Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Duurder goud, platinum steun rand ‘net tydelik’

Die goeie nuus vir die rand is dat hulpbronpryse dobber naby ’n agtjaarhoogtepunt. Die slegte nuus is dat grondstowwe ’n kleiner impak op die Suid-Afrikaanse geldeenheid het as die opbrengs op Amerikaanse staatseffekte.

Hoër goudpryse tel onder die stygings wat die rand tydelik ’n hupstoot gee, maar dié ondersteuning is volgens kenners net tydelik. Foto: Getty Images

Die korrelasie tussen Bloomberg se subindeks vir nywerheidsmetale en die rand het tot 0,2 verswak van ’n hoogtepunt van 0,7 in Februarie.

Die omgekeerde verhouding met die opbrengs op Amerikaanse staatseffekte is baie sterker op byna 0,6 – die hoogste in vier jaar, wys Bloomberg-data.

Dit beteken die rand is meer geneig om te verswak wanneer die opbrengs op Amerikaanse staatseffekte styg as dat dit sal verstewig wanneer hulpbronpryse styg.

Die rand het Donderdag teen 12:00 teen R14,96 teenoor die dollar gestaan.

Nywerheidsmetale is verantwoordelik vir sowat ’n kwart van Suid-Afrika se uitvoerinkomste, maar terwyl Amerikaanse opbrengskoerse styg, kan die voordeel van hoër hulpbronpryse taan weens die laer aanvraag na geldeenhede met ’n hoë opbrengs.

“Hoër metaalpryse behoort op lang termyn die rand te ondersteun omdat dit die handelsbalans sal verbeter,” sê Guillaume Tresca, ’n senior strateeg van ontluikende markte by Generali Insurance Asset Management in Parys, Frankryk.

Maar “hoër hulpbronpryse sal lei tot hoër inflasie, of die persepsie daarvan. Dit sal weer lei tot hoër opbrengskoerse op Amerikaanse staatseffekte, en dit is negatief vir die rand. Na my mening is die impak van hulpbronpryse op kort termyn beperk.”

Die styging in die opbrengskoerse op Amerikaanse staatseffekte het die vraag na Suid-Afrikaanse aandele en staatseffekte verminder. Dit het gelei tot die uitvloei van $3,3 miljard van buitelandse beleggings uit die Suid-Afrikaanse mark vanjaar.

Dit plaas druk op die lopende rekening, waarvan die gaping tussen in- en uitvoer so groot soos 4,4% kon gewees het in die vierde kwartaal van 2020, sal data waarskynlik later Donderdag wys, volgens die mediaan-vooruitsig in ’n Bloomberg-peiling.

Vooruitskattings oor die rand wat Bloomberg saamgestel het, dui op ’n gemiddelde wisselkoers van R15 per dollar in die tweede kwartaal van 2021.

Dit is dalk te optimisties, veral as die hulpbronlopie stoom verloor, sê Lars Merklin, ’n senior ontleder van Danske Bank in Kopenhagen.

Ek dink eerlikwaar nie daar is ’n supersiklus in hulpbronpryse nie. Ek dink ons sal ’n afname in hulpbronpryse sien.
Lars Merklin van Danske Bank

Die rand het Woensdag met soveel as 1% teenoor die dollar versterk tot R15,14 nadat ’n kernmaatstaf van Amerikaanse inflasie met minder as verwag gestyg het.

Sedert middel Februarie het die rand egter met 4,6% verswak namate die opbrengs op Amerikaanse staatseffekte gestyg het.

“Sowel goud- as koperpryse daal sedert die opbrengs op Amerikaanse staatseffekte begin styg het,” sê Merklin.

“Ek dink eerlikwaar nie daar is ’n supersiklus in hulpbronpryse nie. Ek dink ons sal ’n afname in hulpbronpryse sien.”

Merklin sê die rand kan terugsak tot R17 per dollar weens die ekonomiese verlangsaming in Asië en positiewe reële opbrengste op Amerikaanse tienjaarstaatseffekte, of nominale opbrengste van meer as 2%.

Ontleders by Rand Merchant Bank verwag dat hulpbronpryse sal aanhou styg, maar voorspel dat die rand sal verswak tot sowat R16,50 teenoor die dollar. Dit is heelwat laer as die billike waarde van sowat R14,37 te midde daarvan dat wêreldwye risiko-sentiment wipplank ry tussen Covid-19-vrese en hoop op entstowwe.

Terwyl hulpbronpryse die rand op kort termyn kan ondersteun, mag risikoaversie dalk op lang termyn ’n sterker faktor wees, meen die Nedbank-groep.

“Ná Maart kan die steun wat die handelsbalans aan die rand bied, begin kwyn,” sê Walter de Wet, ’n ontleder by Nedbank, in ’n nota aan kliënte.

“As buitelandse portefeulje-invloei nie die leemte vul nie, kan ’n swakker rand op ’n meer volhoubare basis moontlik wees terwyl ons na die middel van die jaar onderweg is.” – Bloomberg

Meer oor:  Platinum  |  Hulpbronne  |  Olieprys  |  Rand  |  Olie  |  Markte  |  Dollar  |  Goud  |  Hulpbronpryse  |  Goudprys  |  Wisselkoers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.