Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Duur petrol laat mense hul motor langer ry

Ghana Msibi, hoof van WesBank se motorafdeling, sê die swakker rand en onsekerheid oor ’n moontlike kredietafgradering deur Moody’s het Maart se nuwevoertuigverkope sleg getref en onderdruk steeds sake- en verbruikersvertroue.

Omdat verbruikers se finansies knyp, ry hulle hul voertuie langer.

Die aansienlike April-brandstofprysstyging tot R16,13 per liter vir 95-oktaan en R15,94 vir 93-oktaan in Gauteng, en dreigende beurtkrag verhoog druk op verbruikers, sê hy.

WesBank-data wys ’n stelselmatige skuif weg van finansieringstransaksies met ’n vaste rentekoers na rentekoers-gekoppelde transaksies. Msibi sê dis ’n goeie idee in ’n omgewing met lae rentekoerse soos wat tans die geval is.

“Dit lyk onwaarskynlik dat rentekoerse op kort termyn sal daal en verbruikers het steeds die geleentheid om vaste koerse te beding in hul finansieringskontrak.”

Dié opmerkings kom nadat die Nasionale Vereniging van Voertuigvervaardigers (Naamsa) die afgelope week motorverkoopsyfers vir Maart uitgereik het.

Verkope van ligte en mediumgrootte handelsvoertuie, asook uitvoer van nuwe voertuie was die enigste ligpunte vir die voertuigvervaardigingsbedryf.

  • Totale verkope van nuwe voertuie was 3,1% (of 1 512 eenhede) laer op ’n jaargrondslag. Dis die derde agtereenvolgende maand van dalings.
  • Altesame 1 805 minder nuwe passasiersvoertuie (-5,6%) is verkoop vergeleke met ’n jaar gelede, wat wys verbruikers is onder druk en wil nie nou groot aankope doen nie, sê die vereniging.
  • Volgens Naamsa het verkope van ligte handelsvoertuie, bakkies en minibusse met 1,9% gestyg op ’n jaargrondslag. Dit het die swak prestasie van passasiersvoertuie teëgewerk. Verkope van mediumgrootte handelsvoertuie was 6,2% hoër.

Goeie uitvoersyfers

Naamsa sê uitvoer van nuwe voertuie het in Maart met 7 135 eenhede tot 30 161 gestyg teenoor ’n jaar gelede. Dit is ’n styging van 23,7%. Die volume passasiersmotors wat uitgevoer is, was in die eerste kwartaal van die jaar 28,2% hoër vergeleke met die vorige kwartaal.

Naamsa verwag uitvoer sal vir die res van die jaar ook goed vaar, met ’n totaal van 400 000 nuwe voertuie wat uitgevoer word. Dít sal volg op 2018 se rekordgetal van 351 139 eenhede wat uitgevoer is.

Intussen het die Ford Motor Company of Southern Africa (FMCSA) aangekondig hy pas sy uitvoerbedrywighede aan om meer as een hawe vir die uitvoer van sy Ranger-modelle te gebruik.

Die eerste besending van 1 000 Rangers wat plaaslik gebou is vir markte in Europa, is die afgelope week vanuit die Port Elizabeth-hawe verskeep. Tot dusver het alle Ford-modelle die land binnegekom of verlaat deur die Durban-hawe se terminus waar die voertuie op en af van die vragskip ry, sê FMCSA in ’n verklaring.

Ockert Berry, visepresident van Ford se bedrywighede in die Midde-Ooste en Afrika, sê die wêreldwye vraag na die Ford Ranger is baie hoog en daarom het die maatskappy meer as R3 miljard belê in die verbetering van sy vervaardigingsvermoë in Suid-Afrika om die bestellings te kan nakom.

Voertuie sal twee keer per maand vanuit die Port Elizabeth-hawe na Europese markte verskeep word. Die Rangers is by Ford se Silverton-aanleg in Pretoria gebou en word via Transnet-spoorlyne na Port Elizabeth vervoer.

Meer oor:  Naamsa  |  Wesbank  |  Ford  |  Motorverkope  |  Motorverkoopsyfers  |  Motors  |  Motorvervaardigers  |  Motorvervaardiging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.