SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Ekonomie
E-tolskuld kon al in 2016 gedelg gewees het – AA

’n Ruwe berekening deur die Automobiel-Assosiasie (AA) wys die Gautengse tolpaaie kon al in 2016 afbetaal gewees het as ’n heffing van sowat 20c per liter in 2011 ingestel was.

e-tol, sanral
Die elektroniese tollenaars in die nag. Foto: Quickpic

Die berekening sluit nie enige oplopende rente op die lenings in nie, maar wys dat dit ’n sinvolle oplossing sou wees as die heffing omhein sou word van die algemene belastingheffing wat bloot in die staatskas gestort word.

Die AA het ’n navorsingsverslag opgestel oor die Gautengse e-tolstelsel. Sowat 22% van die respondente in sy peiling het voorheen e-tol betaal maar dit later gestaak, en 39% van die respondente het nog nooit vir e-tol betaal nie. Dit wys die e-tolstelsel het misluk as finansieringsmodel vir die Gautengse snelwegverbeteringsprojek.

Regstappe teen wanbetalers is ook nie die antwoord nie, want minder as 10% van respondente het aangedui die vrees vir regsgevolge sou hulle oortuig om wel e-tol te betaal, en slegs 9% het aangedui hul wanbetaling is weens die gebrek aan regsgevolge.

Die AA meen die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) se poging om deur regstappe agterstallige e-tolgeld in te samel, sal waarskynlik nie tot beter betalingskoerse lei nie.

Sanral
Deelnemers aan 'n peiling van die AA moes antwoord watter alternatiewe Sanral behoort te gebruik om e-tolskuld in te samel.

Boonop meen minder as die helfte van respondente wat nie e-tol betaal nie dat die projek hul daaglikse pendelritte verbeter het. Minder as 1% meen daar is wel ’n voordeel wat die koste die moeite werd maak.

Hoewel Tito Mboweni, minister van finansies, al herhaaldelik aangedui het die regering staan by die beginsel dat die gebruiker moet betaal, meen die AA die beginsel is in die konteks van e-tol gebrekkig, want daar is vrystellings vir openbare vervoer en staatsvoertuie. Dit is dus net sommige gebruikers wat betaal, en dit dra by tot die persepsie dat die e-tolstelsel, die regering en Sanral korrup is.

Die algemene houding teenoor Sanral is dus negatief. Teorieë oor belastingontduiking wys dat hoe meer negatief ’n individu teenoor ’n belastingowerheid is, hoe minder waarskynlik sal hy bereid wees om belasting te betaal.

e-tol
Die uitslag van 'n peiling deur die AA oor wat motoriste in Gauteng sal oortuig om e-tol te begin betaal.

Die AA meen lewensvatbare alternatiewe finansieringsmodelle vir die snelwegverbeteringsprojek is nie voldoende ondersoek nie.

Die AA het in die peiling bevind 70% van niebetalende padgebruikers sal eers verplig voel om die e-tol te betaal as meer as 95% van alle gebruikers reeds betaal. Dit skep volgens die AA ’n “onmoontlike situasie”, want die meeste deelnemers aan sy peiling sê niks gaan hulle oortuig om te begin betaal aan e-tol nie.

Dit lyk asof die e-tolstelsel en Sanral die Gautengse padgebruikers te ver gedruk het om die situasie om te keer en enige verbetering in betaalkoerse te behaal, meen die AA.

E-tol in syfers


  • Die Gautengse snelwegverbeteringsprojek sou R22 miljard gekos het vir sowel die 1ste as die 2de fase.
  • Ná meer as tien jaar skuld Sanral R89 miljard en is nog net fase 1 voltooi.
  • Sanral het dagvaardings vir skuld aan 8 000 wanbetalers gestuur.
  • 3 miljoen padgebruikers skuld e-tolgeld.

Die AA waarsku die wanbetaling van een soort belasting soos e-tol hou die risiko in dat dit ook na ander vorms van belasting, soos inkomstebelasting, kan versprei. Sommige respondente in sy peiling het aangedui hulle is bekommerd oor die kultuur van wanbetaling in Suid-Afrika.

Van die punte wat mense wel sou oortuig om vir e-tol te betaal, volgens die peiling, is as rekeninge akkuraat was, as daar ander roetes en betroubare en veilige openbare vervoer beskikbaar was, as die stelsel regverdig en billik was en almal betaal het, as die geld in Suid-Afrika gebly het en nie na buitelandse kontrakteurs gevloei het nie, as korrupsie uitgeroei is en die stelsel deursigtig bestuur is, en as die tolgeld laer was.

Daar het 1 022 mense aan die AA-peiling deelgeneem.

Die AA-verslag het na die verskillende maniere gekyk hoe ander lande hul paaie finansier:

  • Nieu-Seeland het padgebruikergeld wat op diesel gehef word om swaar voertuie te laat betaal vir hul las op die paaie. Geld van petrolheffings en motorlisensiegeld help ook finansier aan padinstandhouding.
  • Singapoer het ’n elektroniese prysstelsel op grond van verkeersvloei. As verkeer in die vorige kwartaal te stadig gevloei het, betaal motoriste meer en andersom.
  • Ethiopië het ’n onafhanklike padagentskap wat geld kry uit die staatsbegroting, ’n brandstofheffing, lisensiegeld gegrond op as-massa, en boetes op oorlading.
Meer oor:  Aa  |  Sanral  |  Paaie  |  Infrastruktuur  |  Brandstofheffing  |  E-Tol
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.