Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Staat het min beweegruimte, sê Moody's
Die Uniegebou in Pretoria. Foto: Wikipedia

Die opgeblase salarisrekening van die staat is die eerste plek waar staatsdepartemente moet begin sny aan uitgawes, sê ekonome.

Dit is in reaksie op die nuus dat die nasionale tesourie aan departemente voorskryf dat hulle hul begrotings vir volgende jaar met 5% moet sny, en vir die twee jare daarna met onderskeidelik 6% en 7%.

Dit is vervat in riglyne wat die tesourie aan departemente gestuur het in aanloop tot die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) in Oktober.

Die kredietgraderingsagentskap Moody’s het gisteraand in reaksie op die tesourie se besnoeiingsriglyne gesê die regering het baie min beweegruimte. Hy verwag die regering sal probeer om die vervroegde reddingsboeie aan Eskom te absorbeer deur nuwe inkomste- of bestedingsmaatreëls by die mediumtermynbegroting aan te kondig. Die sny van departementele begrotings is volgens Moody’s een van die opsies. 

Die staat se salarisse vreet 45% van die regering se inkomste uit belasting op, so enige besuiniging sal net moontlik wees as die departemente by salarisse begin, sê prof. Jannie Rossouw van die Universiteit van die Witwatersrand se Skool vir Sakewetenskappe.

Die manier waarop departemente dit kan doen, is ’n moratorium op enige nuwe aanstellings en moontlik ook ’n moratorium op bevorderings.

“Hulle sal die salarisrekening móét besnoei as hulle hierdie mikpunte wil haal.”

Die staatsdiensvakbonde sal beslis hul verwagtings vir verhogings van hoër as die inflasiekoers moet afskaal, maan hy.

Mediumtermynbegrotingsraamwerk

Rossouw sê hy aanvaar die voorgestelde besnoeiings van 5%, 6% en 7% is teenoor die nominale begrotingsyfers in die huidige MTBR. As vanjaar se gemiddelde inflasiekoers van 4% tot 4,5% in ag geneem word, beteken dit die eerste jaar se besnoeiings sal in reële terme die begrotings onveranderd laat.

Maar die MTBR is gegrond op verwagte ekonomiese groei van 1,5% vanjaar, 1,8% volgende jaar en 2,1% die jaar daarna. Dit is reeds toenemend duidelik dat die Suid-Afrikaanse ekonomie nie daardie soort groeisyfers gaan haal nie, en dus gaan belastinginkomste nie dienooreenkomstig groei nie. Die staat kan gewoon dus net nie meer selfs die begrote besteding oor die volgende drie jaar bekostig nie, en dit impliseer Suid-Afrikaners kan minder dienslewering verwag, waarsku Rossouw.

Kabinet en Cyril se steun nodig

Die besnoeiing waarna die tesourie mik, sal net kan realiseer as die kabinet dit voluit steun en “as pres. Cyril Ramaphosa van sy stoel in die Uniegebou opstaan en begin regeer”.

“Ons kan nie langer ’n president bekostig wat per afstandbeheer regeer nie,” sê Rossouw.

LEES OOK: Ekonome sien g'n silwer randjie vir ekonomie

Die besnoeiings kan impliseer dat Suid-Afrikaners minder van die regering se “burokratiese ooraanbod” sal sien. Die staatsburokrasie meng soveel in by allerhande goed in die ekonomie, en as besnoeiings gedoen moet word, sal die regering bloot nie die hele burokratiese stelsel van inmenging in stand kan hou nie, meen hy.

Hy waarsku egter besnoeiings sal ook ’n invloed op provinsies hê, want sowat R400 miljard van die begroting gaan jaarliks na provinsiale owerhede.

Maarten Ackerman, beleggingstrateeg by Citadel, sê die tesourie se riglyne vir snywerk is ’n stap in die regte rigting en stuur die regte boodskap uit. Maar dit sal baie moeilik wees om uitgawes aggressief te sny as belastinginkomste weens trae ekonomiese groei nie styg nie.

Waar kan oral gesny word?

Ackerman meen benewens die ooglopende luukses soos buitelandse reise, onthaal en voertuie waaraan gesny kan word, bied salarisse die grootste ruimte vir besnoeiing. Kredietgraderingsagentskappe waarsku al lank oor die staat se opgeblase salarisrekening.

Die onafhanklike ekonoom Mike Schüssler verwag op sy beurt departemente sal aan kapitaalprojekte kan sny, soos bouprojekte, nuwe rekenaars en voertuie. Besnoeiing aan aankope en infrastruktuur sal moet kom, soos minder aankope van skoolboeke, rekenaars, minder nuwe hospitale wat gebou word, en minder nuwe lakens en beddens wat aangekoop word.

Die polisie kan dalk besluit om te sny aan die private veiligheidskontrakteurs wat aangestel is om sommige polisiekantore te beskerm.

Daar is by vorige begrotings reeds aan reise gesny, en as verder daaraan gesny word, sal dit ook die Suid-Afrikaanse Lugdiens raak, verwag Schüssler. Daar kan besluit word om minder aan oortydvergoeding vir die weermag, polisie en die howe te bestee.

Afgradering afgeweer?

Schüssler is skepties daaroor dat enige besnoeiing genoeg sal wees om ’n afgradering deur Moody’s af te weer. Die besnoeiings sal ekonomiese groei negatief raak en skuldvlakke is reeds kommerwekkend. Daar is scenario’s waar die staatskuld teen 2023 reeds ver meer as 80% van die bruto binnelandse produk kan beloop, maan hy.

Rossouw glo egter as die besnoeiings wel realiseer, sal dit help om ’n fiskale afgrond en ’n afgradering deur Moody’s tot rommelstatus af te weer.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Staatsamptenare  |  Ekonomie  |  Staatskuld  |  Salarisse  |  Minister Van Finansies  |  Tesourie  |  Mtbr
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.