Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Einde van die tjek-era vervroeg tot 31 Desember

Van 31 Desember af sal tjeks nie meer in die nasionale betalingstelsel gebruik word nie.

FNB gaan van 1 Januarie 2021 nie meer tjeks aanvaar nie. Foto: Pixabay

Geen banke in Suid-Afrika sal dus van 31 Desember af meer tjeks aanvaar nie en belanghebbendes word gevra om nie meer tjeks te skryf of te onttrek of te aanvaar na dié datum nie.

Dit is luidens ’n verklaring wat Woensdag deur die Finansiëledienstesektor se Gedragsowerheid (FSCA) en die Reserwebank, saam met die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa) en die Betalingsvereniging van Suid-Afrika (Pasa) uitgereik is.

Die besluit is geneem weens talle probleme ten opsigte van die gebruik van tjeks, veral die dalende gebruik daarvan, tjekbedrog en die verouderde infrastruktuur vir die verwerking van tjeks.

Die Reserwebank het vroeër Woensdag in ’n kennisgewing gesê die koronaviruspandemie het die daling in die gebruik van tjeks versnel omdat verbruikers al meer van digitale en elektroniese betaalwyses gebruik maak.

Van Augustus 2019 tot Augustus 2020 het die volume en waarde van tjeks met 59% van 216 570 tot 88 230 en met 82% van R5,1 miljard tot R942 miljoen gedaal.

Daarom het die Reserwebank, die FSCA, Basa en Pasa gesamentlik besluit om die uitreiking en aanvaarding van tjeks te stop.

“ ’n Ordelike proses om tjeks uit te faseer is in die nasionale betalingstelsel in werking gestel.”

Die Reserwebank het begin Oktober in ’n gespreksdokument gesê daar word beoog om die uitreiking van tjeks op 31 Januarie 2021 te stop en dat tjeks teen 30 Junie 2021 heeltemal uitgefaseer sal wees.

Die Reserwebank verduidelik nie in sy kennisgewing Woensdag waarom die datum nou vervroeg is nie.

Luidens die kennisgewing is die perk op die bedrag waarvoor ’n tjek uitgeskryf kan word, sedert 2012 verlaag van R5 miljoen tot R500 000 weens die risiko’s wat met die gebruik van tjeks geassosieer word. Sedert Mei vanjaar is dit verder tot R50 000 verlaag.

Daarna het die Reserwebank met die betrokke beleidmakers, reguleerders asook die bank- en betalingsbedryf geskakel oor die uitfasering van tjeks en hul ondersteuning daarvoor gekry.

Dit het gelei tot ’n gespreksdokument wat op 2 Oktober vanjaar vir kommentaar uitgereik is. Die spertyd vir die kommentaar was op 2 November.

Die meeste banke het reeds al aangekondig dat hulle nie meer tjekboeke aan kliënte gaan uitreik nie.

Banke is opdrag gegee om steeds omvattend met hul kliënte te kommunikeer oor die stand van sake en hulle op te voed oor alternatiewe elektroniese maniere van betaal.

Meer oor:  Fsca  |  Basa  |  Pasa  |  Reserwebank  |  Nasionale Betalingstelsel  |  Tjeks  |  Banke  |  Tjek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.