Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Duurder water verbruikers se voorland

Huishoudings en nywerhede kan volgende jaar tot soveel soos 16,5% meer vir water betaal, het die regering gewaarsku.

’n Argieffoto van ’n besproeiingskema naby Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal.

Die departement van menslike nedersettings, water en sanitasie het pas met konsultasies begin oor 2020 se waterpryse. Dié verhoging is vir onverwerkte water en sluit nie die jaarlikse verhogings van munisipaliteite in nie. Dit beteken verhogings van selfs meer as die 16,5% kan sommige huishoudings en nywerhede in die gesig staar.

Anil Singh, adjunkdirekteur-generaal vir regulering in die departement, het aan Rapport gesê die voorgestelde verhogings wat verlede week met belanghebbende partye aan die Oos-Rand bespreek is, sal aan minister Lindiwe Sisulu voorgelê word vir goedkeuring.

Daarna moet die betrokke parlementêre komitees oor die voorgestelde verhogings beraadslaag. Die finale tariefverhogings moet voor 15 Maart 2020 in die Staatskoerant afgekondig word.

Die departement se woordvoerder, Sputnik Ratau, het beklemtoon dat die verhogings nie vir alle verbruikers dieselfde gaan wees nie en sal wissel van 0% tot 16,5%.

Sisulu het vroeër vanjaar in haar begrotingstoespraak gesê mense moet besef die departement bestee miljarde aan infrastruktuur en meer is nodig.

Leon Basson, DA-woordvoerder oor water en sanitasie, sê aan Rapport dié regverdiging is verdag, want die departement het in die afgelope paar jare klaaglik misluk om infrastruktuur in stand te hou.

Die departement se kwartaallikse bestedingsverslag wat onlangs aan die portefeuljekomitee voorgelê is, toon hy het in die eerste kwartaal van vanjaar slegs 15% van sy infrastruktuurbegroting bestee.

“Ons is egter nie eens seker dat die besteding wel aan infrastruktuur gegaan het nie,” sê Basson. “Die departement kon nie aandui hoeveel aan rente op skuld bestee is nie.”

Volgens Basson het die regering R800 miljard nodig om bloot net die land se huidige waterinfrastruktuur in stand te hou.

“Dit kom neer op R80 miljard vir die volgende tien jaar.”

Landbou

Intussen het Janse Rabie, hoof van natuurlike hulpbronne by Agri SA, aan Rapport gesê die landboubedryf is tevrede met die tariewe wat hy met die departement onderhandel het. Hier word onderskei tussen water wat verkry word uit ’n opvangsbeheergebied, soos die Oranjerievier, en water uit infrastruktuur, soos damme of kanale wat die regering gebou het.

Die voorgestelde tariefverhogings vir onverwerkte water afkomstig van opvangsgebiede is 6,5%, terwyl die verhoging vir water uit regeringsinfrastruktuur beperk is tot 10% plus die produsenteprysindeks (PPI).

Die landbousektor is verlig dat die voorgestelde verhoging wat hulle raak die 10% plus die PPI is en nie die 16,5% nie, sê Rabie.

Tans word onderhoudswerk aan die Clanwilliam-dam in die Wes-Kaap en die Tzaneen-dam in die Limpopo-provinsie gedoen. Volgens Basson is dit die enigste twee “konstruksie-projekte” wat tans onderneem word.

Hy sê ook die hele prysstrategie behoort hersien te word.

“Die tariewe wat munisipaliteite hef, moet volgens ’n glyskaal bepaal word. Hoe vuiler die water by ’n munisipaliteit aankom, hoe minder behoort die munisipaliteit daarvoor te betaal. Dit kos sommige munisipaliteite ontsettend baie geld om water te suiwer. Die departement monitor egter nie die gehalte van water wat aan munisipaliteite gelewer word nie.”

Die groendruppelverslag wat aandui in watter toestand munisipaliteite se rioolwerke is, is laas in 2014 uitgereik – en toe reeds het dit getoon dat slegs 16% van die land se rioolaanlegte aan die nodige vereistes voldoen het.

“Dit beteken 84% van rioolsuiweringsaanlegte stort vuil water in riviere en strome,” sê Basson.

Sisulu het in haar begrotingstoespraak in Julie vanjaar ruiterlik erken dat baie munisipaliteite gewoon nie die infrastruktuur het om water aan verbruikers te lewer nie. Boonop beloop munisipale skuld aan die departement en die nege waterrade R14 miljard.

Die departement het sy nuwe begrotingsjaar met ’n agterstand begin omdat hy meer as R4 miljard aan rente en oortrokke rekeninge moet betaal.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.