Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Ekonome méér optimisties as tesourie oor SA groei
Die 30 ekonome wat aan Sake se Ekonoom van die Jaar-wedstryd deelneem, is optimisties oor ekonomiese groei. Grafika: Pixabay

Ekonome wat aan die Ekonoom van die Jaar-wedstryd deelneem, is meer optimisties oor die land se ekonomiese groei as die Wêreldbank én die tesourie.

Hul konsensus-voorspelling is ’n groeikoers van 1,62% in 2018 teenoor die Wêreldbank se 1% en die 1,5% wat Malusi Gigaba, voormalige minister van finansies, in sy begrotingsrede in Februarie voorspel het.

Die 30 ekonome wat aan Netwerk24, Beeld, Die Burger, Rapport en Volksblad se Ekonoom van die Jaar-wedstryd deelneem, moet elke maand voorspellings oor 14 ekonomiese veranderlikes doen.

Die voorspellings word dan deur prof. Eon Smit, voormalige direkteur van die Universiteit Stellenbosch se Bestuurskool, in ’n konsensusraming verwerk.

Dit gee lesers ’n goeie idee van wat die ekonome verwag in die jaar met die ekonomie gaan gebeur.

Die eerste stel voorspellings vir vanjaar is reeds vóór Gigaba se begrotingsrede afgehandel. Gigaba is sedertdien deur Nhlanhla Nene as minister van finansies vervang.

Ekonomiese groei in 2018

Statistieke Suid-Afrika (SSA) het op 6 Maart die jongste beskikbare data oor die bruto binnelandse produk (BBP) bekend gemaak.

Die BBP het in die vierde kwartaal van 2017 met 3,1% op ’n kwartaalgrondslag gegroei – die sterkste groei sedert die tweede kwartaal van 2016.

Dié stewige groeikoers het gehelp om die BBP-groeikoers vir 2017 tot 1,3% te verhoog, heelwat stewiger as die 0,6% in 2016 en ook meer as die voorspellings vir 2017 van minder as 1%.

Die ekonome se positiewe verwagtinge is dus in ooreenstemming met wat die amptelike syfers begin toon.

Vir 2019 voorspel hulle groei van 1,97%.

Tekort op lopende rekening

Die beter ekonomiese groeikoers wat hulle verwag, word ook weerspieël in hul verwagtinge oor die tekort op die lopende rekening.

Ekonome verwag ’n tekort van R93,46 miljard. Dit is aansienlik beter as die R119,10 miljard wat die ekonome wat aan die 2017-wedstryd deelgeneem het, voorspel het.

Dié tekort moet met die invloei van buitelandse kapitaal gefinansier word wat ’n probleem sal wees as die internasionale kredietgraderingsagentskappe Suid-Afrika se kredietgradering verder verlaag.

As dit gebeur, sal dit daartoe lei dat baie buitelandse beleggingsfondse volgens hul mandaat dan nie meer in Suid-Afrikaanse staatseffekte belê mag wees nie.

Moody’s Investors Service, die enigste agentskap wie se gradering nog op beleggingsgraad is, maak na verwagting op 23 Maart sy besluit oor Suid-Afrika se kredietgradering bekend.

Wisselkoers

Die rand het 2018 op ’n drafstap afgeskop, veral nadat Cyril Ramaphosa einde Desember eers tot ANC-president verkies is en in Februarie ook die land se president geword het.

Sy kabinetskommeling, waarin hy Nene weer as minister van finansies en Pravin Gordhan, voorheen ook minister van finansies, as minister van openbare ondernemings aangestel het, is wyd verwelkom.

Die rand het vanjaar reeds met sowat 4% tot R11,89 teenoor die dollar verstewig.

Die ekonome voorspel egter dat die rand in die laaste kwartaal van die jaar weer tot meer as R12 gaan terugsak en teen sowat R12,55 gaan verhandel.

Inflasiekoers

Goeie nuus vir verbruikers is dat ekonome verwag die inflasiekoers gaan vanjaar op 4,86% wees. Dit stem ooreen met die huidige koers.

Die SSA het in Februarie aangekondig die inflasiekoers was in Januarie 4,4% – die laagste sedert die 4% van Maart 2015.

Dit beteken inflasie is nou amptelik onder die middel (4,5%) van die Reserwebank se teikenband van tussen 3% en 6%.

Die Reserwebank plaas die laaste tyd klem daarop dat hy die inflasiekoers in die middel van die band wil hê voordat hy dit sal oorweeg om die rentekoers te verlaag.

Rentekoers

Die konsensusvoorspelling is dat die prima rentekoers van handelsbanke in die laaste kwartaal van die jaar op 9,94% gaan wees. Dit is tans op 10,25%.

Die Reserwebank het in Januarie aangekondig hy hou vir eers die repokoers op 6,75%. 

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het gesê die repokoers is onveranderd gelaat omdat die risiko te groot is dat Suid-Afrika se staatskuld in Februarie of Maart afgegradeer gaan word.

Die Reserwebank besluit weer op 28 Maart oor die rentekoers, nadat Moody’s sy oordeel uitgespreek het.

Meer oor:  Rentekoers  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Inflasie  |  Bbp  |  Inflasiekoers  |  Ekonoom Van Die Jaar  |  Reserwebank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.