Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
EFF braak gal oor ‘omstrede’ aanstelling by tesourie

Die omstrede joernalis Ranjeni Munusamy, wie se naam al twee keer by die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping opgeduik het, is aangestel as Tito Mboweni, minister van finansies, se skakelbeampte met gemeenskappe, en die EFF is boos.

Ranjeni Munusamy, voormalige senior joernalis van die Tiso Blackstar-groep, se naam het al twee keer opgeduik by die Zondo-kommissie waar daar beweer word sy het geld ontvang van die polisie se misdaadeenheid om stories te “spin”. Foto: Twitter

In ’n verklaring Woensdag sê die EFF hulle “verwerp met minagting” die aanstelling van Munusamy.

Die party beweer egter verkeerdelik dat Munusamy as “politieke sekretaris” aangestel is.

Die tesourie het aan Netwerk24 bevestig dat Munusamy slegs as gemeenskapskakelbeampte aangestel is.

Munusamy is op 18 September 2019 vir die eerste keer genoem in getuienis voor die Zondo-kommissie.

Kobus Roelofse, senior ondersoeker van die Valke, het verwys na ’n geheime fonds van die misdaadintelligensie-eenheid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en het beweer dat Munusamy sowat R140 000 uit die fonds ontvang het om haar motorlening af te betaal.

Roelofse het getuig die beweerde betalings aan Munusamy is in ’n ondersoek na beweerde korrupsie opgediep waarby beamptes van die misdaadintelligensie-eenheid en Atlantis Motors in Centurion betrek word.

Dit hou verband met ’n bedrag van R143 621,78 wat deur Atlantis Motors aan WesBank oorbetaal is. ’n Motorlening wat glo in Munusamy se naam was, is hiermee afgelos.

Die transaksie is glo op 30 Julie 2008 gedoen.

Munusamy het die bewerings ontken en gesê ’n familievriend het haar motorlening afbetaal. Sy weet nie hoe haar naam op die boeke van Atlantis Motors beland het nie.

Sy was in daardie stadium nog ’n senior joernalis van die Tiso Blackstar-groep, wat haar as voorsorgmaatreël op spesiale verlof geplaas het.

Kol. Dhanajaya Naidoo, ’n fluitjieblaser oor korrupsie by die polisie se misdaadintelligensie-eenheid, het toe op 30 September 2019 voor Zondo getuig dit was praktyk om joernaliste te betaal om “ ’n storie te spin”.

Volgens Naidoo beteken dit om joernaliste te gebruik om inligting in die media “te plant” – dalk ten gunste van die misdaadintelligensie-eenheid.

Een so ’n joernalis was Munusamy, het Naidoo getuig.

Naidoo sê hy het verneem ene “Jenni” het probleme met haar voertuig en daar moet gekyk word hoe sy gehelp kan word. Volgens Naidoo weet hy nou dit was Munusamy.

Hy het haar minstens drie keer ontmoet.

Die EFF sê Munusamy is nooit onskuldig bevind op die bewerings teen haar nie.

Munusamy het in haar eie eedsverklaring aan adjunkhoofregter Raymond Zondo gesê Roelofse se aantygings – dat sy deur misdaadintelligensie betaal is, ’n agent van hulle is of op misdaadintelligensie se betaalstaat is – vul haar met afgryse. “Dit is vals.”

Munusamy sê haar skuld is vereffen deur Basheer Ahmed Abdool, ’n familievriend. Sy het die bankbesonderhede verskaf en Abdool het die balans self by WesBank inbetaal – nie Atlantis Motors nie.

“Vir ’n minister van finansies om so ’n gediskrediteerde en gekompromitteerde mens in diens te neem met so ’n ernstige verantwoordelikheid, is dit nie net onverantwoordelik nie, maar ook roekeloos, gevaarlik en heeltemal irrasioneel,” sê die EFF.

Die party eis nou dat Mboweni binne sewe dae vir Munusamy afdank of hulle sal self stappe doen om haar te verwyder.

Die tesourie sê in antwoord daarop dat die aanstelling geregverdig is.

“Dit is die reg van die minister wie hy in sy span aanstel volgens die voorskrifte van die ministeriële handboek,” sê die tesourie.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Ranjeni Munusamy  |  Aanstelling  |  Eff  |  Tesourie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.