Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Duur jol in Genève oor werk van môre

Belastingbetalers betaal miljoene rande vir 64 afgevaardigdes wat 12 dae in Switserland praat oor ’n “mens-gesentreerde agenda vir die toekoms van werk”.

Pres. Cyril Ramaphosa en Thulas Nxesi, minister van arbeid en werkskepping, in Genève, Switserland.

Hoewel Suid-Afrika een van die kleiner lande is wat by die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) se konferensie verteenwoordig word, het ons een van die grootste groep afgevaardigdes gestuur na Genève, ook bekend as die “Las Vegas van Switserland”. Dit is groter as die afvaardigings van die VSA (50), Australië (21), Kanada (29), Brittanje (41) en Indië (41).

Rapport kon bevestig die nuutbenoemde departement van arbeid en werkskepping betaal elke sent van al die afgevaardigdes. Business Unity South Africa (Busa) sê ingevolge die “protokol van die IAO” is elke lidland se regering verantwoordelik vir die onkoste van sy afgevaardigdes.

Vanjaar is die IAO se eeufeesviering met ’n reuse-opskop. Die ander groot item op die agenda is ’n verslag van ’n kommissie oor die toekoms van werk.

Pres. Cyril Rama­phosa was medevoorsitter van dié kommissie. Hul verslag se belangrikste aanbeveling vir die IAO is ’n “mens-gesentreerde agenda” vir veranderinge in die arbeidsmagte.

Dit word afgebreek in konkrete aksieplanne waartoe Ramaphosa hoop die lande hulle gaan verbind: “ ’n universele reg tot lewenslange leergeleenthede”, “groter beleggings in instellings, beleid en strategieë wat mense sal steun deur werksveranderinge” en die “implementering van ’n transformerende en meetbare agenda vir geslagsgelykheid”.

Afgesien van Rama­phosa wat die Suid-Afrikaanse afvaardiging lei, word die konferensie ook bygewoon deur die nuutaangestelde arbeidsminister, Thulas Nxesi, wat vergesel word van vyf ondersteuningspersoneel, asook 16 departementele adviseurs en direkteurs. Ander afgevaardigdes sluit in:

  • 20 verteenwoordigers van die vakverbondfederasies Cosatu en Fedusa;
  • ’n Agri SA-verteenwoordiger;
  • Vyf Busa-verteenwoordigers;
  • Twee van ProductivitySA.

AgriSA se Jahni de Villiers, hoof van arbeid en ontwikkeling, het vanuit Genève aan Rapport gesê die departement dek die koste “geheel en al”.

Jahni de Villiers van Agri SA.

Sy sê die konferensie is ’n belangrike forum vir onder meer werkgewers, vakbondverteenwoordigers, regeringslui en beleidskenners om “grondverskuiwende arbeidsaangeleenthede” op internasionale vlak te bespreek. De Villiers sê sy het ’n baie besige program wat strek van 09:00 tot 22:00.

Mokgadi Pela, woordvoerder van die departement van arbeid en werkskepping, het alle vrae na Thobile Lamati, direkteur-generaal, verwys omdat hy self in Genève is en daarom “in die beste posisie is” om vrae te beantwoord.

Lamati het nie gereageer op die navrae nie.

BusinessLive het vroeër berig dat die besluit om die konferensie by te woon geneem is deur Mildred Oliphant, voormalige arbeidsminister, en dat dit “buitensporige bedrae” sou beloop om dit te kanselleer.

Jahni de Villiers van Agri SA het foto’s van die afgevaardigdes op Instagram gedeel. Foto: Instagram

Luidens die kongres-dokumentasie beloop Suid-Afrika se lidmaatskapgeld aan die IAO amper 1,4 miljoen Switserse frank (R20,5 miljoen) vir 2019. Suid-Afrika het egter 380 frank (R5 650) te min oorbetaal en is dus op die skande-lys van lidlande wat nie opbetaalde lidmaatskap het nie. Verskeie lande soos Amerika, Israel, Kenia en Ethiopië weier volstrek om te betaal.

Die konferensie vind plaas in ’n tyd waarin Suid-Afrika ’n rekordhoë werkloosheidsyfer en ’n negatiewe ekonomiese groeikoers het.

Dorine Reinstein van Big Ambi­tions, ’n reisbemarkingsorganisasie, het aan Rapport gesê besigheidsklas-vliegtuigkaartjies na Genève kan enigiets tussen R24 000 en R58 000 kos, afhangende van die tyd van die jaar en die lugredery.

Jahni de Villiers van Agri SA deel die uitsig op haar Instagram. Foto: Instagram

Hotelpryse in Genève beloop gemiddeld R3 200 per persoon per nag in ’n driester-hotel, R5 000 vir ’n viersterhotel en minstens R7 000 vir ’n vyfster-hotel.

Afgevaardigdes kry elk ’n dagtoelaag vir diverse uitgawes.

Teen ’n uiters konserwatiewe beraming van R100 000 per afgevaardigde, betaal belastingbetalers dus R6,4 miljoen indien Ramaphosa en ander hooggeplaastes kommersiële vlugte geneem het en nie ’n BBP-straler gestuur het nie.

Dit sluit ook nie die nie-amptelike afvaardiging soos lyfwagte en assistente in nie.

Michael Cardo, DA-woordvoerder oor arbeid, sê die konferensie kom neer op ’n “kolossale vermorsing” van belastingbetalers se geld.

“Sulke uitspattigheid op internasionale konferensies is ’n klap in die gesig van die 10 miljoen Suid-Afrikaners wat sonder werk sit.”

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Arbeid  |  Indiensneming  |  Werkskepping  |  Werkloosheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.