Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Dreigende finansiële krisis hou Tito snags wakker
Tito Mboweni, minister van finansies

Eers kom die fiskale krisis, dan die skuldkrisis, dan die bankkrisis en laastens ’n volslae finansiële krisis – en Tito Mboweni, minister van finansies, is bang.

Mboweni het Vrydag gepraat op ’n aanlyn eeufees van die departement van ekonomie van die Universiteit Stellenbosch.

Volgens Mboweni is daar twee breë kategorieë goed wat hom snags wakker hou.

“Voor die inperking was ons reeds in ’n tegniese resessie en die staat se inkomste was klaar aan die kwyn.”

Die daaropvolgende inkrimpings weens die inperking in bykans elke bedryf behalwe landbou was “rampspoedig” en gaan langtermyngevolge hê.

Volgens Mboweni gaan die staat se belastinginkomste vir die jaar R302 miljard minder wees as wat begroot is.

Hy is baie bekommerd hieroor.

“Die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) gaan nie gewild wees nie.”

Mboweni lewer die MTBR na verwagting op 21 Oktober.

Die tweede ding wat Mboweni snags wakker hou ,is die metaforiese seekoei se bek – soos in Junie verwys is na die staat se besteding.

“Die seekoei se bek moet toe. Ons moet dit toemaak of ons is op pad na ’n fiskale krisis.”

Hy sê dis klaar hoogs kommerwekkend hoe vinnig en deurlopend buitelanders Suid-Afrikaanse effekte verkoop.

“Ná die fiskale krisis kom die skuldkrisis. En as dít vlamvat, het ons ’n bankkrisis omdat staatseffekte nou disproporsioneel deur Suid-Afrikaanse instansies gehou word.

“Dan, my vriende, kom die volslae finansiële krisis.

“Ek moet Suid-Afrikaners nou ernstig waarsku: die finansiële krisis dreig. Dis op pad!”

Ek moet Suid-Afrikaners nou ernstig waarsku: die finansiële krisis dreig. Dis op pad!
Tito Mboweni

Mboweni sê hy het ook reeds die res van die kabinet gewaarsku dat Suid-Afrika voortaan binne sy vermoëns moet begin lewe – en dit gaan baie moeilike besluite verg.

Mboweni sê selfs prof. Ricardo Hausmann, die beroemde ekonoom van Harvard-universiteit, het hom persoonlik gewaarsku Suid-Afrika is op pad na dieselfde uitkoms as Argentinië.

’n Sentiment wat ’n voormalige minister van finansies van Argentinië blykbaar ook aan Mboweni geopper het: “Ek het al hierdie fliek gesien. Julle is op dieselfde pad.”

Sizwe Nxedlana, uitvoerende hoof van FNB Wealth, was ook op Vrydag se paneelbespreking.

Volgens hom is verbruikersvertroue aan flarde: “Almal begin nou agterkom die glas is half leeg.”

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Finansiële Krisis  |  Staatskuld  |  Skuld  |  Skuldlas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.