Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Ekonome verwag nou minder as 1%-groei

Die vooruitsigte vir Suid-Afrika se ekonomiese groei vanjaar raak ál donkerder.

ekonomie
Die ekonomie sal in die oorblywende drie kwartale teen minstens 2,5% per kwartaal moet groei as die land ’n groeikoers van 1% in 2019 wil bereik. Grafika: Pixabay

Vir Junie is die konsensusvoorspelling van die 38 ekonome wat aan die Ekonoom van die Jaar-kompetisie deelneem 0,8%.

Hulle het tot dusver in elke maand se voorspelling hul vooruitskatting afgeskaal – van 1% in Mei, 1,14% in April en 1,27% in Maart.

Hul voorspelling is steeds laer as wat die tesourie (1,5%), die Reserwebank (1%) en die kredietgraderingsagentskappe Moody’s (1,3%) en Standard & Poor’s Global Ratings (1,6%) voorspel.

Die standaardafwyking op dié voorspelling is ’n skamele 0,49, wat wys ekonome stem oor dié lae groeivooruitsig saam.

Die ekonoom wat die minste hoop vir die ekonomie het, is Fanie Brink, ’n onafhanklike ekonoom, wat nou ’n inkrimping van 1,5% voorspel.

Hoewel die ekonome tyd gehad het tot nadat Statistieke Suid-Afrika (SSA) sy jongste syfers vir die bruto binnelandse produk (BBP) op 4 Junie bekend gemaak het, het net sowat ’n derde hiervoor gewag voordat hulle hul Junie-voorspelling ingedien het.

Bykans al die ekonome wat wel gewag het, het hul verwagting vir ekonomiese groei afwaarts aangepas.

Luidens SSA het die ekonomie in die eerste kwartaal op ’n kwartaalgrondslag met 3,2% gekrimp.

Maarten Ackerman, hoofekonoom van Citadel, het onlangs aan Rapport gesê die ekonomie sal in die oorblywende drie kwartale teen minstens 2,5% per kwartaal moet groei, as die land ’n groeikoers van 1% in 2019 wil bereik.

LEES OOK: BBP-skok: Min tyd om ekonomie se ratte te olie

Die ekonome wat aan Netwerk24, Beeld, Die Burger, Rapport en Volksblad se Ekonoom van die Jaar-kompetisie deelneem, moet elke maand voorspellings oor 14 ekonomiese veranderlikes maak. Dit gee ’n goeie riglyn van wat in die ekonomie kan gebeur en verbruikers en sakeondernemings kan dit in hul beplanning gebruik.

Benewens ekonomiese groei, het ekonome ook ander aanpassings gedoen wat ’n groeiende pessimisme oor die ekonomie weerspieël.

Die nuwe voorspellings is:

  • Rand-dollar-wisselkoers – van R14,09 (konsensus in Mei) tot R14,22 (konsensus in Junie) (0,52 – standaardafwyking). In Januarie was die konsensus nog R13,80.
  • Rand-euro-wisselkoers – van R16,01 tot R16,15 (0,48). Januarie: R15,89.
  • Goudprys – van $1 315,88/fynons tot $1 321,33/fynons (63,06).
  • Platinumprys – van $878,44/ons tot $868,39 (65,18).
  • Inflasiekoers – van 4,93% tot 4,82% (0,31).
  • Olieprys – van $68,33/vat tot $67,88/vat (3,27).

Goeie nuus is dat ekonome hul vooruitsigte vir die prima rentekoers effens laer tot op 10,21% aangepas het.

Die Reserwebank se monetêrebeleidskomitee het op sy Mei-vergadering die repokoers onveranderd op 6,75% gelaat, maar twee van die vyf lede van die MBK was ten gunste daarvan dat die repokoers met 0,25 persentasiepunt verlaag word.

Hoewel ekonome steeds uiteenlopende verwagtinge oor die tekort op die lopende rekening het, word die standaardafwyking al hoe kleiner. Die konsensusvoorspelling is nou ’n tekort van R163,92 miljard, teenoor R164,57 miljard in Mei en R165,71 miljard in April.

Die standaardafwyking het van die 28,75 in Februarie tot 17,54 tans gedaal.

Die grootste tekort wat ’n ekonoom verwag, is steeds R200 miljard, net soos wat die geval in Mei was. Die laagste verwagting in Junie is ook steeds R112 miljard.

ekonomie
Meer oor:  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Rand  |  Ekonoom Van Die Jaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.