Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Duurder krag kan inflasie, rentekoers opjaag
Eskom is 'n tariefverhoging van 9,4% toegestaan.

Die tariefverhogings van 9,4% wat die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) Donderdag aan Eskom toegestaan het, gaan die inflasiekoers beslis laat styg.

Die uitwerking gaan oor verskeie jare gevoel word, gegewe dat Nersa ook verhogings van 8,1% vir 2020 en van 5,2% in 2021 goedgekeur het.

Saam met die 9,4% moet 4,41% getel word – ’n totale styging van 13,81%. Die 4,41%-verhoging is voorheen ingevolge die proses vir die regulatoriese aansuiweringsrekening (RCA) toegeken. Die RCA is ’n meganisme wat Eskom toelaat om te vergoed vir enige inkomste wat hy minder (of meer) invorder aangesien aanvanklike driejaar-prysvasstellings op vooruitskattings en aannames gegrond is.

Ondanks die verwagte styging in die inflasiekoers verwag Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec, steeds geen verhoging van die rentekoers vanjaar nie.

Die Reserwebank se volgende rentekoersbesluit is op 28 Maart.

Die Reserwebank kyk nagenoeg 18 maande vooruit na die risiko’s vir inflasie. In Januarie, soos voorheen, het die bank hoë stygings in kragtariewe as een van die risiko’s uitgelig, maar dis bes moontlik reeds by sy inflasieverwagting ingereken.

Die Reserwebank het in Januarie verwag dat inflasie vanjaar 4,8% gaan beloop, in 2020 5,3% en in 2021 weer 4,8%. ’n Boonste draaipunt van 5,6% is vir die eerste kwartaal van 2020 voorspel. Op grond van sy vooruitskattings het die Reserwebank se kwartaallikse projeksiemodel in Januarie net ’n enkele rentekoersverhoging oor die volgende drie jaar voorspel.

Munisipaliteite se hoër kragtariewe moet ook deur Nersa goedgekeur word en sal eers teen einde Junie bekend wees.

Dit was egter grootliks gegrond op die laer as verwagte olieprys; sedertdien het die olieprys na aan $70 per vat gekom.

Kragtariewe het ’n gewig van 3,8% in die inflasiemandjie wat Statistieke Suid-Afrika meet.

Aangesien munisipale kragtariewe eers in Julie verhoog word, sal die hoër kragtariewe vanaf dié maand inflasie opdruk. Munisipaliteite se hoër kragtariewe moet ook deur Nersa goedgekeur word en sal eers teen einde Junie bekend wees, maar die verhoging wat munisipaliteite self aan Eskom moet betaal, sal die grootste rol speel wanneer dit bepaal word.

Duurder krag gaan verbruikers en sake-ondernemings hard slaan, meen Bishop.

Benewens dat hulle self meer vir krag gaan opdok, gaan die tariefverhogings die prys van vrugte en groente opjaag.

Dawie Maree, landbou-ekonoom van FNB, sê krag is een van die hoogste insetkoste vir boere, veral vrugte- en groenteboere wat op besproeiing staatmaak. Hulle kan nie altyd die volle produksiekoste aan groothandelaars deurgee nie, sê hy egter.

Maree waarsku ook dat alle verwerkte kos gaan styg omdat dié bedryf ook heelwat krag gebruik.

Inflasie was in Januarie 4% en Bishop verwag dat dit in Februarie tot selfs 3,5% kan daal, deels danksy die feit dat petrol die afgelope Desember en Januarie skerp gedaal het vanaf die rekordhoogtepunt van meer as R17 in Oktober. Dis egter ’n tydelike verligting, gegewe die skerp styging van 74c per liter in die petrolprys in Maart.

Tesame met hoër “sondebelastings” en brandstofheffings wat in April in werking tree, verwag Bishop dat inflasie in die tweede helfte van 2019 tot meer as 4,5% gaan styg en in 2020 tot 5,5%. Dit maak ’n rentekoersverlaging onwaarskynlik, reken Bishop, hoewel sy geen verhoging vir 2019 voorspel nie.

Meer oor:  Eskom  |  Rentekoers  |  Inflasie  |  Kragvoorsiening  |  Elektrisiteitstariewe  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.