Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Ekonome verwag ook nou groei van minder as 1%
Die vooruitsig vir die Suid-Afrikaanse ekonomie lyk nie belowend nie. Foto: Getty Images

Deelnemers aan die Ekonoom van die Jaar-wedstryd het vir die eerste keer vanjaar groei van minder as 1% vir 2018 voorspel.

Die konsensusvoorspelling in Oktober is 0,97%, wat beduidend laer as die konsensusvoorspelling van 1,34% in September is.

Prof. Eon Smit, voormalige direkteur van die Universiteit Stellenbosch se Bestuurskool, wat die ekonome se voorspellings elke maand in ’n konsensusraming verwerk, sê dit is opvallend hoe pessimisties ekonome nou is.

Die groep van 30 ekonome pas al sedert die begin van die jaar hul voorspellings oor die rand, ekonomiese groei, die prys van sekere hulpbronne en die saldo op die lopende rekening al hoe laer aan.

Oktober se voorspellings is die eerste sedert Statistieke Suid-Afrika (SSA) vroeg in September bekend gemaak het dat die land in ’n tegniese resessie is.

Dit kom ná twee opeenvolgende kwartale van ekonomiese inkrimping op ’n kwartaalgrondslag.

In Mei het ekonomie nog ekonomiese groei van 1,8% vir 2018 verwag.

Die ekonome se vooruitsig is nou meer in pas met dié van Moody’s Investors Service, een van die drie groot kredietgraderingsagentskappe, wat twee dae nadat SSA die nuwe groeisyfers aangekondig het, ook sy groeiverwagtinge vir Suid-Afrika verlaag het.

Moody’s verwag nou dat die ekonomie vanjaar met tussen 0,7% en 1% gaan groei.

Die ekonome het ook hul vooruitsigte vir die rand aangepas nadat die geldeenheid in September beduidend teenoor die Amerikaanse dollar verswak het.

Hul konsensusvoorspelling in Oktober is dat die rand in die laaste kwartaal van die jaar teen gemiddeld R13,85 teenoor die dollar gaan verhandel teenoor die R13,42, wat hulle in September voorspel het.

Die rand verhandel tans teen meer as R14 teenoor die dollar.

Hulle verwagtinge vir die rand-euro-wisselkoers teen die einde van die jaar raak ook swakker. In Oktober is die konsensusvoorspelling gemiddeld R15,99 per euro in die laaste kwartaal teenoor die konsensus van R15,56 in September.

Ekonoom van die Jaar se tabel

Die ekonome het ook nie juis positiewe verwagtinge vir hulpbronpryse nie.

Aan die een kant is die voorspelling vir die gemiddelde olieprys in die laaste kwartaal van die jaar hoër as wat dit aan die begin van die jaar was, en aan die ander kant is hulle minder optimisties oor die goud- en platinumprys.

Die konsensusvoorspelling in Oktober is dat die olieprys in die laaste kwartaal gemiddeld $76,53 per vat gaan wees; hoër as die konsensusvoorpelling van $74,00 per in September.

Suid-Afrikaners het in die eerste week van Oktober reeds die hoër olieprys en swakker rand aan hul sak gevoel toe die petrolprys vir die eerste keer bo R17 per liter gestyg het.

Die ekonome het in April en Maart nog ’n gemiddelde platinumprys vir die laaste kwartaal van die jaar van meer as $1 000 per ons verwag. In Oktober het die konsensusverwagting tot $868,71 per ons teruggesak.

Die verwagting is nou dat goud in die laaste kwartaal van die jaar teen gemiddeld $1 244,79 per fynons gaan verhandel.

In Julie was die konsensusvoorspelling nog $1 309,93 per fyn­ons.

Die ekonome se inflasieverwagting bly egter stabiel.

Die konsensus is steeds 4,88%, op dieselfde vlak as in September.

Die konsensusvoorspelling vandeesmaand is dat die prima rentekoers van handelsbanke in die laaste kwartaal van die jaar 10,07% gaan wees. Dit is effens hoër as die 10,04% wat in Augustus en September verwag is.

Die prima rentekoers is tans 10%.

Die 30 ekonome wat aan Netwerk24, Beeld, Die Burger, Rapport en Volksblad se Ekonoom van die Jaar-wedstryd deelneem, moet elke maand voorspellings vir 14 ekonomiese veranderlikes doen.

Dit gee ’n goeie riglyn van wat in die ekonomie kan gebeur en verbruikers en sakeondernemings kan dit in hul beplanning gebruik.

Meer oor:  Ekonoom Van Die Jaar  |  Ekonome
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.