Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Ekonome skets al hoe donkerder prentjie vir 2018

Daar is maar min optimisme onder deelnemers aan die Ekonoom van die Jaar-wedstryd oor ekonomiese groei vanjaar (sien grafika hieronder).

Hul konsensus-voorspelling daal sedert Junie elke maand en is vir November 0,85%. Die mees optimistiese ekonoom is Francois Stofberg van Efficient Group wat nog groei van 1,8% verwag, en die mees pessimistiese ekonoom is Abri du Plessis van Gryphon wat 0% verwag.

“Dit is opmerklik hoe die ekonome die afgelope maande hul vooruitsigte voortdurend laer afgepas het,” sê prof. Eon Smit, voormalige direkteur van die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool (USB), wat die ekonome se voorspellings elke maand in ’n konsensusraming verwerk.

Die tesourie het sy verwagting vir ekonomiese groei vir 2018 meer as gehalveer sedert Februarie se begrotingsrede. In die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) van 24 Oktober word voorspel dat die ekonomie vanjaar met net 0,7% gaan groei, teenoor die 1,5% wat in Februarie voorspel is.

Ekonome het tot 31 Oktober tyd gehad om hul vooruitsigte vir November in te dien. Die meeste het dit egter reeds vóór 24 Oktober gedoen, wat beteken hulle net nog nie die MTBR se ramings onder oë gehad nie.

Die ekonome se groeiverwagtinge is ook al hoe nader aan die laer grens wat die kredietgradeerder Moody’s Investors Service verwag. Moody’s verwag groei van tussen 0,7% en 1% vir vanjaar.

Rand

Die ekonome het ook hul vooruitsigte vir die rand laer aangepas nadat die geldeenheid in September beduidend teenoor die Amerikaanse dollar verswak het.

Hul konsensusvoorspelling is nou dat die rand in die laaste kwartaal van die jaar teen gemiddeld R14,02 teenoor die dollar gaan verhandel.

Hoewel die rand reeds geruime tyd teen bó R14 per dollar verhandel, is dit die eerste keer dat die konsensusraming hoër as R14 per dollar is. Die rand verhandel tans teen sowat R14,50 teenoor die dollar.

R14,02: Die gemiddelde vlak waarop ekonomie verwag dat die rand dié kwartaal teenoor die dollar gaan staan.

Eweneens is hul verwagtinge vir die rand-euro-wisselkoers vir die eerste keer bo R16 per euro. Die konsensusraming is nou R16,17.

Inflasie

Hul verwagtinge oor inflasie bly nogtans stabiel. Die konsensus is steeds 4,88%, op dieselfde vlak as in Oktober en September.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het egter op 29 Oktober in die jongste kwartaallikse monetêrebeleidsoorsig gesê die bank verwag die inflasiekoers gaan styg, en dat dit hom gaan noop om rentekoerse oor die volgende twee jaar te verhoog.

Prima rentekoers

Die bank sê hy verwag dat die repokoers teen die einde van 2020 waarskynlik tot 7,7% gaan styg. Dit is tans 6,5%.

Die prima uitleenkoers is tans 10%.

Die ekonome se konsensusvoorspelling vir die laaste kwartaal is steeds 10,07%.

Tekort op die lopende rekeninig

Ekonome se verwagtinge oor die tekort op die lopende rekening verswak steeds. Dit is nou op R172 miljard, nadat dit in Februarie op R93,46 miljard was. Die verwagte tekort het sedertdien elke maand toegeneem.

Die 30 ekonome wat aan Netwerk24, Beeld, Die Burger, Rapport en Volksblad se Ekonoom van die Jaar-wedstryd deelneem, moet elke maand voorspellings vir 14 ekonomiese veranderlikes doen.

Dit gee ’n goeie riglyn van wat in die ekonomie kan gebeur en verbruikers en sakeondernemings kan dit in hul beplanning gebruik.

Só lyk ekonomie se voorspellings nou.
Meer oor:  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Rand  |  Ekonoom Van Die Jaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.