Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Einde van resessie? Moenie klappers skiet

Ja, die resessie is verby – maar voordat mense die vreugdevure aansteek, moet hulle die groeisyfers vir die derde kwartaal in perspektief plaas.

JOHANNEBURG, SOUTH AFRICA - APRIL 07: A general vi
Ekonomiese herstel sal onvolhoubaar wees totdat ’n entstof teen Covid-19 gevind word, meen sommige ekonome. Foto: Getty Images

Richard Downing, senior ekonoom van Econdow, sê al is die resessie ná vier kwartale van negatiewe groei in die derde kwartaal van 2020 beëindig, is dit bloot op ’n tegniese grondslag.

Hy beskou die Suid-Afrikaanse ekonomie as steeds in ’n resessie, gegewe dat die ekonomie op ’n jaargrondslag inkrimp en werkloosheid aanhou styg.

Gemeet op ’n geannualiseerde en seisoensaangepaste kwartaalgrondslag (qqsaa), het die ekonomie in die derde kwartaal teen 66,6% gegroei, het Statistieke Suid-Afrika Dinsdag bekend gemaak. Ongeannualiseerd was groei 13,5%.

Die qqsaa-syfer word in tradisionele ekonomiese ontledings gebruik as die maatstaf om te bepaal of ’n land in ’n resessie is, met twee kwartale van negatiewe groei as die tegniese definisie.

SSA het egter saam met die meeste ekonome gewaarsku dat die 66,6% nes die tweede kwartaal se -53,7% ’n skeefgetrekte prentjie skep. Die 13,5% is effens betroubaarder (-16,4% in die tweede kwartaal), maar die belangrikste syfer tans is die 6% wat die bruto binnelandse produk (BBP) kleiner is as in die derde kwartaal van 2019.

Die Nasionale Buro van Ekonomiese Navorsing, ’n nieregeringsorganisasie in die VSA, definieer ’n resessie lank reeds nie meer as twee agtereenvolgende kwartale van inkrimping in die BBP nie. Die instansie definieer ’n resessie as ’n beduidende daling in ekonomiese bedrywighede wat maande lank duur en in die BBP, reële inkomste, indiensneming, nywerheidsproduksie en handelsyfers gesien kan word.

Die onafhanklike landbou-ekonoom Fanie Brink meen dat die metode om met geannualiseerde en seisoensaangepaste syfers te werk, en boonop om kwartale met mekaar te vergelyk, nog altyd verkeerd was en dit bloot nou deur die Covid-19-krisis onthul word as sodanig. Die akkuraatste is om jaarsyfers te vergelyk, sonder om dit vir seisoenskommelinge aan te pas. Die seisoenaangepaste syfers, spesifiek vir die landboubedryf weens die wisselvallige klimaatstoestande, “kan nie die seisoenale verskille uitskakel nie.”

Ekonome wissel in hul optimisme oor die syfers vir die derde kwartaal, veral oor die kleiner as verwagte jaar-tot-jaar-inkrimping (die -6%).

Peter Little, fondsbestuurder van Anchor Capital, reken dit beteken dat ekonomiese groei vir die volle 2020 beter as verwag gaan wees.

“Dit moet onthou word dat Suid-Afrika eers halfpad deur die derde kwartaal, op 17 Augustus, na vlak 2 van die inperking beweeg het. Net die helfte van die kwartaal het dus voordeel getrek uit die heropening van restaurante, kroeë, gastehuise en gimnasiums, asook die hervatting van interprovinsiale reis en die verkoop van drank en sigarette, terwyl net die laaste 12 dae van die kwartaal voordeel getrek het uit die inkrementele toename in bedrywighede wat onder vlak 1 toegelaat is, soos die verdere verslapping van regulasies oor drankverkope, ’n korter aandklokreël en meer mense wat byeenkomste toegelaat word.

“As geen toename in inperkingsregulasies in die laaste paar weke van die jaar kom nie, sal die vierde kwartaal die eerste volle kwartaal met beperkte inperkings wees, wat ekonomiese groei kan help aanvuur tot vlakke van voor Covid-19 en hoër.”

Sy opmerkings kom kort nadat strenger inperkings weer in die Nelson Mandelabaai- metropolitaanse munisipaliteit ingestel is en vir die Tuinroete oorweeg word.

Maarten Ackerman, hoofekonoom en adviesvennoot van Citadel, sê die derde kwartaal se groei is ook deels danksy die feit dat die land se handelsvennote hul ekonomieë in dié kwartaal grootliks oopgestel het, soos ook gesien kan word in die stewige groei in uitvoer.

Daarby was daar baie minder beurtkrag in die derde kwartaal, “wat beteken dat dit nie die ekonomie verder lamlê nie”.

Ackerman sê hoewel positiewe groei in die vierde kwartaal waarskynlik is, moet in ag geneem word dat ’n tweede vlaag Covid-19-infeksies, met gepaardgaande strenger inperkings, in baie dele van die wêreld beleef word.

Hy sê die groei in vastekapitaalvorming is goeie nuus, aangesien dit die eerste stap is wat die ekonomie nodig het om sy produksievermoë te verhoog, “wat die pad vir beter toekomstige groei kan teer”.

“ ’n Mens kan net hoop dat die vastekapitaalvorming in die kwartale wat kom meer positiewe groei sal toon danksy die stryd teen korrupsie, tesame met beleidshervorming, en dat dit nie net die groei van ’n baie lae basis af weerspieël nie.”

Ackerman sê as die land sy strukturele probleme kan oplos en Eskom kan omkeer, kan 2021 die jaar wees waarin die land nader aan sy potensiële produksievermoë kom en dit dalk selfs oortref. “Ons moet teen 2022 ’n punt van positiewe, volhoubare groei behaal voordat ons momentum kan kry om probleme soos die begrotingstekort en werkloosheid op te los.”

’n “Enorme hoeveelheid” werk lê voor om hervorming deur te voer, maan Ackerman.

Lara Hodes, ekonoom van Investec, sê inentings op ’n groot skaal tesame met die vinnige inwerkingstelling van hervormings wat in die ekonomiese heropbou-en-herstelplan aangekondig is, is “noodsaaklik om Suid-Afrika op ’n pad van volhoubare groei te plaas”.

Nedbank se ekonomiese eenheid waarsku dat groei in die vierde kwartaal betreklik traag sal wees weens die swak arbeidsmark, selfs al word verbruikers effens gedra danksy laer rentekoerse en inflasie. Die staat is ook onder druk.

Nedbank verwag nou groei van -7,2% vir 2020 as geheel, teenoor die vroeëre verwagting van -8%.

Sanisha Packirisamy, ekonoom van Momentum Investments, verwag steeds -8,1% vir 2020.

Meer oor:  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Statistieke Suid-Afrika (Ssa)  |  Bbp  |  Resessie  |  Bbp2003
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.