Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Draaiboek vir die oorname van die tesourie

Ingeligte staatsamptenare glo Pravin Gordhan, minister van finansies, se weiering om twee waarborge deur die tesourie te teken – een vir ’n R1 000 miljard-kernkragprojek en een vir ’n R5 miljard-lening vir die SAL – lê aan die hart van die pogings van pres. Jacob Zuma om hom uit sy amp te verwyder.

Adriaan Basson, redakteur van News24.

Die draaiboek vir die oorname van die tesourie, na bewering met Zuma en die Gupta-familie as baasbreine, verloop só:

1. Arresteer eers vir Gordhan.

Hoewel die klagte teen hom uiteindelik kan misluk, moet hy in ’n onhoudbare posisie geplaas word en gedwing word om te bedank. Selfs sy grootste ondersteuner sal saamstem dat dit nie wenslik is om ’n strafregtelike ondersoek na ’n minister van finansies te hê nie.

2. Vervang Gordhan dan deur ’n buigsame kandidaat wat Zuma se wense sal uitvoer.

Die name van Sfiso Buthelezi, ANC-LP, voormalige voorsitter van Prasa en raadgewer vir Zuma as LUR in KwaZulu-Natal, asook dié van Des van Rooyen word in dié verband genoem. Zuma glo steeds Van Rooyen, minister van samewerkende regering en tra­disionele sake, is ’n verdienstelike ­kandidaat.

Van Rooyen het onlangs ’n voorlegging oor die SAID aan die ANC se nasionale uitvoerende komitee gedoen en het oor die naweek vir Gordhan aangespoor om met die Valke saam te werk.

3. Daar sal dan blitsvinnig van die nuwe minister van finansies verwag word om twee stukkies papier te teken: die staatswaarborge vir kernkrag en vir die SAL.

Dit beteken die tesourie aanvaar volle verantwoordelikheid om (a) vir Rusland se Rosatom (hoewel die tenderproses nog nie amptelik geformaliseer is nie) R1 000 miljard plus rente te betaal en (b) die finansiële instelling wat vir die nasionale lugdiens geld leen, terug te betaal indien hy (in alle waarskynlikheid) in gebreke bly om dit te doen.

Dit beteken prakties ook dat Suid-Afrika bankrot verklaar kan word, sê sommige.

4. Die minister se tweede taak sal wees om alle ondersoeke na Gupta-maatskappye met bande met die regering te staak.

Dit sluit in Tegeta Exploration and Resources se winsgewende steenkoolkontrak met Eskom, die omstrede transaksie tussen Denel en VR Laser in Asië en Transnet se kontrakte met Trillian.

Die Zumas het kernkrag-aanlegte nodig om baie, baie ryk te word.

Waar pas Zuma en die Guptas hier in? Zuma se seun Duduzane is ’n groot aandeelhouer in Shiva Uranium, wat besit word deur die Gupta-familie se Oakbay Resources and Energy.

Zuma jr. en sy vriende sal uraan produseer terwyl Suid-Afrika – toevallig – Russies geborgde kernkragaanlegte bou wat uraan nodig het om te funksioneer.

Kortweg: Die Zumas het kernkragaanlegte nodig om baie, baie ryk te word.

Tina Joemat-Pettersson, minister van energie, het in September 2014 die transaksie byna beklink toe sy ’n geheime ooreenkoms met Rosatom in Wene onderteken het wat Suid-Afrika daartoe verbind om ’n kontrak met Rusland te sluit.

Nhlanhla Nene, voormalige minister van finansies, het glo geweier om ’n verdere ooreenkoms met Rusland te onderteken. Dit was in November 2015, drie weke voordat hy deur Zuma in die pad gesteek is.

Zuma en sy Russiese ampsgenoot, Wladimir Poetin, het ’n vreemde nabye verhouding en het mekaar van 2013 tot 2015 minstens vier keer besoek.

Gerugte oor omkoopbetalings deur die Russe indien die kernkragtender suksesvol is, is volop.

Gordhan het tot dusver geweier om ’n R5 miljard-waarborg vir die SAL te onderteken voordat ’n nuwe raad en beheerstruktuur vir die beleërde lugdiens aangestel is. (Vrydag is Zuma se nabye vertroueling Dudu Myeni weer aangewys as SAL se voorsitter en de facto- uitvoerende hoof.)

In ’n gesprek verlede Vrydag met die personeel van die tesourie het Gordhan die saak teen hom direk verbind met die “aanval” deur die Guptas. Hulle val my aan oor wat julle daagliks doen, het hy glo gesê.

Shaun Abrahams moet nou besluit of die Valke al genoeg getuienis teen Gor­dhan en sy voormalige kollegas by die SAID ingewin het om strafregtelike vervolging te regverdig. Die tydsberekening, in die lig van die waarborge wat gesoek word en die tesourie se dreigende optrede teen Gupta-entiteite, lyk bedenklik.

Die vraag kan ook gevra word waarom brig. Nyameka Xaba, die hoof van die Valke se eenheid vir misdade teen die staat, aan die spits is van ’n ondersoek na sake wat in wese administratief is en die vroeë betaling van ’n pensioen, wanneer hy argumentshalwe ’n ondersoek na beweerde staatskaping deur die Guptas sou kon loods.

* Adriaan Basson is redakteur van News24. Dié rubriek is ’n verkorte weergawe van die een wat op News24 verskyn het.

    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.