Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
E-tol: besluit kom (al weer) oor 2 weke

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het vir die soveelste keer aangedui dat ’n finale besluit oor die omstrede e-tolstelsel in Gauteng oor twee weke geneem gaan word.

E-tol in Gauteng word deur betreklik min inwoners betaal. Foto: Avis

Mbalula het LP’s Donderdag op ’n vergadering van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) van die jongste sperdatum vir ’n besluit oor e-tol verwittig.

Sperdatums vir “die finale besluite” doem egter al sedert 2019 gereeld op.

Mbalula het al in November 2019 gesê “’n finale besluit oor die e-tol sal oor twee weke geneem word”.

Pres. Cyril Ramaphosa het hom ook in 2020 opdrag gegee om teen Augustus ’n oplossing vir die omstrede stelsel te vind.

Maar al die sperdatums het gekom en gegaan.

Mbalula het Donderdag gesê die departement praat nou met die nasionale tesourie en die besluit is so te sê geneem.

“Ons is aan die einde van die proses. ’n Besluit is op die tafel.”

Die besluit moes verlede maand aangekondig geword het, maar dis weens Covid-19 vertraag.

“Ons het gedink ons sou dit nou al afgehandel gehad het. Ongelukkig is dit ’n groot besluit. Ons werk nie alleen nie,” het hy gesê.

“Ons móét die besluit in die volgende twee weke afhandel en aan julle voorlê.”

Volgens Mbalula het die e-tol-uitdaging tot ’n “enorme” vertraging van die Suid-Afrikaanse Padagentskap (Sanral) se ander projekte gelei. Dit is dus van “die uiterste belang” dat die saak opgelos word.

Die sewe opsies wat destyds deur verskeie groepe aan die kabinet voorgelê is en wat steeds oorweeg word, is:

  • Die kansellering van die e-tolstelsel;
  • ’n Gedeeltelike skadu-e-tolskema;
  • Die verkoop van die e-tolskema aan private konsessiemaatskappye;
  • Die instel van ’n private vervoerfonds wat openbare vervoer sal prioritiseer;
  • Die bekendstelling van ’n gemengde finansieringsmodel wat bestaan uit ’n kombinasie van belastings om tolgeld te subsidieer;
  • Fisieke tolplaza-installasies; en
  • Die behoud van die e-tolskema soos tans.

Die DA het Vrydag te velde getrek teen die minister se herhaaldelike versuim om ’n oplossing vir die e-tolstelsel te vind.

“Dié belofte is niks nuuts nie en ons het al voorheen soortgelyke ondernemings deur minister Mbalula gehoor wat tot niet gemaak is,” het Fred Nel, DA-LP, Vrydag in ’n verklaring gesê.

“Die DA sê al hoe lank dat die e-tol ’n onregverdige las plaas op die inwoners van Gauteng, wat alreeds sukkel om die mas op te kom met die min wat hulle het.

“Dit is nou belangriker as ooit tevore dat ’n besluit oor die e-tol geneem word omdat die koste van basiese voedsel en petrol die afgelope jaar gestyg het. Dit plaas verdere druk op die inwoners, wat negatief deur die Covid-19-pandemie geraak is.”

Meer oor:  Fikile Mbalula  |  E-Tol  |  Sanral  |  Paaie  |  Infrastruktuur  |  Tolgeld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.