite  |  Oudits  |  Ouditeur-Generaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.