Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Ekonome: Mboweni die ‘ideale’ minister van finansies

Tito Mboweni se aanstelling as minister van finansies wys pres. Cyril Ramaphosa gaan nou die belange van die land en nie noodwendig dié van die regering nie, eerste stel.

Dit is Chris Harmse, ekonoom van Rebalance Fund Managers, se mening oor die nuwe aanstelling.

“Ramaphosa het duidelik raad ingewin en die besluit ‘ek gaan die regte ou kry om werk te doen en wat bo verdenking is’,” sê hy.

Dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer by die Optimum-groep, stem saam dat Ramaphosa nie in dié stadium ’n beter aanstelling kon gemaak het nie.

“Mboweni het die regte ondervinding as voormalige president van die Reserwebank.

“Hy verteenwoordig vir my die ideale balans tussen die ANC se oorhoofse doelwitte van transformasie.

Ramaphosa het duidelik raad ingewin en die besluit ‘ek gaan die regte ou kry om werk te doen en wat bo verdenking is'.
Dr. Roelof Botha

“Hy het respek vir markbeginsels.

“So ver ek weet is hy uitgesproke oor staatskaping en wat in die Zuma-administrasie aangegaan het.

“Ek glo hy gaan by die reëls bly,” sê Botha.

Botha sê hy glo verder Mboweni is die ideale persoon om met internasionale beleggers te skakel en hul belange te respekteer.

“Mboweni het in die tyd sedert hy weg is by die Reserwebank internasionaal en plaaslik skouers geskuur met van die top sakelui in die wêreld en in Suid-Afrika.

“Hy het sy vaardighede en sy begrip rondom skakeling tussen beleid en private sektor geslyp en verfyn.

“Hy is ook ’n ANC-hardebaard. Hy stap al ’n lang pad saam met hulle,” sê Botha.

Richard Downing, ekonoom by Econodow, stem saam Mboweni is ’n uitstekende keuse.

“Mboweni het ’n goeie begrip van die wisselwerking tussen monetêre beleid en fiskale dissipline en hoe om dit sinvol te implementeer.

“Hy kan ’n baie groot bydrae maak om die ekonomie in 'n rigting te stuur wat mark-georiënteerd is.

Downing sê boonop ken Mboweni en Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, mekaar goed en behoort hulle goed saam te werk.

Uitdagings

Die grootste uitdaging wat die ekonome glo Mboweni in die gesig staar is nie die mediumtermynbegrotingsrede (MTBR) nie, maar eerder wat daarop volg.

Al die ekonome wys daarop dat dié MTBR op 24 Oktober in die parlement voorgelê sal word en die span in die tesourie dit waarskynlik reeds afgehandel het.

Botha meen Mboweni se eerste taak gaan wees om kredietgradeerders, en spesifiek Moody’s Investor Service, gelukkig te hou.

Moody’s is tans die enigste van die drie groot gradeerders wat nóg nie die land se kredietgradering afgegradeer het tot wat as rommelstatus verwys word nie.

“As ons net ons beleggingsgraadstatus kan behou dan kan ons van volgende jaar met bietjie geluk weer ordentlik begin groei. As ons ons beleggingstatus verloor kan dit ons met ’n dekade terugsit wat betref ekonomiese groei.

“Hy moet alles in sy vermoë doen om kredietgradeerders gelukkig te hou.”

Harmse sê buiten om kredietgradeerders gelukkig te hou, gaan hy ook ’n plan moet maak met die skuldlas van die regering.

“Hy kan nie meer belasting verhoog nie. Veral nie die melkkoei oftewel die brandstofheffing nie. Nie ses maande voor die verkiesing nie.

“Hy sit nou met die staat se tjekboek in die hand.

“Hy gaan veral moet kyk na besteding by staatsondernemings.”

Ramaphosa se keuse

Downing sê wat vir hom uitstaan is dat Ramaphosa besef het wat die moontlike invloed op die ekonomie kon wees sou hy Nene nie laat gaan het nie.

“Dit wys vir ons hy verstaan dat die vorige minister sy geloofwaardigheid ingeboet het.

“Ons moet ons hoed afhaal hy het wel erken wat gebeur het.

“ ’n Mens sal graag wil hê daar moet meer duidelikheid kom oor wat die betrokkenheid van mense by staatskaping was.

“Dit was ’n baie goeie besluit om iemand aan te stel wat sover dit bekend is, ’n skoon agtergrond het.

“Dit is egter noodsaaklik om verder en dieper kyk dat daar nie weer gerugte ontstaan oor kabinetslede wat weer onsekerheid kan veroorsaak nie.”

Prof. Jannie Rossouw van Wits sê Mboweni is ’n goeie aanstelling want hy verstaan die wisselwerking tussen die tesourie en die Reserwebank, en kom ook goed oor die weg met Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings.

Rossouw het ook lof en die hoogste respek vir Nhlanhla Nene. Dit gee ’n nuwe toon aan en stel ’n voorbeeld vir ministers om te bedank as hulle skeefgetrap het pleks van om aan hul poste te klou.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.