Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Ekonome: Rentekoers ‘sal onveranderd bly’

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank Foto: Argief

Die Reserwebank gaan waarskynlik Donderdag die repokoers onveranderd laat.

So voorspel die meeste van die 15 ekonome wat aan Netwerk24 se peiling hieroor deelgeneem het. Van hulle verwag 67% dit gaan onveranderd bly en 33% meen dit kan wel met 0,25 persentasiepunt verlaag word.

As die minderheid in die kol is en Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, wel die repokoers verlaag, sal dit na aan ’n historiese laagtepunt wees.

Die repokoers is tans 3,5% en die prima rentekoers van banke 7%.

As die repokoers met 0,25 persentasiepunt verlaag word, sal dit dus 3,25%, met ’n prima koers van 6,75%, wees.

Die laagste wat die repokoers nóg was, was 3,15% in September 1973. Dit is vandeesmaand presies 47 jaar gelede.

Jeff Schultz, ekonoom van BNP Paribas, is een van die ekonome wat meen die Reserwebank gaan tog sy uitleenkoers met nog 0,25 persentasiepunt snoei.

Hy sê die drastiese inkrimping in die ekonomie in die tweede kwartaal behoort genoeg motivering hiervoor te wees.

Statistieke Suid-Afrika het onlangs bekend gemaak dat die bruto binnelandse produk (BBP) in die tweede kwartaal op ’n kwartaalgrondslag en geannualiseer met 51% ingekrimp het – teenoor die 40% wat die Reserwebank verwag het.

Schultz sê die onlangse vlaag beurtkrag laat ook twyfel oor die groeiverwagtinge ontstaan.

rentekoerse

Dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer by die Optimum Beleggingsgroep, meen ook in die lig van die slagting in die tweede kwartaal is daar genoeg ruimte vir ’n koersverlaging.

“Dit is uit die skerp daling in die tweede kwartaal se BBP duidelik dat daar hoegenaamd geen gevaar van vraagkant-inflasie in Suid-Afrika bestaan nie, maar dat werkloosheid wel ’n gevaar vir maatskaplik-politieke stabiliteit inhou. Teen hierdie agtergrond is die logiese stap om die repokoers verder te verlaag en sodoende die koste van krediet ook te verlaag en vraag in die ekonomie te stimuleer,” sê hy.

Dawie Klopper, beleggingsekonoom van PSG Wealth, meen egter hoewel die mark verwag dat die Reserwebank tog die koers weer gaan verlaag, sal dit onveranderd bly.

Hy dink die bank gaan eerder wag en kyk wat die invloed van vorige verlagings is, asook wat in die volgende maand of wat met inflasie gaan gebeur voordat hy weer ’n koersverlaging oorweeg.

Elize Kruger, ’n onafhanklike ekonoom, dink ook die Reserwebank gaan eers die kat uit die boom kyk. “Na my mening is die rentekoerssiklus baie na aan sy onderste draaipunt,” sê sy.

Elna Moolman, senior ekonoom by Standard Bank, sê hoewel die ekonomie “geweldig swak” is, wat “enige verantwoordelike beleidsondersteuning regverdig”, het die Reserwebank reeds koerse baie aggressief gesny.

“Dit kan moontlik voordeliger vir die ekonomie wees as die Reserwebank rentekoerse op die huidige baie lae vlak kan hou as om ’n marginale verlaging in te stel wat waarskynlik nie volhoubaar sal wees nie en dus kort voor lank weer omgekeer sal moet word,” sê sy.

Kganyago maak Donderdag om 15:00 die bank se besluit oor die repokoers bekend.

Meer oor:  Rentekoers  |  Lenings  |  Ekonomie  |  Skuld  |  Repokoers  |  Reserwebank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.