Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Drama by SAID stop eFiling in sy spore

Jan Taks het ’n droom gehad dat individue nie self hul belastingopgawes hoef in te vul nie, maar dat hy dit outomaties vir hulle sou doen.

Fareed Khan, verantwoordelik vir belastingnakoming by die SAID, getuig voor die Nugent-kommissie in Pretoria. Foto: Elvira Wood

Individue sou dan eerder ingelig word wat hul aanslag was en oudits sou net by uitsondering gedoen word.

Hoewel baie Suid-Afrikaners reeds gebruik maak van eFiling, wat sentraal tot hierdie plan is, is dié platform glad nie die finale produk wat die SAID in gedagte gehad het nie.

Die herstrukturering van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) onder leiding van Tom Moyane, geskorste kommissaris, het die verdere ontwikkeling van eFiling in sy spore gestuit, sê Fareed Khan, hoof van belastingnakoming in die SAID se wetstoepassingseenheid.

Ek sou dit nie ’n konsultasie noem nie, want dit was minder as 20 minute... Ons is letterlik net ingelig wat die nuwe struktuur sou wees.
Fareed Khan van die SAID

Hy het Donderdag voor die Nugent-kommissie van ondersoek oor sy bevindings oor die invloed van dié herstrukturering tussen 2015 en 2016 getuig.

“Ons glo meer as 80% van die individue wat hul aanslag by die SAID indien, wil aan die vereistes voldoen.

“Ons weet hulle verdien tipies ’n salaris, besit ’n motor en betaal premies aan ’n pensioen- en mediese fonds.

“ ’n Stelsel wat al die inligting outomaties op hul aanslag invul, sou individue die moeite spaar om dit self te doen. Die SAID sou op sy beurt weet dat al die inligting korrek geassesseer is en oudits sou meestal nie meer nodig wees nie.”

Khan sê die stelsel was reeds so ver ontwikkel dat 54% van die inligting outomaties daardeur vasgelê is.

Hy sê hoewel die stelsel aanvanklik die aantal oudits op aanslae van sowat 200 000 per jaar tot meer as 2,2 miljoen per jaar verhoog het, was die hoop dat dit later weer sou afneem namate die stelsel verfyn is.

Khan sê die stelsel lewer reeds ’n reusebydrae tot die inkomste van die SAID en het gehelp dat meer as R849 miljard tussen 2011 en 31 Maart 2018 ingesamel is.

Dié bedrag strek oor die hele belastingspektrum wat nie net individue nie, maar ook onder meer maatskappybelasting en belasting op toegevoegde waarde insluit.

Ontwikkeling gestaak

Khan sê die besluit om die ontwikkeling van die stelsel te staak, is nie met sy afdeling bespreek nie.

“Ons het net twee kort gesprekke gehad oor wat die nuwe struktuur van die SAID sou wees. Ek sou dit nie ’n konsultasie noem nie, want dit was minder as 20 minute elk. In die tweede gesprek is ons letterlik net ingelig wat die nuwe struktuur sou wees.

“Ek was so ontsteld oor die nuwe struktuur dat ek uit een van die vergaderings gestap het. Ek kon sien watter enorme impak dit op die afdeling sou hê.”

Khan sê die afdeling was skielik verantwoordelik vir verskeie ander take en moes onder meer terugbetalings aan groot maatskappye hanteer.

Khan sê Jonas Makwakwa, voormalige waarnemende bedryfshoof van die SAID, het nie begryp hoe sy afdeling deur die herstrukturering benadeel is nie.

Khan sê Makwakwa het later in ’n e-pos aan hom erken dat die nuwe struktuur nie werk nie.

Die Nugent-kommissie, onder leiding van afgetrede regter Robert Nugent, hou dié week openbare sittings in die SAID se kantore in Brooklyn, Pretoria.

Pres. Cyril Ramaphosa het die kommissie vroeër vanjaar aangestel om ondersoek na probleme met korporatiewe beheer en belastinginvordering by die SAID in te stel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.