Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Droogte, beleid knou werkskepping in landbou
Die voortslepende droogte knou graanboere.

Die droogte tot vroeg vanjaar tydens saaityd in van Suid-Afrika se somergraanstreke is een van die redes waarom werkskepping in die landbou met meer as 1% gedaal het.

Die landbousektor het in die eerste kwartaal 837 000 mense in diens gehad, 9 000 minder as ’n jaar gelede en 12 000 minder as in die vierde kwartaal van 2018.

Dis ’n daling van 1,1% op ’n jaargrondslag en 1,4% op ’n kwartaalgrondslag.

Wandile Sihlobo, ekonoom van die landbousakekamer Agbiz, sê die grootste daling in werkskepping was in veldgewasse (soos mielies en sonneblomme), veeboerdery en bosbou. Veral in die geval van veldgewasse was dit weens ’n daling in die oppervlakte wat beplant is weens die ongunstige weersomstandighede.

Werkskepping in die landbou het in die Oos- en die Noord-Kaap, die Vrystaat, Limpopo en Mpumalanga gedaal en in ander provinsies gestyg.

Die Wes-Kaap, wat besig is om te herstel van ’n drie jaar lange droogte wat eers in 2018 gebreek is, het 17 000 landbouposte in die afgelope jaar geskep.

Sihlobo sê hoewel die indiensnemingsyfers vir die bedryf allesbehalwe opwindend is, is indiensneming steeds effens hoër as die vyfjaargemiddelde van 829 000 mense.

Lees ook: 'Skrap minimum loon om werk te skep'

“Die data herinner ons egter dat Suid-Afrika agter is met sy teiken om teen 2030 miljoen landbouposte te skep, soos voorsien in die Nasionale Ontwikkelingsplan en soos beleidmakers heeltyd voorstaan.

“As die onderbenutte grond in die voormalige tuislande, onderpresterende grondhervormingsplase, en ander dele van die land nie ten volle produktief word met ’n fokus op arbeidsintensiewe subsektore word nie, sal beduidende werkskepping in Suid-Afrika se landbou nie materialiseer nie.”

Die arbeidsintensiewe subsektore is die verbouing van groente, vrugte en veldgewasse, wat nagenoeg tweederdes van poste in die landbou verteenwoordig.

Sihlobo sê veeboerdery kan ook werkskepping aandryf in gebiede wat nie geskik is vir die verbouing van gewasse nie, en kan ook help voorsien in die stygende behoefte aan vleis in die land.

Die provinsies met die grootste oppervlakte van onderbenutte, bewerkbare grond is die Oos-Kaap, Limpopo en KwaZulu-Natal. ’n Studie van 2015 deur die McKinsey Global Institute het dit op tussen 1,6 miljoen hektaar en 1,8 miljoen hektaar geraam.

Met uitgebreide werkloosheid van onderskeidelik 48,3%, 43,1% en 42,4% in dié drie provinsies sou dit vir die regering sin maak om hier te begin, reken Sihlobo.

“Die beginpunt vir die proses sal wees om ’n duidelike beleidsraamwerk oor grondhervorming en waterregte daar te stel, wat investering in die landbousektor sal aanmoedig. Daadwerklike investering sal vereis word, onder meer om grond voor te berei en besproeiing-infrastruktuur te verskaf, ten einde groei en indiensneming en meegaande positiewe maatskaplike uitwerkings te ontsluit.”

Rol van beleid

Agri SA sê beleidsonsekerheid vererger die werkloosheidskrisis in die landbou.

Jahni de Villiers, beleidshoof van Agri SA se Arbeid en Ontwikkeling Sentrum van Uitnemendheid

“Agri SA het reeds in 2018 gewaarsku dat beleidsonsekerheid en swak ekonomiese groei in die pad van ware werkskepping in die landbousektor staan,” sê Jahni de Villiers, beleidshoof van Agri SA se Arbeid en Ontwikkeling Sentrum van Uitnemendheid.

“Die landbousektor se doelwit om 1 miljoen werksgeleenthede te skep, soos in die Nasionale Ontwikkelingsplan bevat, sal nie gehaal word indien daar nie konsekwente regeringsondersteuning is nie.

“Stygende arbeidskoste kan ook nie buite rekening gelaat word nie.

“Indien hierdie negatiewe tendense aanhou, sal die werkloosheidskrisis vererger.”

De Villiers sê veiligheid op plase het ook dringend aandag nodig.

“Landbou kan ’n groot hou teen werkloosheid slaan, maar boere en landboubesighede kort dringend die beleidsekerheid om so te maak.”

Meer oor:  Ekonomie  |  Droogte  |  Werkloosheid  |  Graanbedryf  |  Werkloosheidskoers  |  Landbou  |  Werkskepping  |  Qlfs1901
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.