Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Ekonome: ‘Die geld is nou óp!’

Die jongste inligting deur Statistieke Suid-Afrika(SSA) oor die verdere verswakkende ekonomiese groei in die derde kwartaal beklemtoon die feit dat die ekonomie in ’n baie kommerwekkende posisie verkeer en dat kanse vir ’n ekonomiese herstel vanjaar baie skraal is.

Fanie BrinkFoto: Argief

Luidens SSA se syfers wat Dinsdagoggend bekend gemaak is, het die land se ekonomie in die derde kwartaal met 0,6% ingekrimp. Dit is teenoor ’n hersiene groeisyfer van 3,2% in die tweede kwartaal, maar ’n inkrimping van 3,1% in die eerste kwartaal van die jaar.

Dit is teenoor ’n jaar tevore.

“Die feit dat die ekonomie in die eerste ses maande van die jaar met minder as 1% gegroei het en die jongste groeisyfers vir die derde kwartaal in die reële bruto binnelandse produk (BBP) van -0,6% aan die aanbodkant en -0,3% in die reële binnelandse uitgawes aan die vraagkant van die ekonomie, het die waarskynlikheid bevestig dat die ekonomie nie in 2019 sal groei nie,” sê Fanie Brink, ’n onafhanklike landbou-ekonoom.

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Groep, stem saam met Brink.

“Gegewe die syfers wat ons reeds het, beteken dit die ekonomie gaan in die laaste kwartaal van die jaar met minstens 1% móét groei net om ’n groeisyfer vir die jaar van 0% te haal,” het Roodt gesê.

Dawie RoodtFoto: Argief

Roodt sê die inkrimping van 0,6% is baie swakker as verwag.

“Ek het nie veel groei verwag nie, en selfs ’n klein inkrimping, maar nie soveel nie.”

Roodt sê die syfer is nie net baie slegte nuus wat betref werkloosheid en armoede nie. Dit is ook sleg vir die land se kredietgradering.

“Siende dat die BBP gekrimp het, beteken dit dat sonder dat die land ’n sent meer geleen het, het die BBP-tot-skuld en ander marges nou skielik gestyg,” verduidelik Roodt.

Dit is juis marges soos dié waaroor kredietgraderingsagentskappe soos Moody’s Investor Service baie bekommerd is.

Roodt meen dit is na dese ’n gegewe dat Moody’s die land se staatskuld ook tot onder beleggingsgraad – oftewel rommelstatus – gaan afgradeer.

Moody’s is tans die enigste van die drie groot kredietgradeerders wat nog nie staatskuld tot rommel afgegradeer het nie. Hy het wel die vooruitsig in Oktober van stabiel tot negatief verander.

Daar is na dese ’n baie groot kans dat die ekonomie binnekort in ’n resessie kan val.
Prof. Jannie Rossouw

Prof. Jannie Rossouw, hoof van die skool vir ekonomiese en sakewetenskappe aan die Universiteit van die

Witwatersrand, sê hy dink ook daar is ’n kans dat rommelstatus die land se voorland is.

“Daar is na dese ’n baie groot kans dat die ekonomie binnekort in ’n resessie kan val,” waarsku hy.

“ ’n Kleiner BBP beteken noodwendig die staat gaan ’n kleiner inkomste uit belasting verdien. Die land beweeg nou al hoe nader aan die fiskale afgrond,” sê hy.

Oor wat gedoen moet word om sake te beredder, stem Rossouw en Roodt saam: die staat moet ophou praat en begin doen.

Prof. Jannie RossouwFoto: Argief

“Die geld is nou letterlik op,” sê Rossouw.

“Die staat kan nie meer groot verhogings vir staatsamptenare en reddingsboeie vir staatsondernemings soos die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) bekostig nie.

“Die staat gaan móét besuinig,” sê hy.

Dr. Johan Willemse, ekonoom van Agrimarkconsultants, sê die gebrek aan enige beleidsverandering is een van die redes hoekom die ekonomie nie groei nie.

“Voordat ons as sakelui nie praktiese verbetering in basiese dienste van die staat sien nie, is daar geen rede om te investeer of mense aan te stel nie. Ons voel dit na dese almal aan ons bas,” sê hy.

“Die fiasko met die SAL waar nie tot ’n besluit gekom kan word nie en net alles in die lug hang, is ’n baie goeie voorbeeld van ‘beleidsverlamming’.

“Baie praat en berade en toesprake maar op sakevlak bly dinge net agteruit gaan.”

Meer oor:  Dawie Roodt  |  Jannie Rossouw  |  Johan Willemse  |  Fanie Brink  |  Resessie  |  Bbp  |  Ekonomiese Groei
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.