Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Drank mag nie in motors wees’, sê Cele

Drank sal deur maatskappye vervoer mag word vir uitvoer en van vervaardigingsaanlegte na stoorplekke, maar mag nie vir private verbruik vervoer word nie, sê Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering.

Bheki Cele
Bheki Cele, minister van polisie, Dinsdagoggend tydens die webuitsending oor die nuwe regulasies. Foto: Skermgreep

Die drankbedryf was Maandagaand ná die derde verbod vir die jaar aangekondig is, bekommerd oor die uitvoer en vervoer van drank vir sakebedrywighede.

Vroeër die jaar met die eerste drankverbod het die regering dit nooit in ag geneem dat maatskappye in die bedryf hul produk van vervaardigingsaanlegte na stoorplekke moet vervoer of na hawens waar uitvoer plaasvind nie.

Dlamini-Zuma sê die vervoer van drank word net toegelaat as dit is vir uitvoer is of vir ’n vervaardiger wat dit vervoer na stoorplekke, of as dit alkohol is wat gebruik word in die bedryf en nywerhede.

“Maar as dit is vir drink, mag dit nie vervoer of versprei word nie.”

Dit beteken mense wat drank gekoop het terwyl hulle met vakansie was, sal dit nie saam met hulle huis toe kan neem nie.

Bheki Cele, minister van polisie, het op die mediakonferensie ook gesê dit beteken drank moet bly waar dit nou is.

Hy het gemaan mense moet nie met drank in die kattebak van hul motors gevang word nie.

Hy het ook gesê dit beteken drank mag nie van een huis na ’n ander huis geneem word nie. Dit mag nie per motor of per voet vervoer word nie, volgens hom.

“Dit bly waar dit is."

Hy sê mense kan in hegtenis geneem word wat dié regulasies oortree. Die straf vir 'n oortreding van die regulasies is tot ses maande tronkstraf of 'n boete of beide. 

Drankverkope is van Dinsdag verbode in drankwinkels en restaurante en ander plekke wat drank bedien.

Jy gaan dus nie in ’n restaurant ’n glas wyn kan drink saam met jou ete nie.

Dlamini-Zuma sê die drankverbod en verbod op vervoer sal vir twee weke geld en die regulasies sal dan hersien word.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het op die mediakonferensie gesê drank lei tot voller hospitale weens opnames wat met drankmisbruik verband hou. Hy sê die inligting toon hoe opnames gedaal het wanneer drankverkope verbied is.

Die drankbedryf het sy ernstige kommer uitgespreek oor die hernude drankverbod se langtermyn- ekonomiese impak op die bedryf.

“Die bedryf het ’n voorlegging aan die regering gedoen om ander alternatiewe te oorweeg anders as die nasionale verbod op formele drankverkope, verspreiding en vervoer.

“Hierdie aankondiging gaan ’n verwoestende impak hê wat potensieel tot werkverlies in die hele waardeketting van die drankbedryf en die kleinhandelbedryf kan lei.”

Die besluit is verwelkom om nie die uitvoer van drank te verbied nie.

“Die drankbedryf is een van die land se wesenlike uitvoerders en dit is kritiek dat dit toegelaat word na verskeie dele van die wêreld waar drankverkope nié verbied is nie.”

Die bedryf sê dit is verblydend dat ’n verbod op die verspreiding en vervoer vir uitvoer nie ingestel is nie, en dat maatskappye ook drank vir veilige bewaring kan vervoer.

Drankmaatskappye sê vlak 5 en 4 het getoon hoe die verbod op verkope die onwettige mark aangevuur het.

“Die onwettige mark is buite die bereik van die regering en word onbeheerd bedryf.

“Ons doen ’n beroep op die regering om deursigtig te wees oor die stand van die gesondheidstelsel en om so vroeg moontlik die verbod te hersien.”

Volgens Cele is die polisie se “oë oop vir die onwettige drankbedryf”.

Hy het gemaan dat maatskappye met dranklisensies wat gevang word met onwettige verkope, se lisensies weggeneem sal word en dat tronkstraf kan volg.

Wat die regulasies oor drank sê

In die regulasies wat Dinsdagoggend uitgereik is vir die “aangepaste” vlak 3-inperking word gesê dit is die verkoop en verspreiding van drank wat verbied word vir verbruik op die perseel en weg van die perseel.

Drankgebruik in openbare ruimtes is verbode.

Die proe deur en verkoop van drank aan die publiek deur geregistreerde wynmakers, wynplase en ander soortgelyke instellings wat as mikrovervaardigers geregistreer is, word ook verbied.

Ten opsigte van die vervoer van drank, lui die regulasies dit word net toegelaat in verband met:

  • Alkohol vir nywerheidsdoeleindes soos om handreinigers, seep of ander skoonmaakmiddels te vervaardig;
  • Vir uitvoerdoeleindes;
  • Van vervaardigingsaanlegte na stoorplekke; en
  • Van enige gelisensieerde perseel vir veilige bewaring.

Geen dranklisensies word toegestaan vir spesiale gebeure tydens die nasionale ramptoestand nie.

Fikile Mbalua, minister van vervoer, moet nog direktiewe uitvaardig vir die vervoer en stoor van drank.

Dieselfde regulasies geld vir die meer as 20 brandpunte in die land.

Meer oor:  Bheki Cele  |  Nkosazana Dlamini-Zuma  |  Vervoer  |  Pandemie  |  Inperking  |  Drankverbod
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.